johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

’n Noachs huisgesin

” ‘k Ontving al wat ik nodig had,

Voor mijn bestaan op aard’,

Daar Gij mij, op mijn levenspad,…”

Na ‘n nag van rondrol in die bed oor die skuld wat so ophoop, lees Maria Aletta du Toit, ‘n boervrou van die Paarl, op 23 Oktober (vermoedelik 1880’s) uit Von Bogatzky se Bybel dagboek en teken dit volledig aan in haar memoires.

Maria trou op 18.9.1860 met haar neef, Gabriel Petrus du Toit, ook van die Paarl. Sy skryf oor sewe getikte bladsye heen oor die wel en weë van haar gesin en sy skets, sonder dat dit seker die bedoeling was, ‘n prentjie van die lewe van die meeste boere-gesinne in die Paarl-Vallei.

Sprake van ‘n behoorlike wittebrood het nie bestaan nie en die eerste agt dae van hul getroude lewe het hulle by “ons geliefde ouers geblij.” Daarna het agt dae by haar ouers, “oupa en ouma Hauptfleisch,” en daarna het veertien dae by “oom Sijbrand en tante Wessie,” gevolg. Toe was hul huisie klaar. ‘n Ou stuk reggemaakte gebou wat bestaan het uit ‘n voorhuis, ‘n (slaap)kamer en ‘n kombuis. Alles baie klein maar, sê sy, “ons het regte vergenoeg daarin gewoon.”

Soos die gebruik destyds was, was daar bidure onder mekaar gehou en in hulle geval het dit gewoonlik geskied aan huis van haar ouers. Dit was tydens so ‘n diens in 1861 wat daar ‘n “groot opwekking” was. Sy skryf dat “Hoewel ik nooit in die openbaar gebede het nie was ek nie onverskillig nie en het nie ‘n biddeloos lewe gelei nie, maar was nie seker van mij toestand nie.” Haar ervaring daardie Sondagaand was “… ‘n voorsmaak van die hemel.”

Die Bybelse dagboek, Gulden Schat deur C.H. Von Bogatzky. (Die 1911 uitgawe in skrywer se besit)

Omdat meeste van die plase in daardie stadium steeds in ‘n staat van ontwikkeling was, was alle hande baie nodig op die plaas. Ook die boervrou moes, benewens haar gewone take, ‘n handjie bysit tydens oestyd. So gebeur dit dan dat sy op 15 Januarie 1861 per ongeluk haar hakskeensening morsaf sny met die sekel. Dit het tot gevolg dat sy vir ses weke op haar rug moes deurbring om die sening kans te gee om aan te groei. Gelukkig het die dokter se vrese, dat “klem in die kake” sou ontstaan, nie gerealiseer nie en het sy spoedig volkome herstel.

Die gewone krisisse was daar gereeld en op ‘n dag toe haar man nie tuis was nie, het ‘n trop bobbejane hulself lekker tuisgemaak op die werf en “…het op die groot klip agter die huis kom vrugte en resijntjies eet, tot pietjies sit en kraak.” Ene Willem (‘n Hollander, volgens haar) het met sy sweep kom klap toe die een bobbejaan bo-op die dak begin loop. As gevolg van die geraas, val die bobbejaan by die skoorsteen af waar hy toe moes doodgeskiet word. Hierdie insident sluit sy af met: “Pa het dit afgekeur.”

‘n Ander keer het haar man met ‘n ene A Jurgens, “op tog” gegaan. Ek lei af dat hy saam met ‘n togryer op reis gegaan het. ‘n Togryer was iemand wat (veral skaars) produkte die binneland ingeneem het om daar te smous, hetsy vir geld of ander produkte wat weer nie so geredelik beskikbaar was aan die Kaap nie. Haar man was ‘n maand weg van die huis en “…dit was die enigste keer wat ons so lank van elkaar af was…”

Die gesin het nooit lank gevestig op een plek nie. Oor ‘n tydperk van ongeveer 40 jaar, sou hulle veertien keer trek. Plaas gekoop, geboer, verkoop en dan maar weer gekoop. Met die verkoop van die plase, was daar ook elke keer vendusie gehou van alles. Dikwels was daar nie ‘n huis op die nuwe plaas nie en moes daar iets aanmekaar gesit word, welke tyd hulle dan aan die huis van hul ouers moes bly. Een so ‘n huisie was ‘n omskepte ou kelder wat later ook die perseel van die Hugenote Gedenkskool sou word. Oeste het gewissel van goed tot minder goed en die pryse wat die produkte behaal het, was soms ook teleurstellend. Hulle boerdery was hoofsaaklik wingerdbou. Uit Maria se aantekeninge blyk dit dat die prys van wyn soms tot £8.00 ‘n legger (563 liter) behaal het en in slegte tye ‘n skrale £1.10 ‘n legger. Brandewyn sou in goeie tye £40.00 ‘n legger behaal het maar kon daal tot so laag as £10.00 ‘n legger. In 1876 het die brandewyn en wyn goeie pryse behaal en kon haar man vir haar ‘n nuwe stoof koop, ‘n kapkar vir die gesin laat maak en selfs geld in die bank sit met die oog op die bou van ‘n nuwe huis.

Omstreeks 1880 koop hulle die plaas, Hoogstede. Dit was ‘n baie groot huis maar baie verwaarloos en “…weeluise, moenie praat nie.” Daar sou hulle drie jaar woon en dit van die hand sit vir £2300.00.

Die plaas Hoogstede in Agter-Paarl (Erkenning aan die Kaapse Argief – E1247)

Jy kan Maria se pyn aanvoel as sy skryf oor haar eie siekte maar dis veral wanneer sy skryf oor die siekte van haar kinders en die pyn wat hulle soms moes verduur wat mens weer en weer laat lees. Met enkele uitsondering sou sy  egter   nie uitbrei oor die agt kinders wat sy aan die dood moes afstaan nie; almal binne ‘n jaar of wat na hul geboorte. Slegs die sterfdatums aangeteken. Wat mens laat wonder of sy dit doelbewus uitgelaat het. Dalk was die seer, soos vir alle moeders, net eenvoudig  te groot  om nog daaroor te staan en uitbrei. Daar was darem nog die ses ander kinders oor wie sy kon skryf al was dit net om te sê: ” Toen kry ek ‘n sweer aan mij linker bors en ‘n feit aan my regterduim en twee lastige kinders. Gawie krij toen tandjies en Sareltjie was meeste siek. Toen het Bettie en Wessie dit ook swaar gekrij, (hulle) was nog jong en ek kon geen speld aan die kleintjies steek nie. Gawie was swak en toen hij loop, krij hij die masels en word so siek dat hij nie kon loop nie en moes hij weer leer om te loop. Kort daarna krij hij skarlakenkoors en toen was dit so op sij bors, inflammasie en ons dog hij word nie weer gesond nie, maar die Heer het hom gespaar en hij word weer gesond. Hij moes toe vir die derde maal weer leer om te loop. Maar hij was geduldig en soet.”

Sy wys ook uit aan haar “lieve kinders” dat sy gedurig “pappe” op hul buike moes sit tydens koorssiekte. Die “mense was bang. Die dokter het gesê dis ‘n soort rottekoors,” skryf sy.

Daar was ook die keer of twee toe sy nie genoeg van haar eie melk gehad het om die kleintjies mee te soog nie. Hieroor skryf sy in ‘n latere paragraaf: “Gawie is ook in die Perl gebore op 28 September 1875. Hij was ‘n groot, fris kind, maar lastig. Ek het geen melk vir hom gehad nie, toen het hij naderhand bloedparsie gekrij en was uitgeteerd tot sij sewende maand. Intussen was ons bij die Strand vir mij swakheid. Toen het ons na lank gesukkel ‘n koei gekrij; die melk was vir hom goed en hij het toen gegroei en soet geword.”

Uittreksel uit die getikte weergawe van Maria se brief

Wanneer sy die kinders se sterfdatums in volgorde aanteken, ag sy dit belangrik om aan te toon dat die seuntjie, Daniel Francois, op haar verjaardag gebore is en op sy pa se verjaardag oorlede is.

Een van die kinders van Maria het na haar dood in 1918 bykomende kommentaar gelewer op haar ma se aantekeninge. Dit is dus aangenaam om te verneem dat die kinders goed presteer het in hul volwasse lewe. Gawie het onderwyser geword, Dawid ‘n redakteur van verskeie publikasies en Ernst ook ‘n onderwyser.

Die du Toit gesin se lewe kan opgesom word aan die hand van ‘n paragraaf van Maria se aantekeninge wat lees, ” Mij begeerte was toen en nou steeds, dat dit die liewe Heer mag behaag om mij met eggenoot en kinders as ‘n Noachs huisgesin eens te doen…”

© Johann H Claassen 2012

Advertisements

Single Post Navigation

4 thoughts on “’n Noachs huisgesin

  1. Johan Theron on said:

    Die du Toit familie was daadwerklik n uitstaande groep mense en uit hulle nasate was daar baie wie hul merk gemaak het in die lewe en was hul leiers op hul manier

  2. Dit was ‘n ander wêreld. Sekerlik een van die belangrikste verskille: Daar was geen antibiotika…. derduisende babas en kleuters en moeders (tydens die geboorte van hul babas) het jaarliks gesterf – iets wat vandag nie maklik gebeur nie. Merkwaardig ook was die mense se geloof en vertroue in God. Alles was sy WIL, en bitter min Afrikaners het dit betwyfel. Respek vir God en ouers en almal wat ouer was, was aan die orde van die dag. Kinders was gesien en nie gehoor nie, en kinders het waaragtig hul ouers GEVREES, Ai, ons kan ure lank oor hierdie onderwerp gesels.

    Johann, dankie, ek het die lees hiervan baie geniet,

  3. Knap stukkie skryfwerk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: