johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

BRIEWE VAN MY MA

Toe ek die huis verlaat in 1971, was dit ‘n baie hartseer dag vir my moeder sowel as vir my. Nou, ná 39 jaar, het ek dit goedgedink om dit te transkribeer en publiseer – verbatim, met foute en al. Ek was Ouboet genoem deur my ouers, broers en niggies en neefs, maar hier skryf sy aan my op my doopnaam. Die briefie het sy by die koekies, wat sy tog so lekker kon bak, ingesit. Natuurlik geweet dit sou die eerste goed wees wat ek sou oopmaak. Omdat ons op die plaas gebly het, het ek vir ‘n paar dae by tannie Driena gebly in die dorp. Sy maak met hierdie brief seker dat ek nie vergeet van die mense wat vir my goed was nie.

Bus 5

Oudtshoorn

19/1/1971

Hallo Johannes,

As jy dit oop maak is jy seker al by jou bestemming. Ons sal baie verlang my seun. Al het ons ook hoe geraas, ons het julle almal ewe lief my kind. Jy is nou die eerste om uit die huis te gaan, pas jou goed op hoor moet nie agter slegte maats gaan nie en onthou jou ouers my kind . Eendag as jy terug kom is jy al seker ‘n verstandige seun jy is nou ook my kind. Ek weet jy kan op jou eie bene staan wees ‘n man my kind. Eet maar lekker aan die koekies en dink aan ons en as jy jou geld kry kan jy vir ant Driena ‘n mooi present koop wat jy dink sy die meeste sal waardeer vir die bly daar want sy wil nie geld hê nie. Skryf vir ons as jy daar kom en sê hoe jy dit daar vind. Vandag is ek weer alleen. Ernest is ook weg en die ander is skool toe en Nico is maar hier rond. Sluit jou geld toe en moet nie vir ander wys hoeveel jy het nie hulle sal dan net uit jou wil hê. Jy sal weet hoe om te maak jy weet die maand is lank en dit is jou eerste salaris wat jy kry . Verbrand maar die ou briefie want miskien sien ander wat ek skryf dan dink hulle sleg van ons en dan sal hulle miskien dit eers doen. Verskoon tog die handskrif want ek voel maar hartseer ek kan nie mooi skryf nie. Ek sê maar tata my kind. Ek gaan baie verlang hoor. Xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx Soentjies van Pappa & Mamma. Xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx .

Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: