johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

OLIVE GRACE JAMES *9 DESEMBER 1925 † 19 Julie 2009 ~ ’n KORT LEWENSKETS

‘n Kort Lewenskets


OLIVE GRACE JAMES

Saamgestel deur haar skoonseun, Johann H Claassen

Dit sou net niks minder nie as reg wees dat ek hierdie kort lewenskets van Ma Olive saamstel. Ek ken haar al twee en dertig jaar, weliswaar nie so lank as haar eie kinders nie, maar lank genoeg om enkele aspekte van haar lewe met die res wat agterbly, te deel. Ek is geweldig dankbaar vir die voorreg en geleentheid om dit wel te kon doen.

Olive Grace JAMES is gebore op Woensdag die 9de Desember 1925 in ‘n warm hospitaal van Pietermaritzburg as die 10de oudste van 12 kinders en die derde oudste van 4 dogters van George William JAMES en Florence Josephine WARNER.

Uit die aard van haar vader se werk, het die gesin op verskeie plekke in die Republiek gebly, onder andere in Durban, Oos-London Somerset-Oos, Johannesburg, Jagersfontein, Beaufort-Wes en Worcester.

Olive trou op 30 November 1949 te Kaapstad met Jacobus Adriaan VICTOR gebore 24 Augustus 1923 te Laingsburg en seun van Jacob VICTOR en Susanna Maria BOTES. Uit hierdie huwelik word vier kinders, naamlik Jacob, Adriaan, Estelle en Ronel gebore.

Ma Olive self, het op verskeie stede en dorpe van ons pragtige land gebly, nie omdat sy daarvan gehou het om rond te reis nie, maar weens omstandighede buite haar beheer. Sy het eendag aan my genoem hoeveel keer sy al getrek het, maar dit ontgaan my nou weens die omvang daarvan. Na die dood van haar kinders se pa, Jacobus Adriaan in 1968, moes sy die meeste van die tyd as alleen-ouer haar kroos self grootmaak, voed en klee. Die twee huwelike wat sy noodgedwonge moes aangaan om ‘n vader en versorger vir die gesin te hê, was nie sonder probleme nie en het dit die kwaliteit van ‘n vrou soos Olive geverg om die wa deur die drif te trek. Skilder vir jouself dié prentjie: ‘n Vrou, ‘n ma, met vyf monde om te voed en te klee, skool toe te stuur, te help met huiswerk en sorg dat die klere gewas en gestryk kom; dis die vroeë sestiger jare, die land is deurmekaar en redelik onveilig; die oudste seun is op daardie stadium skaars agtien en die jongste een, Ronel, skaars drie jaar oud. Jacob moet noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk sodat daar ‘n ekstra inkomste is. U sal nou vir my sê dat daar baie gesinne gereeld in dieselfde bootjie is of was. Dit is baie waar ja, maar dit is ma Olive waaroor ons nou praat. Dis haar en haar gesin se swaarkry dae wat ek hier probeer skets. In die huidige tydvak waarin ons is, slaag ‘n enkel moeder weinig daarin om met al die hulpmiddels tot haar beskikking, slegs een kind groot te maak.

Die prentjie wat ons uiteindelik hier kry is een van ‘n moeder wat net die beste vir haar kinders wou gedoen en beding het. ‘n Moeder wat ongewilde besluite moes neem om die beste onder die omstandighede vir haar kinders te bied. Moontlik het die kinders, vriende en familie nie daardie tyd verstaan nie, maar ek glo dat hulle dit wel nou kan verstaan. Waar pa Koos gereeld die gesin op uitstappies na familie en vriende elders geneem het, kon dit nie meer geskied nie. Waar hy vir hulle op ‘n Saterdag middag bioskoop toe geneem het, kon dit nie meer gebeur nie. Maar ma Ollie het sterk gestaan en deurgedruk. Die twee dogters is deur matriek maar die seuns moes uitspring en help. So jammer dat so min mense daarvan geweet het; of daarvan geweet het en so min daaraan gedoen het.

In lewe het sy twee van haar seuns aan die dood afgestaan. Trou aan haar roeping as moeder het sy, sonder om aan haar eie verdriet te dink, die leiding geneem en haar skoondogters bygestaan met raad en daad, hulle vertroos en die reëlings laat vlot.

As ouma het sy vêrder gegaan en vir Cornelia feitlik enkel en alleen opgevoed en grootgemaak tot en met haar “grootmens jare”. Sy het al haar tyd, energie en materiële vermoëns in haar laaste jare vir ander gegee sonder om iets terug te verwag.

As daar nou en dan medaljes aan moeders wat hulle onderskei het, uitgedeel moes gewees het, dan moes ma Olive ten minste twee gekry het. Een, omdat sy hierdie omgee moeder vir haar gesin en kinders was en ‘n tweede, omdat sy hierdie taak met bomenslike bekwaamheid verrig het.

In haar laaste jare het sy geluk gevind in die persoon van oom Willie GERMISHUYS van Viljoenshof. Hoewel hy haar ook ontval het na slegs ‘n paar jaar van getroude lewe, was hierdie twee oumense ‘n gelukkige paartjie; Oom Willie, ‘n sorgsame man vir haar en een vir wie die kinders, toe al groot, Pa kon gesê het. Natuurlik het oom Willie baie dae sy kop geskud vir hierdie energieke vrou van hom, maar hulle het bymekaar gepas soos koek en ‘n basaartafel. Die een sou heel uit sy plek lyk sonder die ander.

Ma Olive was een wie met almal kon klaarkom en vriende het gereeld van heinde en vêr gekom om darem net eers ‘n draai by tant Olive te kom maak. Sy het soveel mense se lewens aangeraak. Van die geringste tot die belangrikste.

Sy het ook die gawe gehad om enige verwaarloosde tuin in ‘n ommesientjie te omtower in ‘n lushof. Spreekwoordelike groen vingers gehad. Ons praat egter nie van die klomp opdragte wat sy uitgereik het om haar doel met die tuin te bereik nie. Die hele familie was betrek en as jy as vreemdeling te ná aan die tuinhekkie verby gestap het, was jy ook gou-gou deel van die span.

As buitestander kon ek sien hoe die finale reëlings deur die vertrekkende matriarg self getref word(die kinders sou dit dalk nie so opgemerk het nie); André en Corrie moes op ‘n sekere tyd spesifieke goed kry, Estelle weer hare. Haar “Onthou om die rose te snoei só en sulke tyd. Moenie hierdie en daardie op dieselfde plek of dieselfde tyd plant nie. Maak dít nóú nat en los dáárdie vir volgende maand” was vir my sulke duidelike tekens. En terwyl sy by my aan tafel in die kombuis die Saterdagoggend haar soveelste sigaret opsteek en Estelle en die kinders op hul soveelste rit na die Mall vertrek, vertel sy vir my van haar grootste droom wat nooit kon waar word nie: Om haar eie Kwekery te kon besit. En ek weet, sonder om vrae te vra: Ma Ollie sou ‘n sukses daarvan gemaak het! Ek sien nou nog die oë wat dáár kyk waar ek nie kon sien nie.

Op haar laaste het sy vir Ronel en Johannes aan die gang gesit om tog asseblief die hangende varing-mandjies gereed te kry vir die plantjies. Renier moes sorg dat daar genoeg mis beskikbaar is. Maar die Dood vra nie of die plantjies al geplant is nie. Hy kom haal somtyds die tuinier voor die oes al af is.

Sy sou aandagtig luister as jy ‘n probleem stel en was altyd reg met raad. Raad wat partykeer vir ons veel outyds geklink het, maar agterna, na baie jare veel sin gemaak het. Die kleinkinders kon haar dalk anders beleef het veral as hulle haar blomplantjies verniel het of met hulle vuil voete die huis ingekom het. Maar sy was onvoorwaardelik lief vir hulle en het altyd met groot trots oor elkeen gesels. Sy het met ewe veel trots van haar eie kinders gesels tydens én buite hulle teenwoordigheid. Elkeen was spesiaal. “Senior oomblikke” het nou wel gesorg dat Estelle vir ‘n oomblik Ronel was en andersom. Ons kon altyd saam daaroor lag.

As aangetroude in die familie het ek altyd net die beste behandeling van haar ontvang. Sy sou moeite doen om dit vir my so aangenaam en lekker as moontlik te maak. Ek het regtigwaar soos die een of ander bekende persoonlikheid gevoel as ek by haar gaan kuier het daar op Viljoenshof, later op Hermanus en nog later daar op Worcester. Spesiale disse sou voorgesit word en die beste eetgerei was uitgehaal. Twee goed sal my altyd laat lag as ek aan my kuiers daar by haar dink. Met my eerste besoek aan haar – toe ek nog na Estelle gevry het – het ek ook maar probeer om die beste voetjie voor te sit. Sy het ‘n waterblommetjie bredie voorgesit die dag en ek het per ongeluk die hele bottel tamatiesous in my bord uitgeskud. Sy het al te lekker gelag. Die ander keer, toe al ‘n groot man van kinders, het ek en haar seun Jacob, of Boetie soos almal hom genoem het, een aand laat – dit was eintlik laatnag – nadat die vleis nou al gebraai was en die mense al geëet het, pa Willie se heilig bewaarde ‘spider gums’ bly gooi op die vuur en bly gooi aan die wynkruik wat nie wou leeg nie. Omdat dit so lekker op die plaas was en die nag so stil was, het ons dit goed gedink om die stilte so ‘n bietjie op te vrolik met ons sang. Dit het te mooi geklink en die liedjies se woorde het selfs geëggo na ons toe terug kom daar van die berg se kant af. Dit was vir ons net te mooi. Maar ma Olive het weer nie so gedink nie. Sy het dit haar plig geag om ons twee keer te versoek om sagter te praat en te sing of heeltemal stil te bly. Ons, aan die ander kant, het weer gedink dis ons reg as groot manne om uiting te gee aan ons sang talent. En so sing ons voort. Die volgende oomblik hoor ek ‘n harde klap geluid, toe val hierdie groot man hier langs my bo van sy stomp af soos ma Olive hom klap. Doodstil. Ek het nie eens gelag nie. Ek hoor net die nag geluide, Boetie op sy beurt, die gesuis in sy kop.

Iets wat ek myself nooit kon vergewe het nie, was die aand in Ceres se Dennebos toe ek, op haar vraag aan my hoekom daar sulke blou vlamme uit die wingerd stompies kom, vir haar vertel dat dit die alkohol in die hout is wat hierdie blou kleur veroorsaak! Ek kon my nooit sovêr kry om haar om verskoning te vra vir my leuen nie. Haar oë het my daardie aand vertel dat sy elke woord glo!

Olive Grace James was nie jou gewone vrou nie. As daar destyds ‘n vroue Springbok span was, sou sy die keurders se outomatiese keuse gewees het en as sy ‘n lid van die parlement was, sou sy die president se eerste keuse gewees het om in die kabinet te dien.

Sy was moeder, vader, diplomaat, skeidsregter, vegter, tuinier en bowenal lief vir die mense rondom haar.

‘n Formidabele vrou in eie reg.

DOMINUS TECUM

En of dié uur vêr en vergete word,

en of die jare tussen jou en my

hul seile span, die see sy golwe stort,

of selfs die Dood sy somber baken steek,

nogtans sal jy aan my gebonde bly

met die onsigb’re naelstring wat nie breek.

Verbatim uit: Die Moeder van Elizabeth Eybers (16.2.1915-1.12.2007)


Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: