johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

“Ek wil ook op ’n paal sit!” – die storie van ‘n ongewone vrou.

Niemand kan eintlik aanspraak daarop maak dat hy/sy regtig sy/haar familie ken nie. Tydens my jare lange navorsing van my eie familie, het ek telkemale gedink: nou het jy omtrent alles al gehoor van jou familie! Net om daarna uit te vind dat ek nog nie eens die helfte gehoor het nie.

So gebeur dit dan dat Edward Waterson, ‘n oom van my, ‘n tyd terug vir my vra of ek weet van Petro née Pozyn(nou Jageman), my niggie, wat op die paal was. Dis nie eintlik hoe ek ‘n dame sou beskryf wat verwagtend is nie, maar hy help my gou reg. Hy wil weet of ek die storie ken van Petro wat ‘n rekord behaal het as die eerste vrou in die wêreld wat die langste op ‘n paal deurgebring het. Jy kon my met ‘n veertjie omtik! Hoewel ek vir ongeveer veertig jaar geen kontak met Petro gehad het nie, was ek in daardie stadium reeds meer as ‘n jaar met haar in verbinding op ‘n gereelde grondslag. Sy het egter nooit die storie van die paalsittery aan my genoem nie. Synde the Keeper of the family archives, kon ek eenvoudig hierdie storie nie daar los nie!

Ek verneem by haar maar sy is heel beskeie daaroor en sê dat dit eintlik niks is nie. Ek vra so ‘n bietjie uit en kom agter dat dit amper twee jaar was dat sy daar bo in die lug deurgebring het! En sy dink nie veel daarvan nie! My hemel, dink ek, ek kan nie eers tot by die boonste trappie van ‘n korterige leer vorder nie. En hoë, stewige wolkekrabbers is ‘n no-go vir my. Tafelberg se karretjie is totaal en al verbode!

Die Stellasie

Die ding het so gekom. Hier 1992 se stryk, lees Petro van ‘n ene mnr. Jackie Meadon wat by ‘n inkopiesentrum in Kempton Park op ‘n paal deurbring, enersyds om ‘n rekord in die verband op te stel en andersyds om geld in te samel vir gevangenes wat uit die gevangenis ontslaan word om hulle sodoende te help om weer op die been te kom.

Sy neem dadelik die pen op en skryf ‘n redelike lang brief aan die Kempton Express om haar misnoeë te kenne te gee. Sy reken dat daar ander meer verdienstelike gevalle is en sê dat dit eintlik baie slim is van mnr. Meadon om aan iets te dink soos paalsit. “Daar sit hy nou hoog en droog op ‘n paal en toekyk hoe honderde ander in ‘n dolle gejaag oppad is na hul daaglikse werk, terwyl hy handjies gevou sit,” skryf sy. Sy gaan voort deur te sê dat as iemand vir haar ook ‘n paalhuis kan oprig voor haar werkplek, sy dieselfde sal doen, behalwe om dan nog steeds voort te gaan met haar eie werk as ontvangsklerk by Hoppy Motors in Birch Acres. Sy brei uit en sê dat sy, terwyl sy daar sou sit, truie sal brei en ander artikels sal maak wat verkoop kon word om as bydraes gebruik te word vir die bejaardes in die gemeenskap. Sy sluit af deur te verklaar “…sal ek sowaar twee jaar daarbo bly.” Hierdie brawe woorde van haar moes seker baie mense laat regop sit het.

Die organiseerder van mnr. Meadon se paalsittery, Willie Peyper, reageer op die berig en verduidelik mooi waaroor dit eintlik gaan en rig ook terstond die uitdaging aan haar dat sy sommer op Kersdag 1993, wanneer Meadon afklim, die paal moet bestyg en begin met haar aanslag op die rekord.

Die mense vertel my dat jy nou nie eintlik uitdagings aan Petro moet rig sonder om ‘n teenreaksie te verwag nie. Die lewe van Petro, tweede oudste kind van John Christiaan Pozyn en Isabella Jacomina Waterson, sou daarna nooit weer dieselfde wees nie. In die maande wat daarop volg, was sy seker die gewone burger in die land oor wie die meeste geskryf is – hier en in die buiteland.

Sommige van die meer as 40 koerantberigte wat verskyn het

In die week nadat die berig verskyn het, het ‘n storm om haar kop losgebars. Mense het begin om openlik na haar te verwys as ‘die mal vrou’, sommige het gebel om hulle ondersteuning aan te bied en ander weer om haar prontuit aan te val oor háár aanval op Jackie Meadon. Onder die klante van Hoppy Motors was daar gemengde gevoelens. Hoewel besigheid die hoogte ingeskiet het, was daar weer ander wat haar werkplek geboikot het.

Petro het egter nie op haar louere gerus nie en het in dieselfde week kennis gaan maak met Jackie Meadon en die organiseerders en terselfdertyd die lug tussen haar en Meadon gesuiwer. Die Kempton Express was ook teenwoordig en teenoor hulle het Petro se man, Johan, opgemerk dat sy vrou sommer maklik vir twee jaar op die paal sou sit. Sy woord kon nie in twyfel getrek word nie, hy was immers met haar getroud en het geweet dat jy nie sommer vir Petro sou keer as sy eers haar kop op ‘n ding gesit het nie. Tydens hierdie byeenkoms het sy dit duidelik gemaak dat sy nie net Meadon se rekord wou verbeter nie maar dat sy R2.5 miljoen wou insamel vir bejaardes en minder bevoorregtes in haar gemeenskap.

Hoewel daar mooi aan haar verduidelik is dat sy byvoorbeeld glad nie haar kinders, wie almal onder die ouderdom van 18 was, sou kon sien gedurende haar paalsittery nie, het sy nogtans volgehou dat dit is wat sy graag wil doen, kom wat wil.

“Vrou sukkel om op paal te kom,” rapporteer die Transvaler te midde van haar reëlings om ‘n stellasie by haar werk op te rig. Die munisipaliteit het haar aansoek afgekeur omdat sy nie voorsiening kon maak vir parkeerplek vir 1000 motors nie. Hierdie wending het ook ‘n vêrdere terugslag ingehou deurdat sy nie haar werk kon behou nie. Sy was egter nie van plan om die handdoek in te gooi nie. Alternatiewe planne móés net eenvoudig gemaak word.

Daar het nou feitlik weekliks ‘n berig in die een of ander koerant verskyn oor die vrou wat die paalsit rekord wil breek. Intussen het die reëlings ook goed gevorder vir die oprigting van haar eie stellasie by die East Rand Mall. Alles is in gereedheid gebring vir haar aanslag wat op 2 Januarie 1993 ‘n aanvang sou neem. Die rekord op daardie stadium was 525 dae en Petro se mikpunt was 603 dae. Haar dogter, Jeanette, het belowe om haar ma te borg teen een sent per dag en haar haar nuwe mikpunt was om R5 miljoen vir die SA Raad vir Bejaardes in te samel met haar poging. Mnr. Jackie Meadon wat in daardie stadium reeds 60 dae op sy stellasie gesit het, het laat weet dat hy twyfel oor Petro se voorgenome planne en dat hy seker is dat sy nooit sal begin nie.

Petro se ma het laat weet dat as sy daar in Kempton Park was, sy vir Petro ‘n pak slae sou gegee het. Die spanning was besig om op te laai.

Petro, wat hierdie groot besluit op die ingewing van die oomblik geneem het, het intussen ernstig begin dink oor haar voorgenome planne. Daar was aanvanklik ook by haar twyfel maar elke keer as sy gedink het aan die bejaardes wat so swaar kry, het sy net meer begeesterd geraak om ‘n verskil in hul lewens te maak. Sy sê die tyd wat sy by AVBOB en ‘n apteek gewerk het, het haar in aanraking gebring met die mees hartverskeurende verhale onder die oumense en het sy haarself belowe dat sy eendag iets positief vir hulle sal doen.

Vir die amptelike ‘opklimdag’ het Petro reeds voorsiening gemaak in die vorm van poppe wat sy vooraf gemaak het om op daardie dag te verkoop. Daar was beloftes van familie en vreemde mense dat hulle gereeld vir haar sou kom besoek. Synde iemand wat gehou het van video speletjies en naald- en breiwerk, was sy oortuig dat sy nie vervelige oomblikke sou beleef nie. Daar is ook vasgestel dat haar kinders haar wel bo-op die paal mag besoek. Sy wou nie so baie waag nie aangesien sy persoonlik vir R200 000.00 verantwoordelik gehou sou word indien sy die bepalings van haar kontrak met die borge en organiseerders verbreek. Sy moes onder andere haar huis as sekuriteit aanbied.

Petro se huisie vir 534 dae

“Petro’s ready for life up the pole!,” basuin die Sunday Times dit uit in die vierde berig wat hulle dra oor Petro se planne. Dis kort voor D-dag. “I am looking forward to my stay up there, away from the hustle and bustle of the rat race,” laat blyk Petro teenoor die koerant.

The Citizen plaas op 5 Januarie 1993 die eerste amptelike foto van Petro op haar stellasie wat 13 meter hoog bo die grond uittroon. Sy vertoon nog heel goed en is opgeruimd. Sy is begeesterd en vol selfvertroue.


Petro se tweede dag op die paal

As sy gedink het sy is ontslae van die gewone probleme wat met ‘n huishouding verband hou, het sy dit verkeerd gehad want op 5 Februarie 1993 berig die Boksburg Advertiser dat haar huisie se dak erg lek na swaar reën die vorige nag. Hulle kry haar waar sy besig is om die plek droog te vee.

“Petro’s spirits are still high,” verseker die Boksburg Advertiser hul lesers op 26 Februarie 1993. Petro sê dat sy haar ma baie mis en dat sy daarvan sou gehou het as meer mense haar sou kom besoek het. Die publiek hoor dat sy haar tyd verwyl deur te luister na die radio, die maak van poppe en die trap van haar oefenfiets. Tot op daardie stadium het sy reeds 305 km afgetrap met haar fiets. Tussendeur ontvang sy ook baie telefoonoproepe. Sy sê vêrder dat sy nie verveeld is nie en dat die dae eintlik te kort is. Sy nooi mense uit om haar te kom besoek aangesien sy ten minste twee besoekers per dag moet ontvang om te kwalifiseer vir die rekord. Op Valentynsdag het haar gesin haar verras met ‘n “braai in the sky.”

The Star beskou haar as “…a brave woman prepared to give up two years for a good cause.” Op 26 Februarie 1993, na 56 dae tussen hemel en aarde, staan sy ‘n breedvoerige onderhoud toe aan die koerant en beskryf sy haar tipiese dag op die stellasie en maak al haar borge se bydraes bekend. Haar telefoonoproepe moet sy self betaal hoewel sy darem elke Woensdag ‘n Steers burger ontvang. Die naaimasjien verskaffers, Elna, het vir haar ‘n naaimasjien geborg waarmee sy poppe maak wat dan verkoop word in ‘n ‘winkeltjie’ reg onder die stellasie. ‘n Werklose matrikulant beman die winkeltjie vir ‘n inkomste.

Na aanleiding van die vele beledigings wat sy moet verduur van (meestal) dronk motoriste, rapporteer die Sunday Times op 14 Maart 1993: “Nothing will stop pole-sitting Petro.” Sy is nou meer as ooit gefokus op haar droom.


Petro se broer, Chris, en sy gesin, het al die pad van Port Elizabeth kom kuier

Na nege maande op die paal, dra Suid-Afrika se grootste Afrikaanse gesinstydskrif, Die Huisgenoot, in die uitgawe van 7 Oktober 1993 ‘n twee bladsy artikel met die opskrif, “Op ‘n paal vir nege maande!,” oor Petro se poging. Die leser hoor daar vir die eerste keer dat Petro se huisie slegs 2.13meter by 1.83 meter is. Teen die mure is foto’s van haar gesin en baie poppe, gemaak deur haarself. Dis die poppe wat haar so te sê tot dusvêr deur haar 280 dae gedra het, sê sy. Slegs 15 liter water per dag word aan haar toegeken en ‘n draagbare toilet is nog van die geheime wat sy met die lesers deel. Sy laat ook deurskemer dat sy baie eensaam is en dat sy wens sy kan net so vir ‘n wyle ‘n bietjie gaan rondhardloop in die park. Sy is ook soms moedeloos omdat die publiek nie mildelik bydra tot haar fondsinsameling projek nie. Daar is ook baie beloftes van geld waarvan niks kom nie en dan wonder sy of alles die moeite werd is. Ou mense is haar mees gereelde inbellers en sonder uitsondering praat sy elkeen moed in en probeer hulle opbeur. Sy wil drie dinge doen die dag as sy daar afklim en dit is om die grond te soen, vir ‘n uur in warm bad te lê en om vir ‘n lang ruk by haar ma in Port Elizabeth te gaan kuier.

Op 5 November 1993 rapporteer die Beeld met ‘n vervelige opskrif, “Petro volhard daar bo-op haar paal.” Sy kla dat die publiek se reaksie redelik treurig is en dat dit haar moedeloos maak. “Ek het al lus gevoel om af te klim en huis toe te gaan,” bieg sy. Maatskappye vir wie sy skakel, reageer nie positief nie ten spyte daarvan dat dit vir ‘n goeie saak is. Sy helder op as sy praat van haar papegaai, Stupid, wat al lekker kan gesels. Die kompetisie, met een van haar poppe as prys, gaan ook nie goed af nie en die belangstelling is uiters treurig, dermate dat sy die sluitings datum moes aanskuif tot ‘n dag voor Kersfees. Sy is opgewonde oor haar oudste ondersteuner van 74 wat onlangs by die paal opgeklim het om te kom dagsê.


Petro se oom, Eric Waterson en sy vrou, Nellie, het ook kom inloer

Haar poging en deursettingsvermoë kry ‘n hupstoot toe Fleur de Lurée haar in November 1993 aanwys as die Nuusmaker van die maand. ‘n Mooi ruiker aan haar rond die geleentheid af.

Op 12 Februarie 1994 rapporteer die Boksburg Advertiser dat die burgemeester, raadslid T.J. Ferreira, R602.00 van sy burgemeesters toelae en R6020.00 in sy persoonlike hoedanigheid gaan skenk aan Petro se fondsinsameling-projek. Dit het egter nie ander raadslede of sakemanne aangemoedig om dieselfde te doen nie.

Dis daarom geen wonder nie dat die Beeld op 20 Mei 1994 die baie neerslagtige berig dra wat lui: “Petro is bitter teleurgesteld.” Sy sê dat sy tot op daardie stadium nog geen sent ingesamel het nie en dat die geld wat wel ingekom het, gebruik moes word vir die telefoon en elektrisiteit uitgawes. Sy is op moedverloor se vlakte. Sy sê dat as dit nie was vir haar kontraktuele verpligtinge teenoor die borge en organiseerders nie, sy al lankal haar tasse sou gepak het. Sy is egter nie bekommerd omdat sy nie haar kruisie in Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing getrek het nie. Volgens haar sal alles tog maar dieselfde wees as voor die verkiesing. Sy is baie bly vir die ondersteuning wat sy van haar gesin kry.


Petro se ma, Isabella, se besoek, was die hoogtepunt van haar verblyf op die paal

Op 23 Maart 1994 sterf mnr. Jackie Meadon. Hy het op 24 Desember 1993 van sy paal afgeklim en sy rekord van 525 dae was daar vir Petro om te verbeter.

