johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Tom July

Julie maand laat my dink aan ou Tom. Tom July van Oudtshoorn. Saam met ons drie oudste kinders groot geword daar op Saffraanrivier in die distrik van Oudtshoorn. Met die toentertydse veldkornetskappe het dit bekend gestaan as die Attakwaskloof – wyk. Pragtige natuurskoon soos net die Klein Karoo dit vir jou kan aanbied.

Tom en sy broer, Ben, kinders van Ben en Sarah, het ons geleer hoe om kleilat te gooi en met die spekbome teen die walle van die Saffraanrivier af te gly tot binne in die water – AS daar water in was want dit het nie gereeld gereën in daardie geweste nie. Saam het ons in die dassiegrotte rondgekruip, op koue oggende met ons kaalvoete in die warm beesmis gestaan, roosterkoeke wat Sarah vir ons saam veld toe gestuur het, op die oop vuur gebraai en al die ander gewone kwajongstreke beplan en uitgevoer.

Nadat ons die skool verlaat het en Tom en sy broer Ben op die plaas begin werk het, het ons met ons besoeke aan ons ouerhuis, altyd ook ‘n draai gaan maak by die huisie van die July’s. En dan het hulle ons aangespreek as kleinbaas Johann of Kleinbaas Eugene en so het dit kleinbaas gebly tot ons(Tom en Ben inkluis) al oor die vyftig was – ewe oud, maar kleinbaas sou dit bly.

Tom het later op ‘n ander plaas gaan werk en almal van ons het maar elkeen sy lêplek gekry, maar my broer Ernest het op Oudtshoorn nes geskop. En kort voor lank het Tom uitgevind waar Ernest bly en dit sou dan sy half-uur kuierplek word op ‘n Saterdag oggend. Daar sou hy (soms) skuifelend naderkom, hoed in die hand en met groot respek, kom groet. As ek toevallig daar was, moes ek eers vertel wat die nuutste nuus in die GROOT STAD (Paarl!) is. Dan het ons gelag en gepraat oor die ou dae. Tom was, soos die oumense sou sê, in vervoering tydens sulke oomblikke en oor al die aandag wat hy gekry het. En klokslag elke Saterdag het Ernest vir Tom ‘n glasie wyn gegee – goeie wyn. Dan het Tom dankie gesê en weer die pad gevat na sy mense.

Maar dit het ook menige kere gebeur dat Tom reeds die Vrydag agtermiddag al dorp toe gekom het en na die inkopies ensovoorts, het hy ook by die OOG aangegaan. En natuurlik ‘n ietsie geneem. Vir die warmte of die koue sien. Want vir al die seisoene is daar mos gepaste drinkgoed. Dan, as ou Tom sien hy gaan dit nie maak tot by die staaning nie, het hy donker se kant na Ernest se huis gegaan en homself tuis gemaak op my broer se 30-jarige geel Nissan bakkie wat, soos almal in die dorp geweet het, buite die garage gestaan het. Daar sou ou Tom nou sy roes afslaap en dan weer die volgende oggend douvoordag die pad vat. Hy sou nooit my broer op ‘n Vrydagaand pla nie, want dit was nie kuiertyd vir hulle twee nie. So het dit dan partymaal gebeur dat my broer ook douvoordag moes ry en het hy dan vir ou Tom daar gekry en hom sommer huistoe geneem.

Die laaste bakkie-slaap van ou Tom was op oujaar 2009/2010. Toe die son op 1 Januarie 2010 opkom, lê hy wat Tom is, nog steeds en slaap met ‘n nuwe kitaar styf teen hom. Hy moes ietwat te veel ingeneem het die vorige aand, want Ernest het omtrent gesukkel om hom wakker te kry. Ieder geval, hy is toe op en nadat hy gesig gewas het, wou hy darem net eers ‘n nommertjie op sy nuwe kitaar speel. En ou Tom KON speel. Gelukkig het my broer ook daardie dag die wysheid gehad en ‘n foto van ou Tom geneem – sommer met die selfoon want Tom sou nie pose vir ‘n foto nie. Sy nuwejaar het goed begin maar nie lank gehou nie…

‘n Maand of twee daarna, kom Tom se vrou daar by Ernest aan. Ook op ‘n Saterdagoggend soos dit die gewoonte van ou Tom was, en Ernest sê dat hy sommer dadelik weet daar is fout. Tom sonder sy vrou was heel normaal, maar sy vrou sonder hom, kon net een ding beteken. “Nee, sê sy, kleinbaas Ernest sien, Tom het so twee weke gelede vir my gesê as hy eendag moet doodgaan, moet ek sôre dat kleinbaas Ernest daardie vet hans-hamel kry, want hy maak dit spesiaal groot en vet vir kleinbaas Ernest.” “En, vervolg sy, nou moet kleinbaas Ernest maar die hamel kom haal want hy is gisternag weg.” En sy vertel hoedat hulle weer ‘n social daar by hulle huisie gehou het en dat dinge later hand-uit geruk het. Hulle het vir Tom bewusteloos geslaan, in die huis terug gegooi en die huisie boonop aan die brand gesteek!

Hierdie een is op ou Tom en sommer vir al die ou Tomme wat dalk ook eens op ‘n tyd julle lewens verryk het.

[Tom se foto is deur Ernest geneem en die foto van Ben en Sarah se huisie, is deur Eugene geneem in 2008.]

Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: