johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Archive for the category “Boland”

Die Stormagtige geboorte te Bellevue

Dit was skynbaar Dawid se vader wat na die posmeester se huis gehardloop het om hom te vra om ’n plan te maak.

Dis nie dat die verwagtende vroue van vandag dit maklik het voor, tydens en na hul bevalling nie, maar in 1932 was dit ’n totaal ander saak. Nog vêrder terug in die geskiedenis was dit natuurlik in die meeste gevalle ’n nagmerrie maar in 1932 was daar ook die nuwe tegnologie waarmee rekening gehou moes word en dit kon nogal hoofbrekens besorg aan almal wat betrokke was by die bevalling.

Dawid Edward Hugo NAUDE het op 10 Februarie 1932 vroegaand al aangedui dat hy gereed is om die werklike lewe te ontmoet. Maar nie almal en alles daarbuite in Franschhoek was al gereed vir hom nie. Dit was ’n stormagtige Bolandse weer met gepaardgaande donders en bliksems wat veroorsaak het dat die telefoonlyne tussen Franschhoek en die Paarl afgeruk is. Daar moes dringend met die dokter in die Paarl kontak gemaak word en die telefoon was die enigste kommunikasiemiddel vir die gewone burger. Óf Dawid se verwagtende moeder, Jacoba Hofmeyer DU TOIT óf sy vader, Pierre Olivier Hugo NAUDÉ , het teenwoordigheid van gees behou en dadelik besluit dat die posmeester die enigste een is wat hierdie noodsituasie sou kon oplos.

Dit was skynbaar Dawid se vader wat na die posmeester se huis gehardloop het om hom te vra om ’n plan te maak. Die posmeester, ene Thomas William DE SMIDT, was in daardie stadium besig om homself te skeer, maar met die aanhoor van die probleem, het hy dit dadelik gelos en hom gehaas na die poskantoor. Inderhaas het hy die oproep met ’n ompad herlei na die Paarl.

Dr. Frans P BESTER wat seker gewoond was daaraan om enige tyd van die dag of nag en in enige weerstoestande hierdie soort van oproepe te ontvang, het dadelik vir verpleegster L ROSENSTRAUCH opkommandeer en saam is die twee toe daar weg oppad na Bellevue, die huis van die verwagtende ouers. Hulle sou eers meer as ’n uur later daar opdaag. Intussen het die bure van die NAUDÉs , die CILLIERS van Windsor House, vir Jacoba geselskap gehou en ondersteun. Dit was veral mev. CILLIERS wie se hartlikheid lank daarna deur Jacoba nog onthou was.

Dit was egter eers om 2:30 die volgende oggend dat die NAUDEs se eerste seun die lewenslig aanskou het en sy “…maiden song to mankind echoed and re-echoed through the long silent halls of Bellevue.”  So skryf sy moeder kort na sy geboorte in ’n kort opstel met die titel “Our Son.” 

In hierdie kort geskrif van haar, verskaf Jacoba baie inligting van die mense rondom haar, maar slegs van die mense buite die huis. Haar eersgeborene se naam word nie genoem nie, ook nie die van haar man of haarself nie. Gelukkig meld sy die familienaam toe sy skryf: “With what anxiety did your grandma Naudé and dad wait for that song and what joy filled our hearts…” En vêrderaan  maak sy die deur se skrefie vêrder oop  as sy sê: “…little bundle who was responsible for all the stir of anxiety and joy, the first Naudé had been born at Bellevue…”

Gewapen met die familienaam en die geboortedatum, deursoek ek die NAUDÉ genealogie in Volume N van GISA se Suid-Afrikaanse families en ek spoor een op wat in 1932 in Franschhoek gebore is. Maar slegs die jaartal word verskaf. Ek stel vas dat Bellevue deesdae The Garden House heet. Die eienaar van hierdie pragtige gastehuis verras my met ’n nota wat sy besit waarop geskryf is dat NAUDÉs  in ’n stadium eienaars van die huis was.  Daarna wend ek my tot mev. Juna Malherbe van die Hugenote  Vereniging. Sy bevestig die adres van die huis en sy deel my mee dat ene David Francois NAUDÉ omstreeks 1881 verantwoordelik was vir die oprigting van die huis op erf 55 in De Wet straat.

Vervolgens stel Juna met behulp van die NAUDÉ genealogie  vas dat hierdie David Francois Naudé ’n kleinseun gehad het met die naam van David Edward Hugo Naudé en hy is gebore op dieselfde dag as die een wat die nuwe moeder so pragtig besing het in haar opstel. Op dieselfde wyse kon sy dus ook vasstel wie die ouers van die eersgeborene was. ’n Vêrdere interessantheid is die feit dat Pieter Hugo NAUDÉ,  die wêreldbekende skilder kunstenaar, ’n halfbroer is van David Edward Hugo NAUDÉ se vader, Pierre Olivier Hugo NAUDÉ.

David Edward se moeder  is die dogter van Hendrik Petrus Büchner DU TOIT en Francina Aletta VAN DER SPUY. David Edward Hugo Naudé trou later met Patricia Ann POOLE en hulle het drie kinders , naamlik Christopher Frederick, André David  en Pierre Harvey. André David sterf in 1980 in die Angola-Bosoorlog.

Die ander rolspelers op hierdie stormagtige nag was die CILLIERS gesin, die verpleegster wat die dokter bygestaan het, verpleegster L ROSENSTRAUCH en dan dr. Frank P BESTER.

Mariana OLIVIER wat navorsing oor die CILLIERS familie doen, is heel waarskynlik reg as sy aandui dat die “Mr. and Mrs. JD CILLIERS” wat Jacoba in haar skrywe meld dalk dieselfde mense is as Jacob Daniel CILLIERS*1892  en Eadie Violet FULLER wat in Franschhoek getroud is en kinderloos was. Hulle was dalk net so opgewonde oor die nuwe aankomeling soos Jacoba en die res van die NAUDÉ  juis omdat hulle kinderloos was en dalk elke nuwe baba in die straat se koms met ewe groot opgewondenheid afgewag het saam met die ouers.

In die 1931 kieserslys van die Paarl kon ek ’n paar manspersone opspoor met die van ROSENSTRAUCH, almal grofsmede of wamakers, asook  getroude vroue met  dieselfde van.  Onder die vroue met die nooiensvan van ROSENSTRAUCH, kon ek slegs een opspoor en sy was ene Louise Henrietta. Haar beroep word aangedui as ‘huiswerk’ maar  sy kon moontlik ook as vroedvrou opgetree het in die gemeenskap.

   Dr. Frans P. Bester by sy motor in 1914 (Foto: Drakenstein Heemkring)

                                                               

Dokter Frank (Frans) Petrus BESTER , wonende in daardie stadium in die Hoof straat van  Paarl is gebore te Oostenwal, Langebaan op 21.8.1875 as die tweede oudste kind van Andries Jacobus BESTER en Johanna Alida MOCKE. Hy gaan aanvanklik skool in die sendingskool vir bruin mense te Paternoster  en later te Panorama, F.D. Changuion skool, Langebaan. Op 13 jarige ouderdom sit hy sy skoolopvoeding voort te Stellenbosch Gimnasium. Na hy die intermediêre BA eksamens aan die Victoria Kollege afgelê het, vertrek hy na die universiteit van Edinburgh, Skotland  waar hy in 1898 die grade M.B. Ch.B verwerf.  Nadat hy ’n jaar se praktiese ervaring as mediese dokter opgedoen het aan verskeie hospitale in Birmingham en Dublin, keer hy terug na Suid-Afrika en open ’n praktyk in Porterville. Hy word ook aangewys as ’n addisionele dokter te Piketberg.

Tydens die uitbreek van die Anglo Boereoorlog skaar hy hom aan die kant van die Britse magte, onder andere as inligtingsoffisier en kommandant van die dorpswag. Hierdie optrede van hom sou die vinnige agteruitgang van sy praktyk beteken en hoewel dit later weer beter sou gaan, vestig hy hom in die Paarl 1911 waar hy die mediese beampte van die Spoorweë word en later in 1912 aangestel word as die distriksgeneesheer van die Paarl  en mediese beampte van die La Motte bosbou nedersetting in 1914.

In latere jare tot en met sy aftrede in 1951 was hy in verskillende hoedanighede  betrokke by die mediese beroep organisasies. Hy was ook ’n ywerige korrespondent in die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif waarin hy soos volg skryf:

To the Editor: I have been worried over the Editorial of 2 July where to my mind most unjustified attacks were made against the S.A. Medical and Dental  Council, and I hasten to agree and endorse every word written by my old colleague, DL H. A. Moffat, and published  under correspondence in the Journal of 20 August. During the five years that I served as a member of the S.A. Medical and Dental Council, I was practically the only man representing the Country  and General Practitioners, and I was always conscious of the very definite and impartial attitude taken up by the members in all the complaints that came before us. We were, as the Council is now, guided in our findings by an eminent K.C., and never was there any spirit of victimization of the accused. There can be no doubt that criticisms, as published in the Editorial of the Journal of 2 July, are derogatory to the standing of the Council, and can only be of irreparable damage to the profession as a whole.

Frank P Bester, P.O. Box 206 Paarl, 24 August 1949

Bronne:

Beyers, C.J. et al., Dictionary of South African Biography, Volume V, Human Research Council, Pretoria, 1887.

Drakenstein Heemkring

GISA, Suid-Afrikaanse Families, Volume N, Stellenbosch, 2011.

GISA, Suid-Afrikaanse families, Volume T, Stellenbosch, 2011.

Kieserslys vir Paarl, Staatsdrukker, 1931.

Malherbe, Juna, Hugenote Museum, Franschhoek.

Olivier, Mariana, CILLIERS navorsing

SA Medical Journal, 17.9.1949

© 2021 Johann H Claassen

Koue Boland

Vir die wat wonder hoekom my Blog @Hemelrood genoem word; dit was die plaas se naam waar my stamvader gaan boer het pas nadat hy sy burgerskap verkry het in 1734. Die plaas is geleë in Herbertsdale en is trouens die plaas waarop die dorp uitgelê is. So, dis maar ‘n naam met ‘n nostalgiese verbintenis.

Die koue hier in die Boland het nou met mening toegeslaan en dis kompleet of dit hierdie jaar kouer is as verlede jaar. Die berge is in elk geval witter as verlede jaar dieselfde tyd. Maar ek werk lekkerder in die koue.

Gisteraand lekker by Petrus en Joey langs die kaggelvuur gekuier en met Guenevere gespeel – sy raak nou net ouliker by die dag!

Tans is ek besig om al die Claassen- mans en vroue in die doopregisters van die Herold gemeente aan te teken in my familie databasis. Hoop om die einde van die maand hiermee klaar te wees.

Praat môre weer verder.

Post Navigation