” ‘Pie-in-the-sky’ pledges are the end for Petro,” kondig die Boksburg Advertiser dit in dooie swart letters aan op hulle voorblad van 13 Mei 1994. Met fondse wat uitgeput is, dermate dat haar telefoon en elektrisiteit toevoer opgeskort is en haar gemoedstoestand tot die uiterste beproef is, het sy geen begeerte meer om die rekord te verbeter nie. Die enigste verbinding wat sy het, is die tweerigting-radio waarmee sy met die bestuur van die inkopiesentrum kan skakel.

Kersvader was ook daar om haar dag op te kikker!

Die opskrif in Beeld van 16 Mei 1994 het Petro se gemoedstemming baie goed verwoord toe dit flits, “Paalsit-vrou sê dis hel, wil huis toe.” Sy was na aan trane toe sy sê: “Ek wil nie meer op hierdie paal sit nie, ek mis my huis.” Sy het voortgegaan deur te sê: “Om twee verdiepings hoog op ‘n paal te sit, is absolute hel. Ek dink ek is bietjie mal om ná ‘n jaar en vyf maande nog hier te wees.” Volgens haar is sy heeltemal te skaam om te sê hoe min geld sy ingesamel het. Boonop is daar die koue en ongerief asook mense wat haar in die lelikste taal vertel hoe mal sy is om daar te sit. Sy is selfs kwaad vir haar papegaai, Stupid, wat hopeloos te veel vloekwoorde ken. Sy sluit die onderhoud af deur te sê dat sy, as sy weer geld wil insamel, eerder ‘n stuk karton om haar nek sal hang en by die naaste robot gaan staan aangesien dit die enigste mense is wat regtig geld maak.

Gedurende hierdie maak-of-breek tyd, berig die Sunday Times ook: “This pole-sitter isn’t on top of the world.” Die koerant skryf dat sy baie depressief is en dat sy daaraan dink om die rekord-poging vaarwel toe te wens. Sy druk egter deur en op 17 Junie 1994 laat blyk sy aan die Boksburg Advertiser dat sy op 19 Junie 1994, 534 dae nadat sy vir die eerste keer opgeklim het na haar huisie in die lug, weer gaan terugkeer na die hustle and bustle van die gewone lewe.

Op 19 Junie 1994 word sy met haar terugkeer na dit waarna sy so lank gesmag het, verwelkom deur die burgemeesters paar sowel as haar gesin. Haar taak was, hoewel nie suksesvol, voltooi.

Met 534 dae op die stellasie verseker sy haar naam in die Guinness Book of Records as die eerste vrou in die wêreld wat die langste op ‘n paal deurgebring het.

Hoewel sy nie haar droom, om geld vir bejaarde sorg in te samel, kon verwesenlik het nie, sal haar dapper poging altyd onthou word; sal sy onthou word as die vrou wat feitlik alles opgeoffer het om ‘n verskil te maak in ander se lewens. En sal dit ook as ‘n aanklag teen ons as gemeenskap aangeteken staan dat ons nie geneig is om te gee vir ‘n saak van verdienste nie.

Op ‘n vraag of sy dit weer sal doen, glimlag sy net. Haar oë verklap die antwoord…

Dag 534. Haar laaste dag op die paal

© 2012 Johann H Claassen


Advertisements

Single Post Navigation

6 thoughts on ““Ek wil ook op ’n paal sit!” – die storie van ‘n ongewone vrou.

  1. Edward Waterson on said:

    Wonderbaarlike vrou

  2. Ek dink nie ek sal die moed hê om vir 2 jaar op ‘n paal te woon nie. Sy was baie dapper. Wonder of sy nie meer sukses sou gehad het in 2012 nie?
    Weliswaar ‘n storie vir die nageslag.

  3. Ek sal nie eens opklim nie, laat staan nog die sittery!

  4. En sy was nie eers bang die weerlig tref haar daar bo nie! Voorwaar ‘n Pozyn om op trots te wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: