johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Al langs die Hoof straat, Paarl – ‘n paar goedversorgde geboue.

Stap jy al met die Hoof straat langs, kom jy agter dat feitlik al die geboue in ‘n goed versorgde toestand is. Dis ‘n soort aansteeklikheid wat jy waarneem. Die een wil beter doen as die ander een; noem dit ook ‘n soort van kompetisie onder die eienaars, as jy wil.

Geniet hierdie paar geboue wat ek so op my wandeling afgeneem het. Sommige is meer breedvoeriger beskryf as ander maar  dis maar bloot omdat ek nie die geskiedenis van almal kon opspoor nie.

Voormalige Hoofposkantoor van die Paarl

Toringkerk se toring

Voor ingang van Toringkerk

Nog 'n aansig van die Toringkerk se toring

Laerskool Gimnasium

Saal van die Toringkerk

Bean in Love - nou 'n koffiewinkel

Voormalige Openbare biblioteek tot 2011

Core Catering met Petrus Claassen en Jerry in die foto

Johann Smit - kleremaker en -ontwerper

Moderne Bernina in 'n historiese gebou

Tandarts

Opgerig in 1925. Voormalige openbare biblioteek in die veertigerjare.

Skryfbehoefte winkel in die vroeë 1900's

Nuwe openbare biblioteek - amptelik geopen op 10 Maart 2012.

Ingang na Victoria Park

Amptelike opening-seremonie van die nuwe openbare biblioteek

Laan Rust - geboorteplek van Maria Leonora Du Toit

Min mense is bewus daarvan dat ‘n kleinkind van Gideon Malherbe, stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), een van Suid-Afrika se eerste vroulike sendelingdokters was.

Maria Leonora du Toit is op 15 September 1905 gebore in “Laan Rust” in Pastorielaan in die Paarl, ‘n klipgooi van die huis van haar oupa Gideon, waarin die GRA in 1875 gestig is (vandag dieAfrikaanse Taalmuseum). Sy was ‘n laatlammetjie; en so swak by geboorte dat die dokter en vroedvrou gedink het sy is doodgebore. Eers na ‘n rukkie het hulle agtergekom dat die baba wel lewe. Sy was die res van haar lewe swak en sieklik. Maria het gestam uit twee families wat hul ten sterkste vir die saak van Afrikaans beywer het. Haar ma, Leonora, was die dogter van Gideon Malherbe, en kleindogter van dominee GWA van der Lingen. Maria en haar ouers het gereeld by haar oupa Gideon aan huis gekom.

Ernst du Toit, Maria se pa, was die seun van Daniël Francois du Toit van die plaas Naauwbepaald, deel van die historiese plaas Kleinbosch waarop die Hugenote-gedenkskool opgerig is. Ernst was slegs16 jaar oud toe hy by die GRA aangesluit het, en was ook die laaste oorlewende lid daarvan. Maria het baie gelukkige kinderjare in die Paarl beleef, en haar hele skoolloopbaan aan die Meisieskool La Rochelle deurgebring. Sy het kuns by ‘n sekere Mister Crooks geneem, en haar skilderklasse baie geniet. Maria was van haar vroegste kinderjare ‘n ernstige student en toegewyde Christen. Die aankondiging in haar matriekjaar dat sy ‘n mediese sendeling wil word, het almal onkant gevang. Nie net was sy baie sieklik nie; vrouedokters was in daardie dae nog amper iets ongehoords, en boonop in die woeste Afrika! Tog het haar diep-gelowige ouers hulle berus by haar besluit. Haar studiejare was baie moeilik, aangesien tuberkulose by haar gediagnoseer is en sy kort-kort haar studies vir ‘n jaar of meer moes onderbreek.

Sy het aanvanklik aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar die studente nog togas moes klas toe dra! Sy het uiteindelik haar studies voltooi aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar die klimaat haar beter gepas het. Maria het haar eerste ondervinding van mediese sendingwerk in Swaziland opgedoen. Koning Sobhuza II het so ‘n aanhanger van haar geword dat hy later een van sy kinders Du Toit genoem het, na haar. Sy het 16 jaar in Nigerië en 8 jaar in Zambië gewerk, soms onder die moeilikste omstandighede denkbaar. Op Mkar, die Nigeriese sendingstasie waar sy gestasioneer was, was vir 14 jaar geen lopende water nie, en elektrisiteit het hulle eers ná 8 jaar gekry. Hulle het ook baie jare gewag op ‘n X-straal masjien en verkoelingsgeriewe, en medisyne kon hulle net een maal per jaar uit Engeland bestel. Die naaste telefoon en poskantoor was 96km ver, oor amper onbegaanbare paaie. Soms moes sy weens spasie gebrek pasiënte op haar eie bed ondersoek. Nogtans het sy uiters gekompliseerde operasies met groot sukses uitgevoer.

Sy vertel baie staaltjies van haar besoeke aan buiteklinieke. Aanvanklik is sy in die sysaal van’n motorfiets vervoer, voordat hulle ‘n donasie ontvang het waarmee ‘n ou Vauxhall aangekoop is. Soms moes hulle baie kilometers ver loop. Baie gevare het ook gedreig, veral die riviere vol krokodille en seekoeie. Op die buitepos aangekom, moes hulle dan bykans 500 pasiënte daagliks behandel, en soms op die vreemdste plekke slaap. Sy het een nag ‘n buitekamer gedeel met ‘n broeis hen, wat ongestoord op haar eiers bly sit het! Een van Maria se grootste prestasies was die instelling van opleiding om plaaslike inwoners as verpleërs op te lei. Mense wat sy sorgvuldig gekeur het, het ‘n behoorlike akademiese opleiding ontvang. Die standaard was so hoog dat die hospitaal spoedig as opleidingshospitaal erken is. Sommige van haar studente het later selfs gevorder tot die pos van matrone.

In 1955 het sy ‘n MBE van die Britse regering ontvang ter erkenning van haar werk in die sendingveld. In 1958 is die brons medalje van die Royal African Society aan haar toegeken. Meer beskeie huldeblyke was vir haar persoonlik belangriker, soos die “paar jams of kalbassie met ses eiers in ‘n bedenklike toestand”, wat aan haar geskenk is wanneer ‘n pasiënt gesond huis toe gaan. Eenkeer het ‘n man petrol uit sy eie motor vir hulle gesuig, en toe sy vra wat dit kos, sê hy: “Nothing, Doctor, two years ago you operated on me”. Toe sy eenmaal op Mkar terugkom ná haar verlof,  het ongeveer 400 vroue vyf Sondae na mekaar by haar huis kom sing, bid, toesprakies gemaak en geskenkies van kos (oorvloedig uit hul eie armoede) op die stoep neergesit. Dit het haar diep geraak.

Maria het in 1972 na Suid-Afrika teruggekeer, en eers in 1983, op 77-jarige leeftyd, die tuig finaal neergelê. Daarna het sy nog aanhou skryf en lesings gee tot kort voor haar dood in 1996, een dag voor haar een-en-negentigste verjaardag. Mense wat haar persoonlik geken het, praat van haar hele wese wat liefde en lig uitgestraal het – “an illuminated soul”.

Erkenning aan:  Annemarie van Zyl van die Afrikaanse Taalmuseum.

Aansig van Laan Rust rigting Paarlberg

Laan Rust rigting Bergrivier

Nog 'n skoot van Laan Rust

© 2012 Johann H Claassen

Advertisements

Single Post Navigation

One thought on “Al langs die Hoof straat, Paarl – ‘n paar goedversorgde geboue.

  1. Aangrypende verhaal. Lekker gelees hieraan. Dankie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: