johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Die Pes van Petrusville

Vir eeue reeds is die mensdom geteister deur die een of ander plaag. Dink maar aan die Groot Plaag of Swart Dood soos dit algemeen bekend staan. Daar word gereken dat daar in die afgelope duisend jaar meer mense weens builepes omgekom het as in al die oorloë en rebellies saam. Skrikwekkend!

Suid-Afrika sou ook sy sporadiese uitbrake van Die Plaag gehad het. Tydens die Anglo-Boereoorlog, toe die plaag op sy felste was in Suid-Amerika en Indië, was voer vandaar deur die Britte ingevoer om hul perde van kos te voorsien. Die voer was erg deur geïnfekteerde rotte besmet en kort voor lank het al die hawestede asook Johannesburg, opgeskeep gesit met ’n builepes probleem. Dit was veral in Brickfields in Johannesburg waar die plaag buite beheer was. In 1904 was die regering genoodsaak om drasties op te tree en alle inwoners is uit die gebied verwyder. Dit was afgekamp met sinkplate en alles daarbinne was aan die brand gesteek. Duisende rotte is sodoende vernietig. Die plek was skoongemaak, nuwe erwe en strate was aangelê en sou daarna bekendstaan as Newton.

Gedurende die jare 1900-1905 was 1694 gevalle van builepes in die een of ander vorm aangemeld en 947 sterftes as gevolg daarvan, is geregistreer. Groot projekte was in al die hawestede van Suid-Afrika van stapel gestuur maar dit was veral die projek in Port Elizabeth wat aandag trek omdat baie inligting daaroor vervat is in die sogenaamde Blou Boek van die departement Openbare Werke van daardie tydperk.

Die volgende infrastruktuur is in ’n baie kort tydjie gedurende 1901/1902 in Port Elizabeth voorsien:
• Ontsmettingstoestel in Jettystraat
• Kantore vir die Plaagraad en dokters
• Slaapkwartiere vir dokters, verpleegsters en bediendes
• Akkommodasie vir blankes
• Lykshuis
• ’n Kontakkamp(met toerusting en hulpmiddels), ’n gebied wat afgesper was vir diegene wat moontlik in kontak gekom het met die infeksie.
• Die afkamping van graan voorrade by die hawe
• Akkommodasie vir swart helpers
• ’n Washuis
• ’n Ontsmettingstoestel by Lazaretto
• Behuising vir verpleegsters by Lazaretto
• ’n Dreineringstelsel by Lazaretto
• Afkampingsgebied by Lazaretto
• Aandag is ook gegee aan kleiner items soos die opstel van kaarte, die bevoorrading van die apteek, die vervaardiging van ’n dissekteertafel vir die lykshuis, wasgoedlyne, oprigting van waghuise en die aanbring van rakke waar nodig.
• Stalle vir perde
• ’n Kantoor waar toestemmingsbriewe, om die gebied te verlaat, uitgereik is
• ’n Distrikskantoor by die Mill Park woonbuurt
• ’n Verhoorafwagtende binnehof by die bestaande gevangenis
• ’n Tydelike toesluitplek by die bestaande gevangenis
• Akkommodasiekamp by Noord End
• Moniteringshutte
• Nuwe vuilput
• Stoomketels

Die verspreiding van die Pes is later so goed as kan kom onder beheer gebring en mettertyd het daar, behalwe die uitbrake in 1914 en 1938, slegs enkele geïsoleerde gevalle plaasgevind. Maar wat niemand geweet het nie is dat dit intussen versprei het na die veld, die droë gebiede van die Groot-Karoo. Die gewone Vaalveldmuis, die Springhaasrot en die Witoor-Springhaasrot was veral die sondaars maar ook die slagoffers want die infeksie was deur vlooie van die een rot/muis oorgedra aan ’n ander. En dit is ook vlooie wat dit onder andere oordra aan die mens.

Op 5 November 1928 stuur die landdros van De Aar ’n telegram aan sy departement in Pretoria. Dit lui soos volg:
Reports of rats dying in town, 24 in one garden, 6 in another. Have sent specimens to Medical Research Institute, Johannesburg. Health Inspector cremating dead rats, which are infested with fleas.

In daardie stadium was De Aar ’n klein dorpie met 1800 inwoners van wie 700 blankes. Destyds was dit ’n belangrike en besige spoorwegaansluiting met roetes na Port Elizabeth, Oos-Londen, Prieska en Suidwes-Afrika(Namibië).

Gelyklopend met die landdros se telegram was daar ook berigte in die pers van dié episoötiese siekte. Daarvolgens sou duisende siek en sterwende knaagdiere die dorp binnegestroom het en dat daar ’n groot ‘trek’ van knaagdiere van die weste na die ooste goed op dreef was. ’n Plaaslike dokter het rapporteer dat terwyl hy op pad was na De Aar hy verby duisende van hierdie knaagdiere gery het. Die munisipaliteit het dadelik groepe mense met stokke, lanterns en honde op die been gebring wat gedurende die nag moes probeer om die aantog te stuit. Amptenare waaronder dr. Laing, die assistent mediese inspekteur en Knaagdier-inspekteur Chivres het twee dae na die aanvanklike berigte in De Aar opgedaag en hoewel hulle bevind het dat van die berigte baie oordrewe was, hulle tog van mening was dat daar ’n plaag aan die ontwikkel was. Dooie rotte en muise was oral te vinde en dit was veral by die treinspore waar die tekens duidelik was dat die diere baie siek en aan’t vrekte was. Sommige het voor die spore dood gelê en ander het wel oor die eerste spoor kon kom maar het dit nie oor die tweede spoor gemaak nie.

Intussen was daar reeds twee menslike sterftes teen 17 November 1928 in die dorpie Petrusville – sewentig kilometers noord-oos van De Aar. Beide die gevalle se diagnose was bevestig deur middel van ’n na-doodse ondersoek sowel as laboratorium-toetse – builepes, die tipe met terminale longontsteking en die ander, longpes.

Die dokter wat die na-doodse ondersoeke gedoen het, was ene Donald Munro Maciver. ’n Knap medikus en briljante diagnostikus. Ongelukkig vir hom doen hy ook die siekte op. Die voorlopige diagnose word later bevestig en in die Goewermentskennisgewing van 24 November 1928 word gerapporteer dat sy toestand besig is om te verbeter en die volgende maand was hy sommer baie beter en sterk aan die herstel. Hoewel hy heeltemal herstel, verloor hy in die proses ’n oog en een van sy arms.

Dokter Maciver is op 29 Mei 1875 gebore in Stornoway, Skotland, die seun van Alexander Mackenzie Maciver en Annabella Gunn. In 1898 studeer hy aan die Universiteit van Aberdeen en bied die grade M.B. en Ch.B. aan. In 1914 is hy ten volle gekwalifiseerde dokter en iewers ná of vóór dié datum emigreer hy na Suid-Afrika weens gesondheidsredes. Na twee jaar op Somerset-Oos verhuis hy na Petrusville waar hy die res van sy lewe spandeer. Hy tree in Kimberley in die huwelik met Ellen Sophia Dunn, dogter van Henry Burton Dunn en Hendrina Christina Fredrica van der Hoeven. Uit die huwelik word twee dogters en een seun gebore. Een van die dogters is Marjorie Lewis Maciver. Sy sou later in die huwelik tree met John Henry Eckley Dykman. Die paartjie skei egter op 20.8.1938 en sy trou later weer met Walter Christopher Carey. Hulle weë skei ook in 1958.

Dokter Maciver sterf op 23 Augustus 1934 in die Kimberley hospitaal weens septisemie.

Bronne:
• The Lancet, 1901
• The British Medical Journal, 1929
• SESA, volumes 2,4,8,9 en 11
• Patrick Duncan Papers, Universiteit van Kaapstad. (A18.2.1 – A18.2.5 – correspondence with dr. Maciver of Petrusville for relief from the government for incapacitation from bubonic plague, 1929).
• SA Medical Journal, 1934
• The Journal of Hygiene, 1930
• CLAASSEN, JH, ongepubliseerde familie navorsing

© 2018 JH CLAASSEN

MACIVER Donald Munro Petrusville BP

Dr. Maciver se graf in Petrusville. Foto: http://www.eggsa.org

Die Stemme van ons Gewete

Om te (kan) vergewe, is ’n goeie eienskap; om te vergeet, ’n swak eienskap. Vergeetagtigheid as gevolg van ’n siekte behoef geen verdere debat nie, maar vergeetagtigheid omdat jy dit so verkies of te lui is om te onthou, is onverskoonbaar. Myns insiens is die Suid-Afrikaners ’n uiters vergewensgesinde, maar terselfdertyd ook ’n vergeetagtige nasie. Dit is verder algemeen bekend dat hulle nie vreeslik lief is vir lees nie en as hulle wel lees, lees die meerderheid van hulle nie wyd genoeg nie of bloot oppervlakkig. Gaan praat maar met uitgewers, skrywers en bibliotekarisse.
As mens die kommentaar op sosiale media gaan lees sal jy agterkom hoe oppervlakkig die gemiddelde Suid-Afrikaner lees. Nuusblaaie plaas daagliks die hoofopskrifte van hul gedrukte uitgawes op sosiale media met ’n skakel na die betrokke berig in hul elektroniese uitgawes. In die meeste gevalle sal mens nie die volledige berig kan lees nie omdat jy nie ’n intekenaar van die betrokke publikasie is nie. Dit verhoed egter nie die meerderheid van die kommentators om, sonder om die berig te gaan lees, uitgesproke te wees nie. Haatspraak is gewoonlik aan die orde van die dag. Veral as dit ’n swart persoon is wat van die een en ander beskuldig word maar nog nie in ’n geregshof skuldig bevind is nie, sal sommige wit mense histeries ongeletterde uitsprake maak. Die ander kant is natuurlik ook waar maar hierdie skryfsel gaan nie oor wie die hardste skree en geraas maak nie.
Vry onlangs het daar ’n voorbladberig in die Sondagkoerant, Rapport verskyn wat beweer dat sekere ministers uit die apartheid-era hulle besig gehou het met pedofilie. Ek wil nie op die berig uitbrei nie, want dit is daar om te lees en intussen het ander koerante ook op die wa geklim en berigte met dieselfde strekking geplaas. Die Rapport het ook ’n uittreksel geplaas van die boek, The Lost Boys of Bird Island/Die Seuns van Bird Island. Die skrywers is die oud-joernalis, Chris Steyn en oud-speurder, Mark Minnie*. Die voorwoord is geskryf deur Marianne Thamm, ’n gerekende skrywer en joernalis. Behalwe om skok onthullings te maak (vir die oningeligte) het hulle myns insiens ook daarmee probeer om getuies na vore te laat kom; om uiteindelik dieper te gaan krap. Om die waarheid uiteindelik te laat seëvier en om geregtigheid te laat geskied aan die slagoffers en hul familie.
Onmiddellik na hierdie berigte het die sosiale media ontplof! Hoe durf hulle (die skrywers)?! ’n Pot stront! Hoekom nou (eers)? Nog ’n manier om die wit man te laat skuldig voel. Sensasiesoekend. Ander sou mos daarvan geweet het. Hoekom is dit nooit onder die Polisie se aandag gebring nie?, was van die reaksies. Reaksies, wat hoofsaaklik van wit mense gekom het – sonder dat die meerderheid van hulle die Rapport of die boek onder oë gehad het. Ek wil my verstout deur te sê dat as die ‘aangeklaagdes’ swart was, hulle in hierdie stadium reeds skuldig bevind sou gewees het deur daardie einste groep. Bewyse daarvan is oral te vind op die sosiale media.
Meeste van hierdie geraasmakers ken nie die skrywers nie, weet nie van hulle bestaan nie en het (dalk gerieflikheidshalwe) vergeet van die koerantberigte van destyds of nooit die boeke wat oor hierdie onderwerp geskryf is, gelees nie. Sommige was dalk ook nog nie gebore toe die aanvanklike berigte daaroor verskyn het nie – hulle word in ’n mate verskoon.
Vir Mark Minnie ken ek nie, maar ek weet dat hy die speurder was wat vir Dave Allen, ’n intieme vriend van wyle oud-minster John Wiley, in hegtenis geneem het op aanklagte van seksuele misdrywe met minderjarige seuns. Twee dae daarna is hy dood gevind op die strand. Oënskynlik selfdood (dit was ook die amptelike bevinding). Allen sou ook voor sy dood aan Minnie gesê het dat Wiley net so skuldig aan seksuele misdrywe met minderjariges is as wat hy was. Minnie het dit ook destyds aan Die Burger bekend gemaak. Maar terwyl Minnie met die ondersoek teen Allen besig was, was hy op vele vlakke ontmoedig om met die ondersoek voort te gaan, trouens hy was deur die senior staatsaanklaer gevra om die ondersoek te staak. Die dossier was uit sy kantoor verwyder en later was hy ook deur die veiligheidspolisie ondervra oor die aard van sy ondersoek. Vier dae na die dood van Allen word Wiley op 29 Maart 1987 ook dood gevind. In sy kamer, met ’n skietwond deur sy kop. Hoewel daar baie onbeantwoorde vrae is rondom die omstandighede van sy dood was die amptelike bevinding dat hy selfdood gepleeg het.
Vir Chris Steyn ken ek deur die lees van haar berigte in die Cape Times en ander nuusblaaie. Ook het ek haar boek, Publish and be Damned, wat in 2006 verskyn het, gelees. Hoofstuk 9, getiteld Sex and death in the cabinet, het ek meer as een keer gelees. Daarin vertel sy van haar deeglike ondersoekwerk in die Wiley-sage. Die verbintenis met Allen en Bird Island en hoe sy ’n uitgebreide berig vir haar koerant voorberei en voorgelê het. Uiteindelik het slegs ’n afgewaterde weergawe daarvan in die koerant verskyn.
Chris Steyn is een van die laaste ware ondersoekende joernaliste van hierdie land, een wie se integriteit heeltemal bo verdenking is. Selfs die veroordeelde moordenaar, Clive Derby-Lewis, het, toe hy ingevolge artikel 29 van die Veiligheidswetgewing aangehou was aan niemand anders kon dink aan wie hy sy aandadigheid aan die moord op Chris Hani, bekend wou maak nie. Tydens Derby-Lewis se amnestie verhoor en in kruisondervraging deur adv. Bizos, laat hy hom soos volg uit: Bizos: But why did you trust miss Steyn to keep this secret of yours when you realised that she could put two and two together and you must have had some respect for the police handwriting expert. Why did you take this chance unless you trusted her that she would keep your secret? Derby-Lewis: Mr. Chairman, I identified her as one of the few journalists who exist, whose ethics and integrity are more important than anything else.
Toe sy oor apartheidsvergrype berig het en probeer berig het, is sy gedreig met selfs die dood. In ’n stadium moes sy na die buiteland vlug omdat sy geweier het om haar bronne bekend te maak. Baie van haar ondersoekwerk is bloot afgemaak as ’n klomp bewerings maar jare later tydens die sittings van die Waarheids- en-versoeningskommissie was dit erken deur hoë polisie offisiere ensovoorts. Baie mense sal nie eens meer onthou nie dat dit sy was wat verantwoordelik was vir die berigte oor die buite-egtelike verhouding van Allan Boesak en Di Scott. En terselfdertyd die polisie se spioenering op gewone burgers op die lappe gebring het. Hiervoor was sy en haar redakteur voor die media tribunaal gedaag maar is uiteindelik gelyk gegee.

’n Ander uitstekende ondersoekende joernalis, Jani Allan, skryf in 2015 in die Daily Maverick onder andere soos volg:

I had become friends with Geoffrey Allen [broer van Dave Allen], a fine reporter but an alcoholic. When drunk, Geoff would regale me with stories about who the “spooks” were in the newsroom. Geoff would ramble on about “Sister Agnes” Magnus Malan, and a place called Bird Island where naughty things went on with large fromages in the South African Defense Force and young men. He told me about the Info Scandal and Gordon Winter and Wouter Basson and General van den Bergh, and how, even you, were a spook, Mr Myburgh.

En so kan mens vir ure aangaan. Daar was nie destyds persvryheid nie. As jy die absolute waarheid wou verkondig moes jy jou wend tot die alternatiewe pers – soos byvoorbeeld die Vrye Weekblad. Daar was ander ook maar dit was die Vrye Weekblad wat die bestaan van moordbendes in die polisie onder die publiek se aandag gebring het. En aan die begin was dit juis die Afrikaanse pers wat die ergste kritiek teenoor die Vrye Weekblad geopenbaar het. Maar dit was omdat hulle die regering van die dag slaafs gedien het. Ons het ook gerieflikheidshalwe vergeet hoe die Vrye Weekblad sy deure moes sluit; die finansiële uitgawes aan die vele hofsake het sy tol geëis. Veel later moes ons by wyse van die amnestieverhore verneem dat dit wél alles die waarheid was.

Dus het hierdie hele onthulling my nie verbaas nie. Van ’n regering wat absoluut geen respek vir sy burgers gehad het nie, wat ’n groot deel van die bevolking onderdruk het met drakoniese wette, wat joernaliste gemuilband en in die tronk gestop het, mense vermoor het, kan jy enigiets verwag!

Aan die adres van diegene wat vra, hoekom nou?: Hoekom nié nou nie?! Wil julle soos die apartheidsregering van destyds vir mense kom sê wanneer hulle wat moet skryf? Jy kan oor die geskiedenis enige tyd skryf. Daarom skryf ons, 116 jaar na die afloop van die Anglo-Boereoorlog, steeds daaroor.

Aan die adres van die skrywers en joernaliste: Skryf! Skryf! Skryf!

*Sy lyk word op 14.8.2018 gevind. Oënskynlik selfdood.

Verdere leeswerk: http://www.historicalpapers.wits.ac.za/?inventory/U/collections&c=AK2883/R/8368
Chris Steyn-Barlow, Publish and be Damned – Two Decades of Scandals. 2006.

© 2018 Johann H Claassen

Oom Jose, die man van die doodsklub

Ek luister vanoggend weer na die aaklige geluid wat die ambulans maak toe dit hier in die Hoofstraat afjaag. En ek wonder so by myself of die slagoffer/pasiënt se begrafnisboekie darem in orde is. Want, soos ons heel dikwels lees, gooi die bestuurders van hierdie lewensreddingsvoertuie soms die goed om – met gepaardgaande lewensverlies.

Wat my  toe laat dink aan ou Jose (uitgespreek Jous deur die Oudtshoorniete) van Oudtshoorn. Hy het by AVBOB gewerk en was verantwoordelik om die maandelikse/weeklikse premies te gaan kollekteer by die kliënte en dan terselfdertyd sommer ook die bemarking van nuwe produkte gedoen.

Ek was seker maar so vyf of ses jaar oud en ons het nog in die dorp gewoon in daardie stadium. Ek het hom dus toe nog in die fleur van sy lewe sien ry in die straat waar ons gebly het. Op ‘n  (amptelike) swart dikwielfiets. Geklee in ‘n swart baadjie, wit hemp en ‘n kleurvolle das. Met ‘n grys langbroek in die winter en ‘n grys kortbroek met lang kouse in die somer. Die baadjie se moue het aan die agterkant by die elmboë leer insetsels gehad sodat dit nie te gou verslyt nie. Die langbroek se pyp aan die ketting se kant was met so ‘n netjiese staalklampie vasgemaak. Sodat die broekspyp nou nie in die ketting kan beland nie en ook om dit te beskerm teen die olierige rat. Sy leertas met die nodige dokumentasie, koevertjies met geld, en dies meer het aan die balk van die fiets tussen sy bene gehang. Wie onthou dit nog?

Daardie tyd het kinders vir al wat ‘n mens in die straat gewaai, iets wat jy nie vandag al te dikwels sien nie. En almal het die oom geken. Hy was immers die man van die doodsklub. Hy was nie ‘n baie oorvriendelike mens nie maar hy het darem altyd terug gewaai.

En dan, een keer per maand het hy by ons huis aangekom om die premie te kom haal. Soms het ek klaar gereed op die stoep gestaan en die koevertjie aan hom oorhandig. Dan het hy afgeklim en sommer daar op die stoepmuurtjie die kwitansie uitgeskryf, dankie gesê, my kop gevryf en weer verder gery. Maar heel dikwels was hy die huis binnegenooi en dan het my ma vir hom koffie of tee aangebied en pa het vir hom ‘n drankie (‘n dop) aangebied. My ma se koffie of tee was seker maar nie te waffers nie, want hy het altyd die drankie aanvaar. Dan het hulle nou grootmensdinge gesels, seker maar oor die dood ook want hy sal mos nou die skakel wees met die langslewende en daardie goed moet deeglik deurgesels word. En as die bespreking dan te lank aanhou sal my ma weer koffie of tee aanbied en my pa ‘n drankie en telkens sou hy die drankie aanvaar. As die besprekings nou klaar was, het hy opgestaan en baie saaklik en stigtelik dankie gesê vir die gesels en die drankies en my ma belowe dat hy volgende keer beslis van die koffie of tee sal neem. Dan is hy vort na die volgende huis waar daar dalk nóg  koffie of drankies op hom sou wag.

Ek het nooit geweet wat sy van was nie maar my neef, Eugene, het my gehelp daarmee. Hy was ‘n Wolmarans. En die baie vriendelike Irma van AVBOB op Oudtshoorn was so gaaf om sy begrafnisbrief vir my aan te stuur. In sy laaste dae was hy ‘n inwoner van  Helen Bellinganhof Tehuis vir Bejaardes.

Rus in vrede Josephus Johannes Jacobus Wolmarans (1925-2013).

© 2017 Johann H Claassen

VOETNOTAS – Winteruitgawe 2017

https://lookaside.fbsbx.com/file/Voetnotas Vol 6.1.pdf?token=AWz106RCrNBmsjlZD01-PrgLGKfq0C5syTb2GzFMwmTTaHik8T9MtJ1V6Q_WfR-tRPsyK6OhHadjOpQWQAlcvZsl0XzacnDQKfBtscbdmemKJ6lt9nPxyWqL_kr0tuCm7Kjxq5dhy5JI1OkkKQosbtJtVoetnotas Winter uitgawe voorblad

Redberry Farm Hedge Maze — what to do in the garden hood

The Redberry Farm in George plays host to the largest permanent hedge maze in the Southern Hemisphere!

via Redberry Farm Hedge Maze — what to do in the garden hood

Exhibition: ‘Julia Margaret Cameron’ at the Victoria and Albert Museum, London

Bron: Exhibition: ‘Julia Margaret Cameron’ at the Victoria and Albert Museum, London

Travel in South Africa – The Paarl

Die Paarl  deur Martie Coetser-Pozyn.

Voetnotas – Drakenstein Heemkring Paarl

http://www.drakensteinheemkring.co.za/Publications_files/Vol%204.2.pdfDSCF8643

Geslagsregisters van die CELLIER, CELLIERS, CILLIE, CILLIÉ EN CILLIERS families in Suid-Afrika

Cilliers boek

Die Sandveld Ekskursie – ‘n kort reis deur Leipoldtville, Aan Het Berg, Sandberg, Donkieskraal, Lambertsbaai, Die Muisbosskerm. (1-3 Mei 2015)

IMG_1641

Ons gasheer en -vrou, Corrie en Andre Victor

Hierdie skryfsel is nie ‘n akademiese verslag van die een of ander aard nie.  Dis ‘n skryfsel  oor die droom van ‘n man wat sy familie  – sy susters  en kinders en swaers – by hom wou hê vir ‘n dag of drie. Ongelukkig kan ek nie namens die ander wat daar was, skryf nie. Ek skryf soos ek dit ervaar het. En ek probeer  om, waar die woorde my ontbreek, dit aan te vul met foto’s…prentjies van mens, dier en die natuur. Probeer om nie vir my punte te gee vir die fotografie nie – ek is nie ‘n fotograaf nie, ek is ‘n dokumenteerder  van dit wat ek waarneem. Ek het ook skaamteloos van die geleentheid gebruik gemaak om die wat nie meer met ons is nie, aan boord te bring. Jy kan nie net oor hul grond loop of verby hulle loop sonder om notisie te neem nie. They cry out to me: “please,tell them our story!” En dis wat ek sal doen. Binnekort. Die Laubschers, die Therons, die de Beers en die Bassons. Maar vir nou, hier is my storie. Van die Sandveld, van Sandberg, van Donkieskraal, van die man en sy droom.

IMG_1415

Die pad lê wyd na die onbekende…

Die rookseine is reeds maande terug opgestuur: Kry vir Johann op Donkieskraal! As daar nog plaastelefone was, sou die hele kontrei dit geweet het.

Die gekonkel begin en kort voor lank word daar aangekondig dat Andre Snr vir ons gaan ontvoer na ‘n onbekende plek. En die bestemming het onbekend gebly tot 1 Mei 2015. So het ek en Estelle geglo dat dit iewers in die Boland sal wees. Wie, by sy volle verstand, sal nou amper 300 kilometers ry om iemand te ontvoer en dan weer dieselfde afstand terugry om die naweek by sy huis te gaan deurbring? Maar ons het ons lelik misgis. Andre Victor Snr sou so mal wees!

So breek  1 Mei 2015 aan. Renier en Ronel is reeds vroeg hier by ons. Daar is ‘n opgewondenheid in die lug. Andre sal 10:00 daar wees. Tien uur breek aan maar hy is nog nie daar nie. Estelle wil bel, maar ek keer haar. Ek verseker haar hy sal kom. Oomblikke daarna bel hy om te sê dat hy ‘n paar minute laat gaan wees. Almal se oë blink, wat is ‘n paar minute nou na al die maande se wag.  ‘n Paar minute later daag Andre op.  Met Shrek. ‘n Lemmetjiegroen Volkswagen Transporter.

IMG_1428

Ons rus ‘n bietjie naby die sement fabriek. Andre maak een van sy geheimsinnige oproepe

Ons bondel soos opgewonde skoolkinders die bussie in en daar gaan ons!

Toe ons die vierrigting-stop nader en ek sien hier is geen flikkerligte wat aangesit word nie, wonder ek of die ding ooit flikkerligte het! Want dit is waar ons regs moet draai na Tulbagh se rigting. Maar nee, hierdie bussie ry net reguit. So, dan is jy op pad na die Weskus, dink ek. Maar ek sê of vra niks. Wil niks bederf  en ‘n man dwing om te lieg nie. Die rit verloop lekker en kort voor lank is ons in Malmesbury. Gesels land en sand oor alles en nog wat, neem foto’s soos ons ry en anderkant Malmesbury by die sement fabriek, trek ons af vir ‘n koeldrank. Andre is besig om geheimsinnige oproepe te maak maar ek luister nie af nie. ‘n Geheim is ‘n geheim. Waar die Bergrivier (Moorreesburg) die pad kruis op pad na sy eindbestemming, die see, trek ons af om foto’s van die ou brug te neem. Hoeveel honderde kano’s is nie al onderdeur daardie brug met die jaarlikse Bergrivier-kanovaart nie?

IMG_1422 Berg rivier ou brug

Die ou brug oor die Bergrivier

Ons vat weer die pad en stop op Piketberg by hulle Mall. Ja die goed slaan oral uit. Almal wil opsluit ‘n Mall hê. Ek wil geld trek maar die mense staan so ‘n lang tou dat ek dadelik omdraai. Die langnaweek gaan verby wees dan is daai tou nog niks korter nie. Koop ‘n paar goedjies en daar gaan ons. Skaars uit die dorp wil die vrouens weet of hulle dan nie ‘n draai kan gaan loop nie. Terugdraai is al genade om by Winkelshoek te stop vir die nodige.

IMG_1440 Redelinghuys

Redelinghuys in die verte…. ons is op spoed en ek wil nie uitval nie!

Nou is ons reg vir die res van die pad en Andre sit voet in die hoek. Mens kon sien hy is haastig om by die geheimsinnige plek te kom en Shrek is duidelik nie lui nie. Opdraende en afdraende  is vir hom een en dieselfde ding. Hy slurp daardie witstrepe op!

Ons ry by mooi plekkies verby, soos die dorpie  Redelinghuys. Anders as wat mense glo is dit die gemeente wat na Jan Redelinghuys, ‘n boer wat 300 morg grond geskenk het met die oog op die aanlê van ‘n dorp,  vernoem is. Die dorp is uiteindelik aangelê op grond wat van ene JNP Meissenheimer, tesame met sekere waterregte,  aangekoop is.  Die kerksaal was reeds in 1866 gebou maar die gemeente is met die goedkeuring van die Ringskommissie van die Ring van Clanwilliam, op 26.4.1906  van Piketberg afgestig.  Die eerste kerkgebou is in September 1927 ingewy.

IMG_1443 Verlorenvlei

Verlorenvlei

Verlorenvlei

Verlorenvlei. Foto: Google maps

Daarna begin jy tekens sien van  Verlorenvlei wat strek tot en uitmond by Elandsbaai. Groot massas vleie met goeie water hoe nader jy aan die see beweeg. Ons stop weer om foto’s te neem. Die vlei beslaan 1500 hektaar met ‘n opvanggebied van 1890 vk. kilometer.

Teen hierdie tyd is die vermoedens by almal sterk dat ons ook nie op pad is na die see nie, want ons neig kilometer na kilometer meer na die binneland. Dieper die Sandveld in. Heel waarskynlik op of baie na aan die roetes wat Olof Berg, en andere na hom,  gevolg het op soek na die Manamatopa, na die Namakwas en les bes na die koper en diamante waarvan Krotoa vir Jan van Riebeeck vertel het.

IMG_1451 Visarend se neste - doen navorsing

Hamerkop neste – naby Leipoldtville

IMG_1563 MODDERFONTEIN OPSTAL LEIPOLDTVILLE c 1810

Modderfontein – die ou opstal. Opgerig c. 1810

André stop weer om vir my neste te wys wat ek later sou uitvind, Hamerkop neste is. Ons ry en meteens is daar ‘n bord wat sê, Leipoldtville. Nou ja, die volgende breukdele van sekondes gaan daar ‘n klomp goed deur my kop; ek sien ‘n klompie grafte langs die pad en ‘n paar honderd meter later verneem ek onder groot gelag waar Leipoldtville dan nou  is. Nee, kom dit uit een mond, ons is al lankal verby Leipoldtville!

IMG_1855

Sandberg se ingang

Ek kyk om en sien,  ja waarlik,  daar steek die kerktoring ook uit. Maar ag nou ja, alles is ‘n gejaag na wind  en ek sal volgende keer meer oplettend wees. Leipoldtville, aangelê op die plaas, Modderfontein, is  vernoem na ds. CF. Leipoldt die destydse predikant van Clanwilliam. Die gemeente raak ‘n volwaardige een in 1905.

IMG_1832

Sommer net mooi. So tussen die sand en klippe.

‘n Paar minute daarna draai ons in by Sandberg se ingang. Almal het ‘n smile op. Die vermoedens was reg. Andre lag net. Hy hét  my! Met ‘n sanderige pad tussen groen aartappellande ry ons, al hoër teen die berg uit. Daar is heelwat berge met indrukwekkende grotte en rotse. Nog ‘n bietjie sand, nog ‘n bietjie meer druk op  Shrek se enjin en hier voor ons doem die paradys op of te wel, soos ek die paradys voorgestel het in my kinderjare. Bome, bosse, gras, water, rotse, fynbos, veldblomme, ‘n watergat met diere daar rondom. Ook huisies en tente, maar dis nie gewone huisies of gewone tente nie. Die tente is luuks en is op fondasies gemonteer. Hierdie soort van tente sien jy net in die glans tydskrifte. Maar eintlik hou ek nie van tente nie. Het as kind vakansie na vakansie in ‘n tent by die see deurgebring en ek het nie goeie herinneringe daarvan oorgehou nie. Die nag toe dit so gereën het dat ons beddegoed nat geraak het, die water die tent binnegestroom het en my ma wat nie mooi dinge gesê  het van my pa se obsessie met tente nie.

IMG_1646

Renier en Ronel

IMG_1508

Die sitkamer in die Lodge

Die huisies, of eerder chalets,  is óf teen rotse óf binne die rotse gebou. Die afwerking daarvan smelt eko-vriendelik saam met die natuur en omgewing. Ek rep maar niks oor die tent blyery nie en dis asof Andre my gedagtes lees en met die uitklim en afpak -slag wys hy na een van die chalets daar bo en sê, “daar is jou en Estelle se Honeymoon suite.” Groot verligting.

Ons staan nader waar Corrie vir ons inwag in ‘n ander groter huis, die Lodge. Dis eintlik die kantoor van Donkieskraal, luuks toegerus met alles wat mens nodig het vir jou verblyf daar in die berge.

IMG_1469

Die Lodge

IMG_1492

Andre snr. en Johan gesels kopstukke!

IMG_1544

Die aartappel lande wag ‘n nuwe dag in

Ek, en ek glo ook die ander, voel dadelik welkom met die groetslag en kyk hoe Corrie die finale afronding aan die geregte op die massiewe eiland toonbank doen. Kompleet soos wat jy sou kry in ‘n vyfster hotel. Alles lyk en ruik heerlik en na ‘n drankie of twee kan ons ook die lekkerte hier voor ons proe. Uit die boonste gestoeltes! Ons gesels, vra uit oor die kinders, heel later oor die gesondheid, want niemand lyk darem so dat jy nou al so vroeg in die gesprekke moet verneem na enige nuwe kwale nie. Ons word deur Andre en Corrie rondgeneem op die terrein en mens kan maar net jou loop en verwonder aan die pragtige natuur om elke hoek en draai.

Die rotse is oorweldigend en dwarsdeur die kamp vorm dit deel van die natuurlike dekor maar sonder dat dit intimiderend is. Daar is die konferensiesaal, ook ‘n plek waar huweliksonthale gehou word. ‘n Nuwe kroeg is in aanbou met ‘n houtdek wat uitkyk oor die hele vallei. Ek merk dadelik op aan Andre dat die dek se massiewe oppervlakte eintlik ‘n bietjies  te klein is. Ek kry net die gevoel dat daardie plek so gewild gaan raak en dat almal op die dek gaan kuier eerder as binne die kroeg weens hierdie pragtige uitsig.

IMG_1526

My en Estelle se honeymoon suite

Ons gaan loer in by ‘n chalet of twee. Dis rotsagtig daarbinne maar luuks. Lugversorging, elektrisiteit, storte, beddens, pragtige beddegoed en stylvolle gordyne.

Maar hier moet ek nou eers ‘n bietjie stilstaan by die woord, vuur. Toe ons daar aanland, brand daar ‘n groot vuur en daardie vuur het heel naweek gebrand. Dis maar hoe hulle omgaan met vuur in daardie wêreld en die hout daarvoor is onbeperk. Die lug is vars en skoon, jy kan die kruiebosse ruik en daar is ‘n stilte, selfs in die dag, wat jy kan hoor.

IMG_1489

Sonsondergang op Donkieskraal

Aanstons sou die son sy lê loop kry in die weste en ek volg dit met die kamera. En jy besef ‘n sonsondergang soos hierdie kan jy nie in die stad sien nie terwyl jy  hier  maar net jou kop by die deur hoef uit te steek. Dis ‘n prentjie wat wag om geskilder te word. Die ondergaan huiwer lank, asof dit die diere ‘n kans wil gee om hulself reg te kry vir die nag wat voorlê. En wanneer die verdwyning van die dag finaal word, raak die doodse stilte baie intens. Dis slegs wanneer jy nader na die vuur beweeg dat jy die geknetter van die wegspattende stukkies hout hoor. En ek kan sweer dat ons ses stuks sagter praat as gewoonlik.

IMG_1463 Renier Olckers

Renier bespied dinge vanuit die hoogte

Die skaaptjops en wors wat op die kole beland, is van die plaas via die afgelope kerkbasaar en Renier braai dit tot sappige stukke wat smelt in jou mond. Die bykosse rond die gastronomiese skepping af.

IMG_1511

Die Binnekring…. die gesels begin…

Ons gesels oor dae van lank gelede toe die kinders nog klein was, toe óns  nog klein was en ek plaas ‘n video van foto’s in die DVD-speler. Van die beelde is dokumente wat dateer uit 1666, stamvader Victor se boedel dokumente. Van grootjies en oupas, van kinders en kleinkinders. Sommige van die aanwesiges herken hulself nie meer in van die foto’s nie! Dit word weer en nog ‘n keer gespeel want daar moet eers seker gemaak word van dit of dat. Ja mense is tóg  nog erg oor hul foto’s en geskiedenis – dié  kom ek gou agter.

Dit raak middernag, die vrouens kry koers na die katels en ek en Andre gesels nog ‘n bietjie. Na die eerste gemeenskaplike gaap, besluit ons dis tyd vir inkruip. Dis reeds die volgende dag en dié  gaan nóg  voller wees.

Ek stap op na die Honeymoon suite, na my slapende bruid, maar ek dwaal eers rond, neem nog ‘n foto of twee van die nag en sy geheime en na ‘n bietjie lees uit die Concentration Camps van Elizabeth van Heyningen, sit ek die lig af. Ek slaap nie dadelik nie want die adrenalien is nog té  aanwesig. Ek lê eers en luister , staan dan op om buite te gaan staan om beter te luister. Dis morsdood stil en as dit op die plaas in my kinderdae ook so stil was, kan ek dit nie meer onthou nie, of dalk luister ‘n mens met ander ore na die stilte, of dalk, dalk is jy doof maar as jy konsentreer, dan kan jy tog so hier en daar ‘n dier of ‘n voël hoor wat rond skuur om sy lê behoorlik te kry. Ek raak rustig en gaan slaap. Dit was ‘n goeie dag.

Toe die grysheid van die dag die aartappellande se buitelyne begin wys, is ek lankal wakker. Ek vat die kamera saam na buite. Die oggendlug is skerp maar vars. ‘n Paar fisante vlieg skielik uit ‘n bos hier voor my op en laat spaander. Hulle is te vining vir die kamera.

IMG_1824

Dit oorleef dag na dag en jaar na jaar meestal op die dou van die nag.

Die oopplan stort is ook ‘n nuutjie. Daarom neem ek foto’s van haar in die stort maar darem nou so dat die sede-polisie my nie in hegtenis sal neem nie.

Toe ons by die Lodge aankom is Corrie al weer gereed met ‘n ontbyt wat, as ek dit so bekyk, sal hou tot laat middag. Ons eet klaar en neem daarna ons plekke in op Shrek.

IMG_1787

‘n Ongewone swembad.

IMG_1860

Groen goud. As die prys reg is. Die Laubschers boer al sedert 1862 in hierdie geweste. Landbouers van formaat.

Langs die plaaspad kry ons vir Pieter Laubscher, die eienaar van die plaas. Hy stel homself voor en ons gesels so bietjie. Ek kom agter dat hy ‘n baie aangename mens is. Lees hier meer oor die Sandveld se aartappels http://www.potatoes.co.za/regional-services/regional-map/sandveld.aspx 

Die Victors

Die Victors

Andre jnr. en Olive deel 'n grap

Andre jnr. en Olive deel ‘n grap

Allana en haar Sandveld-hero op die vierwiel

Allana en haar Sandveld-hero op die vierwiel

Andre jnr. braai die filet versigtig. Dis warm daar rondom die vuur!

Andre jnr. braai die filet versigtig. Dis warm daar rondom die vuur!

Klein niggie en -nefie

Klein niggie en -nefie

Twee kleinniggies

Twee kleinniggies

Die twee is bietjie bang om die donker grot binne te gaan.

Die twee is bietjie bang om die donker grot binne te gaan.

IMG_1583 NG KERK LEIPOLDTVILLE

NG kerk Leipoldtville

Ons kry ons ry in die rigting van die dorpie wat ek die vorige dag gemis het, Leipoldtville. Daar is regtig nie veel nie, maar dit wat daar is, trek aandag en nooi jou nader. Die kerk, die skooltjie, Algemene Handelaar en die opstal van Modderfontein, die plaas waarop Leipoldtville aangelê is,  kom onder skoot. Die Algemene Handelaar gebou is opgerig in 1898, die Modderfontein opstal in 1810 maar laasgenoemde het al heelwat gesigsontrimpelings ondergaan.

IMG_1566 LEIPOLDTVILLE GARAGE

Leipoldtville se Garage

IMG_1656 - Copy Cover photo

Voëleiland, Lambertsbaai

IMG_1565 ALGEMENE HANDELAAR

Algemene Handelaar, Leipoldtville

IMG_1578 VAALFONTEIN

Een van die marmer blaaie, opgerig om die 100-jarige bestaan van die gemeente te gedenk. Die gemeentelede van die onderskeie wyke is op die blaaie aangebring.

Jakkalsrivier, Lambertsbaai en Muisbosskerm

Die Jakkalsrivier op pad na Lambertsbaai waar dit uitmond in die see.  Foto: Google maps

IMG_1626

Cuvier’s beaked Whale (Ziphius cavirostris)

IMG_1586

Voëls sit gepak op die dak van Lambertsbaai se aartappelskyfie fabriek

Daarna vat ons die pad na Lambertsbaai al langs die Jakkalsrivier waaroor die Saldanha Sishen spoorlyn ook sy lê kry. Om ystererts in kilometer lange trokke by die hawe te kry. Lambertsbaai, uitgespreek as Lammertsbaai deur die plaaslike bevolking,  sal ek weens verskeie redes nie vergeet nie. Maar die grootste sal seker wees as gevolg van die slegte reuk wat oor die dorp hang. Die ergste sou nog kom. Dis toe ons aanstap na die Voëleiland met sy tienduisende seevoëls en tonne voël-ghwano dat my ontbyt dreig om na die oppervlakte te kom. En daar loop ek met ‘n sakdoek oor my gesig en haal dit slegs af as ek ‘n foto wil neem. Volgende keer neem ek ‘n properse masker saam! Belowe ek myself. Die stank is genoeg om jou geheue uit te wis.

Die geleenthede vir pragtige foto’s is legio en ek maak ten beste gebruik daarvan.

IMG_1663

‘n Kykie deur een van die dolosse

IMG_1592 Lambertsbaai hawe

Lambertsbaai.

Die eiland is ’n goeie leerskool vir almal wat iets meer wil weet van die seelewe. Baie moeite is gedoen om dit toeristevriendelik te maak en is deur en deur ‘n besoek werd.

IMG_1599

Estelle by haar liefie van baie lank gelede.

Uiteindelik kan ons vertrek uit die onwelriekende dorp na ‘n meer aangename plek – die Muisbosskerm. Die volgende verrassing. Mens hou dadelik daarvan. Suid-Afrika se eerste opelug restaurant. Al die kos word sommer daar in die opelug in die gaste se teenwoordigheid voorberei. Ek het redelik baie gehoor en gelees van die plek maar dit was my eerste besoek. Lees meer oor die Muisbosskerm hier: http://www.muisbosskerm.co.za/  

IMG_1671

Die Muisbosskerm. Die oonde (links) aan die bak.

‘n Paar rollmops vir ‘n voorgereg is net die ding wat mens nodig het om weer kragte te herwin na die stappery  en ‘n rukkie daarna verskyn daar stomende potte vol gee mielies met egte plaasbotter. Dit smaak  voorste bos en as toegif, word ‘n tweede een geneem.

IMG_1669

Snoek en ander vis word uit die oonde gehaal.

Intussen het die groot plaasbrode ook al uit die oond gekom en dit word, soos wat die opdiener dit sny, opgeraap en geniet saam met botter en tuisgemaakte konfyt waarvan daar verskeie soorte te kus en te keur is. Ek staan nader met die kamera toe hulle die vis en die snoeke uit die oonde en van die roosters haal. Op die vistafel sou ook Paella wees maar ek stap verby en kry Engelvis met soetpatats en slaai. En natuurlik nog brood en konfyt.

IMG_1678

Hierdie vrou KAN vis bak! Die eienaar, Ian, kyk tevrede toe.

IMG_1637

As die een been moeg raak…

Terwyl die gebakte kabeljou in sy degie nog lê  en sis in die pan, neem ek solank ‘n foto van die vrou wat so heerlik staan en bak. Sy glimlag tevrede. Ek sou later die foto aan haar werkgewers stuur met die versoek dat hulle dit vir haar moet wys. Hulle bevestig ‘n dag daarna dat hulle haar gewys het. Ek is bly. Sy kán  vis bak. Die gebakte vis neem ek met aartappel wiggies wat met skil en al in diep olie gebraai is. Wéér  met ‘n  lekker slaai. My verstand sê  vir my,  jy het nou genoeg geëet maar my oë  se vir my daar is nog talle ander lekkernye wat lê  en wag. My maag dink daar is dalk nog plek vir ‘n bordjie of twee.   Daar eenkant op een van die vure is daar drie groot potte. ‘n Varkvleis potjie, ‘n Tamatie bredie en ‘n Kerrie afval pot. En baie rys. Om nou die gasheer en  -vrou nie te laat sleg voel nie, skep ek van al drie  bo-op die rys. Dit lyk goed en ek sukkel aan na die tafel met aangetroude familie wat my aankyk. Hulle  glimlag onderlangs en prober my moed inpraat. Gewoonlik is dit so dat as die muis dik is, is die meel bitter maar dis heel anders vandag. Ek geniet werklik elke skeppie wat ek neem en laat ek dit nou maar hier sê en klaarkry: As hierdie mense van hierdie eetplek moet deelneem aan ‘n kos kompetisie van enige aard, hoef die ander nie die moeite te doen om op te daag nie. Dis goeie kos, kos wat nie garnering en allerhande tierlantyntjies nodig het om die oog te vang nie.  Daar is koffie en heerlike beskuit maar ek sluit af met twee lekker klein vars koeksisters. Die Muisbosskerm is iets wat mens hoegenaamd  nie sal kan vergeet nie, al raak jy vergeetagtig oud.

IMG_1685

‘n Uitspanplekkie. Gebruik die reisigers dit nog…? Ons is haastig op pad plaas toe.

IMG_1656 - Copy Cover photo

Voëleiland. Die getalle groei weer…

Ons ry stadig terug na Donkieskraal en niemand is juis spraaksaam nie. Hierbinne woel en werskaf dit soos die organe en suikers werk om die fyngekoude kos reggepak te kry en te verbrand. Party se oë trek toe op pad na die plaas. By die indraai van Sandberg is daar ‘n familie begraafplaas. Ek en Andre gaan neem al 23 grafte af. Daarna die tweede begraafplaas ook. Ek is tevrede. Die dooies, die voorouers van baie, het aandag gekry.

IMG_1585 LEIPOLDTVILLE LAERSKOOL

Leipoldtville se laerskool

Dis laat agtermiddag wat ons op Donkieskraal aankom.  Daar brand ‘n vuur. Maar voor ek daarby kom, laat ek eers vertel van die  volgende verrassing. Nou moet ek moet eers teruggaan na die dae en weke voor hierdie Victor familie naweek. Ons het gereël dat Olive en Allana ons huis moet oppas en na die hond moet kyk.   Spesiaal vir hulle kos en lekkernye gekoop wat hulle dan kan geniet op my rekening. Die Donderdagaand/Vrydagoggend moeite gedoen om die huis se sleutels by haar uit te kry. Notas geskryf vir haar aandag – al die moets en moenies. Daar moes nie fout kom nie….

Ewenwel, ons kom daar aan op Donkieskraal, die vuur brand hoog en Andre en Corrie se seuns met hulle kinders en vriendinne/vrouens is daar en dit lyk te vrolik. Maar ek sien hier sit ‘n dogtertjie wat darem baie na Allana trek maar omdat dit nou ‘n familie fees is, is die moontlikheid sterk dat daar baie is wat na mekaar kan lyk. Maar na ek my oë so  ‘n  paar keer geknip het en sy nader kom en ‘hallo Oupa’ sê, tref dit my! Dit is dan die laaste verrassing wat hulle vir ons het. Olive en ander vroue kom daar van die bos se kant aangestap en  ek besef hóé  erg hulle moes gekonkel het. Hulle het ook al die vorige aand aangekom en op die buurplaas by Johan Victor tuisgegaan. Alles fyn beplan.

IMG_1829  Blik op Johan Victor se woonplek

‘n Blik op Johan Victor se blyplek, Sandberg

Ons vertrek feitlik dadelik weer met ‘n 4 x 4 voertuig om na die wild te gaan kyk en foto’s te neem.

IMG_1746

Op pad na die Koedoes en Kameelperde

IMG_1766 Prins Willem Klip

Prins Willem Klip. Soveel bronne, soveel  weergawes…

Ons kry koers in die rigting van Prins Willem Klip. Duikertjies is volop en laat spaander vir ‘n vale as hulle die voertuig hoor aankom. Ons sien groot wild maar dis hopeloos te ver vir die kamera en ons beweeg aan. Ons merk ‘n groot trop op en dog dis koedoes maar met die naderkom-slag sien ons dis ‘n trop elande. Hulle staan onrustig en kyk na ons oor ‘n afstand van ongeveer 200 meter. Die wind waai reg en ek besluit om hulle te bekruip. Met elke tree wat ek gee,  neem ek foto’s. Hulle bly staan en ek gaan nog nader. Ek beweeg stadig om ‘n groot bos en wanneer ek agter die bos uitkom, is ek ongeveer 50 treë van hulle. Die ondergaande son skyn mooi oor hulle vaal velle en gee dit ‘n  ligbruin kleur en ek skiet mooi vol skote met verkillende verstellings aan die kamera. Hulle kyk steeds in my rigting. Ek was net mooi tevrede en wou begin terugstap toe hulle soos een man daar wegdraf met helse gedruis. My dag was gemaak. Nou moet ons nog net die twee kameelperde opspoor. Ons ry nog etlike kilometers en gewaar in  ‘n stadium die antenna oortjies van die kameelperde maar toe ons daar kom waar hulle gestaan het, is hulle net skoonveld.  Ek kry darem nog kans om ‘n goeie skoot van Prins Willem Klip te kry voordat dit té  donker raak.

IMG_1764

Die maan bekruip ons al maar die Kameelperde bly weg…

Ons keer donker terug na die kampplek. Die vure brand hoog en daar word gebraai maar die Muisboskerm se kos is nog te sterk in die geheue. Ons gesels weer,  maar hierdie keer gaan slaap die vrouens nóg  vroeër. Die dag het sy tol geëis.

Middernag loop ek steeds rond op soek na iets om vas te vang met die kamera. Ek kry my lê. Dis reeds Sondag. Die slaap kom gou.

IMG_1888

Bloukopkoggelmander. Sy voorvaders het saam met die klippe daar aangekom.

IMG_1783

Die ingang na die konferensie- en onthaalgeriewe. Mooi loop hier…

Met die breek van die dag kan ek sien dat hierdie dag die vorige twee gaan oortref. Nie ‘n wolkie in die lug nie. Matige hitte. Ek stort en loop tussen die chalets en tente deur na die sogenaamde sirkel en konferensie geriewe. Ek merk op hoeveel water met die nagdou versamel is in die rotspoele en ander plekke. Een so ‘n poeletjie sal genoeg wees om een mens se dors te les vir die hele dag. Dit moet net opgeskep word voordat dit verdamp. Presies wat die Boesman ook gedoen het toe hulle nog daar gewoon het. Ja,  die bewys is daar – teen die rotswande van grotte op die plaas. Hierdie tekeninge is grafies opgeneem in die logo van Donkieskraal. ‘n Ongelooflike deel van die geskiedenis van hierdie Sandveldplase. Lees meer oor Donkieskraal hier: www.donkieskraal.co.za

IMG_1816 - Copy Kudu

Koedoe. Een van vele op die plaas maar die enigste een wat na genoeg was vir ‘n foto.

Maar my rustige wandeling was van korte duur en swaer Andre verneem of ek wil saamry na sy huis om goed te gaan haal wat nodig is vir die brunch. Hy dui aan dat ons sommer oor die berg gaan ry want dit is ‘n aansienlik korter (maar moeiliker) roete. En ek besef dadelik: Hier kom dit nou! Die Big Dip waarvan hulle al die heel naweek praat maar niks daaroor verklap het nie. Maar ek is ‘n dapper muis – ek skrik vir niks. Wel, vir amper niks.

IMG_1687 Ingang by Aan Het Berg

Aan Het Berg se ingang. Eers bekend as Zoutkloof. Rina Theron (Zeelie) boer hier. Op haar dag Boer van die Jaar. Ook bekend as die Aartappel Koningin van die Sandveld. Haar oorlede man, adv. Marius Theron, was die dryfveer agter die daarstelling van elektrisiteit aan hierdie gebied. Die opbloei van die aartappel bedryf sou spoedig daarna volg…

Die rit is stamperig en ek sukkel om ‘n foto geneem te kry en gee later op. In ‘n stadium vra swaer vir my of ek alles vas het. Ek sê ja. Ek het die kamera deeglik vas en ek kry daai gevoel  dat hy nie die vraag onnodig gevra het nie. Hy tel ‘n bietjie spoed op en die volgende oomblik verdwyn die pad hier voor en onder ons. Ratanga Junction sal hulle hindernisse van voor af moet herontwerp. Hierdie Big Dip  is Ratanga Junction se  moses in ‘n oortreffende trap. Die bakkie tuimel daar teen die afgrond af, helaas darem nog op sy wiele maar dit voel kompleet of daai laaste koeksister van die Muisbosskerm nog nie laag genoeg gedaal het nie, want ek proe ‘n stropie in my mond. En skielik is dit verby.

Iewers vorentoe  in die nag gaan hierdie episode nog by my kom spook!

IMG_1548 Berg agter Andre se huis 3

Bobbejaanberg. Deel van Aan Het Berg

Willem, Olive, Marlene, Andre jnr., en Johan heel voor

Willem, Olive, Marlene, Andre jnr. en lêende, Johan

IMG_1825 Luiperd spoor

Op die spoor van die luiperd…

Die volgende spook was gou op ons want toe ons gedwing word om te stop weens erge diep erdvarkgate sal ons met die nader stap, die yslike poot van ‘n luiperd sien. Toe ek af buk om ‘n foto daarvan te neem,  kyk ek eers behoorlik rond om seker te maak dat hy/sy nie vir ons lê en loer nie. Swaer verseker my dat daar genoeg goeie vleis in die veld is waaraan hy kan lê en kou as hy honger is.

Corrie se veldtuin

Corrie se veldtuin

IMG_1838 DE BEER ALBERTUS 1924-1964

‘n De Beer graf in die begraafplaas van Aan Het Berg

Op Aan Het Berg aangekom, kry ons haastig die goed en ry daarna eers aan by die familiebegraafplaas van vorige eienaars van die plaas, die De Beer familie. Die grafstene word sorgvuldig afgeneem. Die een graf het geen naam op nie. Ek kan sien dat dit dalk die oudste een kan wees. Wie sou dit wees…?

Terug op Donkieskraal brand die vuur steeds, die kole word reg gekrap en daar beland ‘n uitermatige groot beesfilet op die rooster. Dis veronderstel om ‘n laat ontbyt te wees. Andre junior is hierdie keer die braaier en die eindproduk is presies soos ek daarvan hou: ‘n goeie veearts sal nog iets kan doen vir dié  bees! Die dik gesnyde filet  skywe met slaai  is weereens iets uit ‘n ander wêreld. Dis goeie kos, voorberei deur goeie mense. Na die heerlike ete raak almal haastig want daar is ‘n twee en ‘n half uur pad wat gery moet word deur die meeste van ons.

Ons groet oor en weer. Dis met groot hartseer dat ons afskeid neem maar ook met groot dankbaarheid. Ons, as gaste van Corrie en André, was absoluut op die hande gedra. Niks was vir hulle moeite nie en geen kostes was ontsien nie. Tipies van mense wat goed wil doen aan ander en dit dan doen!

IMG_1558 Werkershuis Aan Het Berg

Werkershuisie op Aan Het Berg

Ons ry. Andre jnr. bestuur. Dis basies net ek en hy wat praat. Die ander is stil. Herkou aan die heerlikhede van die naweek. Elkeen besig met sy/haar gedagtes. Die werklikheid het nog nie lekker ingesink nie. Die naweek is verby.

Ons kom veilig by die huis aan maar dis asof iets nie reg is nie. En weer tref dit my: die vuur! Daar is nie ‘n vuur nie! Die vuur moet dadelik aangesteek word!  Estelle gaan koop vir ons vars vleis. En daar sit ons. Dissekteer  die naweek. Deel ons gedagtes met mekaar. Praat oor dinge wat verby is. Oor ‘n naweek wat verby is. Oor mense wat ons lewens verryk het.

Weereens baie dankie, Andre en Corrie. Kinders van Koos Victor en  Adam Zeelie. Van Olive James en Rachel Pio.

‘n Spesiale woord van dankie ook aan die Laubschers. Aan Annemi en Jackey.

© 2015 Johann H CLAASSEN

© 2015 Johann H CLAASSEN – alle foto’s is deur myself geneem tensy anders aangedui

cropped-img_1753-copy-elande.jpg

Elande

 

Post Navigation