johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

DIE FAMILIE RENS VAN DIE PAARL

RENS Familiegraf – Parys begraafplaas, Paarl

Mev. RENS in haar jong dae

Dr. RENS se vader se graf – Parys begraafplaas, Paarl

Wat hier verskyn is ‘n samestelling wat ek gemaak het vir die RENS familie-lêer by die Drakenstein Heemkring en moenie beskou word as ‘n volledige navorsingsdokument oor die familie nie.

  • Genealogiese gegewens is verwerk deur myself aan die hand van die inligting in die RENS familiebybel en die Suid-Afrikaanse Geslagsregisters wat deur die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika bygehou word. Hoewel die navorsing op ‘n baie beperkte skaal gedoen is, bied dit ‘n volledige prentjie van die direkte lyn van dr. Piet RENS en sy kinders tot by die RENS-stamvader. Ek het byvoorbeeld nie die kinders van die verskillende voorvaders van dr. Piet RENS bygevoeg nie. Dit verskyn wel op die afskrifte wat ek gemaak het van die familiebybel.
  • ‘n Adres aan dr. RENS se vader, Pieter Albrecht RENS, wat vir baie jare sendeling predikant was in Njassaland. Binne-in hierdie dokument is ook vyf koerantuitknipsels oor die afsterwe van mev. PA RENS, moeder van dr. Piet RENS.
  • ‘n Notatjie in die handskrif van dr. Piet RENS.
  • ‘n Uitdruk soos verskyn in die Paarl Post van 22.7.2004.
  • ‘n Uitdruk soos verskyn in Die Burger van 19.5.1992.
  • Dokumente hierbo vermeld maar wat nie as afdrukke in hierdie artikel verskyn nie, is beskikbaar by die Drakenstein Heemkring.
  • Die foto’s van die grafte is deur myself geneem. Mev. RENS was nog in lewe tydens die neem van die foto’s van die grafte.

Hieronder volg berigte oor dr. en mev. RENS soos dit verskyn het in die onderskeie koerante:

KAAP-RAPPORT, 27 MAART 2005 NUUS BL. 5

55 jaar van omgee vir ander

Marlene Malan

Ons reeks oor onbesonge helde, Kapenaars wat ‘n verskil in hul omgewing maak.

WIE: Mev. Ina Rens.

WAT: Nasionale voorsitter van die ACVV wat pas uitgetree het.

IMPAK: Sy het meer as 55 jaar se opheffingswerk agter die rug, maar sy is baie beskeie daaroor. “Ek wil nie die fokus op mý hê nie, eerder op die ACVV — want mense moenie onderskat wat dié organisasie vir welsyn in ons land gedoen het nie.”

Dit was dalk in Upington, toe sy die eerste keer help baba vang het en die “oompies en die tannies en die oupas en oupas” oor die bo-deur geloer het, dat mev. Ina Rens (80), pas uitgetrede nasionale voorsitter van die ACVV, haar liefde vir minder bevoorregte mense ontdek het.

“Die armes, die versukkeldes, die agtergeblewenes, dié wat nie ‘n pennie se kos het nie,” sê sy.

Maar dis nie net dié armoede wat die grootste invloed op haar lewe gehad het nie. Rens sê om ‘n halfeeu lank in dié omstandighede kop te hou en te keer dat jy emosioneel betrokke en afgerem raak deur die armstes van armes in Suid-Afrika, moes sy altyd steun op haar herinneringe aan mense soos “Ta’ Miem,” of die skrywer M.E.R., prof. Erika Theron, dr. Hendrien Lambrecht, mev. Anna Geyer. . . “almal baanbrekers van die ACVV, vroue uit een stuk. Formidabele vroue.”

‘n Week nadat Rens, ná jare se voorsitterskap van die hoofbestuursraad, dié tuig neergelê het, sê sy van stilsit is daar g’n sprake nie. “Ek sal werk tot ek dood is.”

Want dis hoe sy geleer het aan die lang rokspante van Ta’ Miem, en haar twee susters, Annie en Lettie.

“Ek was so ‘n jong maatskaplike werkertjie toe ek eendag saam met die drie susters op M.E.R. se huis se stoep op Swellendam gesit het, dat Ta’ Annie gesê het as ek vir die ACVV wil werk, moet ek darem regtig my rokke langer dra.”

Want dié drie se lang, grys rokke was nóóit korter as enkellengte nie.

Dï s egter nie wat sy die beste onthou nie, “eerder hul intellek, veral Ta’ Miem s’n. Sy was briljant, met ‘n ongelooflike geheue, vriendelik en besadig. Ek het baie in haar huis gekom, haar geken tot haar dood, op 101, en haar altyd as een van ons land se baanbrekervroue beskou. Dis op haar huis se solder dat ek drie metaaltasse gevind het, met die Carnegie-verslag oor armoede. ”

Dis aan dié vroue dat Rens haar eie, lang loopbaan by die ACVV toeskryf: Eers as maatskaplike werker, en daarna, vanaf die ouderdom van 31, as hoofbestuurslid, jare daarna ondervoorsitter, en die laaste twaalf jaar voorsitter.

“Ek wil nie die fokus op mý hê nie, eerder op die ACVV — want mense moenie onderskat wat dié organisasie vir welsyn in ons land gedoen het nie. Ons het altyd skouer aan skouer met ander welsynsorganisasies gewerk, saam met die kerke ook, die staat. Maar elk van ons het sy eie rol. Jy kan nie een wegvat nie. Ek is trots op die meer as sewentig jaar se opheffingswerk wat die ACVV in dié land gedoen het.”

Van die bou van ‘n hostel in Soutrivier, naby Kaapstad, vir jong plattelandse meisies wat in die stad kom werk het, tot tehuise vir bejaardes en dagsorginrigtings vir kleuters. Die vertakkings loop ver en wyd die hele spektrum van gesinsorgwerk, kindersorg, studiebeurse, opleiding vir volwassenes, leesonderrig, gesondheidsdienste, gemeenskapswerk, ondersteuning vir dié met ekonomiese probleme. “Vroedvroudienste is ingestel nadat ek my Upingtonse ervaring gehad het.

“Ons was nog nooit uit voeling met die behoeftes van die gemeenskap nie. En ons is nié net meer ‘n witvrou-organisasie vir wit mense nie. ”

Dat die nood in die land groot is, is ‘n feit, sê Rens. “In die jare dat ek met armoede en sukkel moes saamleef, moes ek altyd ‘n afstand tussen my en swaarkry hou anders kan ek nie professioneel optree en goeie besluite neem nie. Ons land se mense het pynlike probleme, maar as ‘n mens jou dit te veel aantrek, verloor jy fokus. Deesdae is die ellende in ons land net so groot as destyds, maar die geluk is dat meer welsynsdienste beskikbaar is. Die staat kan nooit sê ons het nie ‘n rol nie.”

“Aftrede” bestaan nie vir haar nie, sê Rens. Sy gaan voort met haar voorsitterskap van ‘n groot tehuis vir bejaardes in die Paarl, en sy is steeds lid van die Paarlvallei-tak van die ACVV. “Ek het ewe veel selfvertroue met wat ek doen as jare gelede. Daar is nie so ‘n ding soos oud wees nie. Maar ek weet ook welsyn is ‘n veld waar arrogansie jou kan kelder. Al verskil wat die ouderdom bring, is groter wysheid. Dis waar my krag lê.”

Die Burger 9.6.1987

Jong vroue moet benut word ACVV Ina Rens se hartsaak

DIE ACVV het in sy nuwe voorsitter die verpersoonliking van lewenslus gekry. Sy is mev. Ina Rens van die Paarl. By die oorweging van wat sy al 33 jaar lank as hoofbestuurslid van die ACVV gedoen het en nog doen, kom die vraag by ‘n mens op wat so ‘n vrou so hard as vrywilliger laat werk. “Dis seker omdat ek in my siel ‘n maatskaplike werker is en bly en my op dié manier in my beroep uitleef.” Mev. Rens het, nadat sy die graad MA in maatskaplike werk onder prof. Erika Theron aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, eers ‘n jaar as lektrise in dié departement aangebly voordat sy organiserende sekretaresse van die ACVV geword het. Dit was haar taak om maatskaplike werk as beroep gevestig te kry, veral in die binneland, waar destyds bitter min maatskaplike werkers was. In dié tyd, die laat jare veertig, het ook ‘n klemverskuiwing in die ACVV se werk gekom. Dit was omdat die gesondheidsdienste waarmee die vereniging as pionier op dié gebied begin het, deur die provinsiale owerheid oorgeneem is. KREUPELSORG Toe het die ACVV onder meer ouetehuise en crèches begin oprig. Terselfdertyd is voortgegaan met opheffingswerk om te voorsien in behoeftes wat deur die depressie ontstaan het. Baie is vir die opvoeding van kinders op die platteland gedoen deur hulle in koshuise te plaas en studiebeurse beskikbaar te stel. Nadat sy met ‘n geneesheer getroud is, het mev. Rens sowat ‘n jaar in Pretoria by die Noord-Transvaalse Kreupelsorgvereniging gewerk. Sy het haar werk baie stimulerend gevind, en stel vandag nog besonder belang in kreupelsorg, omdat sy self ‘n serebraal gestremde kind het. Dit is haar enigste dogter, een van drie kinders. Mev. Rens verteenwoordig die derde ACVV-geslag van haar familie. Haar ouma was sekretaresse van die Paarl-tak, en haar ma, mev. Minnie Louw, van die Paarlvallei-tak, wat later gestig is. Vandag nog is sy op 86-jarige leeftyd ere-presidente van dié tak. Mev. Rens meen dat die ACVV al hoe meer gemeenskapsgerig moet word, met die insluiting van alle gemeenskappe. Sy heg veral groot waarde aan voorkomende dienste ten behoewe van kinders én hul ouers. Al hoe meer aandag sal geskenk moet word aan die probleme van enkelouers. In dié verband speel die naskoolsentrums, waarvan die ACVV al hoe meer inrig, ‘n belangrike rol. IETS DAADWERKLIKS Met die oog op die steeds uitbreidende omvang van die ACVV se werk, wat al lankal nie meer tot welsynwerk onder armes beperk is nie, meen mev. Rens dat skakeling met ander beroepe baie belangrik geword het. ‘n Saak waaraan dringend aandag gegee sal moet word, is die benutting van jonger vroue as vrywilligers. “Ons kan nie sonder vrywilligers klaarkom nie, maar ons moet ook die werklikheid van die veranderende omstandighede onder die oë sien. Baie van vandag se jong vroue werk buitenshuis en sonder voltydse huishulp. Praktiese oorwegings, soos vergadertye, sal aandag moet kry.” Sy wil sien dat die vrywilligers by die kliënt gebring word, wat deur die ACVV gehelp word. Sy is oortuig daarvan dat baie mense graag wil voel dat hulle regtig vir ander mense iets daadwerkliks doen. Daarvoor is die ACVV daar. Colleen Naudé

Paarl Post 3.2.2011

Ina Rens het diep spore getrap

NIKS was ooit buite bereik vir Ina Rens nie, veral nie as daar ‘n mens aan die anderkant van die probleem was nie. Hierdie dinamiese Paarliet, wat diep spore in die welsynswêreld getrap het, is verlede Vrydag op 87 jaar oorlede. Die huldigingsdiens is môre om 10:00 in die Toringkerk.

Rens, ‘n gekwalifiseerde maatskaplike werker, het haar lewe gewy daaraan om die lewe vir ander mense gemakliker te maak.

Sy en haar man, wyle dr Piet Rens, was alombekend in die Paarl – hy as geneesheer, sy as vrywilliger wat haar sonder vergoeding verdiep het in gemeenskapswerk.

Sy was haar hele lewe betrokke by die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), eers as organiserende sekretaresse en later as takvoorsitter in die Paarl.

Daarna, van 1987, het sy vir 18 jaar gedien as voorsitter van die hoofbestuur van dié organisasie met 117 takke wat maatskaplike dienste lewer in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap.

Sy was ‘n sterk leier en onder meer die dryfkrag agter die ontwikkeling van Huis Vergenoegd-ouetehuis in die Paarl in die sewentigerjare, ‘n multi-miljoenrand projek. Sy was ook voorsitter van die tehuisbestuur tot 2006.

Boonop was sy betrokke by die totstandkoming van die Paarlvallei Kinder- en Gesinsorgvereniging en die Rusthof-tehuis vir bejaardes in Paarl-Oos, asook die Paarl-skool vir serebraalgestremdes in Brackenfell. Sy het ook gedien op die Streekswelsynsraad Wes-Kaap wat koördinerend toesig hou oor welsynsorganisasies.

Mev Rens is die tagtigerjare deur die Munisipaliteit vereeer en het in 2005 die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging se toekenning vir gemeenskapsdiens ontvang.

Van Huis Vergenoegd se bouprojek het sy vroeër in ‘n onderhoud met Paarl Post vertel, “Dit was vir my heerlik om ‘n gebou op te rig en dinge te laat gebeur.”

Kollegas sê: “Dit was haar sterk persoonlikheid en haar besliste besluitneming wat die skip op die pad gehou het. Die ACVV en hierdie tehuis is eintlik haar monument” (sien ook brief op bl 7).

Sy word oorleef deur twee seuns, Albrecht en Nicolaas, en ‘n kleinkind, Luca.

‘n Leser se briefie, soos dit verskyn in die Paarl Post van 3.2.2011

EK eer die nagedagtenis van Ina Rens, ‘n Paarliet wat geen taak of persoon ooit te gering geag het nie. Met trots en waardigheid het sy haar hand gehou na dié wat honger en dors was, en nooit met ‘n sweempie meerderwaardigheid nie.

Haar individualiteit het van haar ‘n unieke vrou gemaak, wat ook aan elkeen met wie haar pad gekruis het, die voorreg gegun het om te wees wie sy/hy graag wil wees.

Nooit het sy enigiemand se vryheid aan bande gelê nie – haar werknemers het sy blind vertrou en hulle was haar vertroue waardig. In elke individu het sy persoonlike groei gestimuleer en aangemoedig.

Haar gemaklike, gemoedelike leierskapstyl het van haar ‘n gewilde leier gemaak. Groot hoogtes is bereik sonder dat dit soos werk gevoel het. Huis Vergenoegd is die toonbeeld van die sjarme en styl waarmee sy welsynswerk verrig het.

‘n Kontak met Ina Rens was altyd ‘n “uplifting” ondervinding. Haar skerp brein en fyn oordeelsvermoë het geen perke geken nie. Sy was haar tyd ligjare vooruit met haar manier van dink en handel.

Ons is dankbaar vir elke dag wat ons by haar kon leer, vir die vryheid om te kan groei en ervaar. Die lewenslesse wat sy ons geleer het, is ons aardse skat wat ons die ewigheid in saamneem.

Lydia Corbett


‘n Berig soos verskyn op die webblad http://www.dementiasa.org/inthenews.asp

Catharina Maria (Ina) Rens: 6 April 1923 – 28 Januarie 2011

Ek het ‘n hele paar jaar na mev Rens aan die Universiteit van Stellenbosch studeer maar steeds was een van prof Jan Div se geliefkoosde staaltjies:

Ina Louw was só mooi dat ‘n mansstudent so na haar gestaar het dat hy in ‘n lei voortjie geval het.

As jong maatskaplike werker het ek in die Paarl met verwondering met hierdie legendariese vrou kennis gemaak – sy was steeds beeldskoon maar haar skoonheid is totaal oorskadu deur haar intellek, elegansie, deernis, leierskap en menslikheid.

Dit sal nie moeilik wees om ‘n paar bundels te vul met mev. Rens se formidabele loopbaan wat as lektrise in maatskaplike werk begin en ses dekades later geëindig het as baanbreker wat haar merk gelaat het op elke terrein relevant in die Suid-Afrikaanse breër welsynskonteks. Sou dit die fokuspunt wees, was ek genoop om ten minste die volgende temas te ontgin en selfs dan sou dit nog nie aan hierdie faset van haar lewe reg laat geskied het nie:

1. Sy was een van die eerste persone in SA wat ‘n MA-graad in maatskaplike werk behaal het en het die ewige student gebly met ‘n passie vir die professie, die opleiding van maatskaplike werkers en ‘n regverdige bedeling vir hierdie beroepsgroep.

2. Internasionale professionele blootstelling op ‘n jeugdige ouderdom, toe sy as deel van ‘n prestige afvaardiging onder leiding van Prof Erika Theron ‘n jaar in die VSA en Europa deurgebring het, het bepaald bygedra tot haar wêreldbeskouing, leergierigheid en vermoë om internasionale tendense op ‘n relevante wyse met die Suid-Afrikaanse realiteite te versoen.

3. Haar bydrae in haar geliefde verenging, die ACVV of die AV soos sy dit graag genoem het, sou ten minste in ‘n paar onderafdelings hanteer moes word:

3.1 Die vier jaar as organiserende sekretaresse van die ACVV het haar in aanraking gebring met elke faset van die vereniging, haar op vele reise deur die ou Kaapkolonie geneem en die kennis van die ACVV se werkgebied en -diensmotief wat sy onder moeilike omstandighede sonder rekenaars, ja selfs sonder ‘n outydse tikmasjien, fakse, epos en vliegtuie deel van haarself gemaak het, het die grondslag gevorm vir haar eie bydrae as vrywilliger van formaat.

3.2 Haar rol en bydrae in, tot en dmv die ACVV Paarl-Vallei sou genoeg wees om enige persoon te laat terug sit in die wete dat genoeg terug geploeg is in die gemeenskap en dat ‘n groot verskil gemaak is. Dit het Ina Rens net aangespoor om haar onvermoeide ywer verder in belang van die Paarl aan te wend en Huis Verngenoegd is bepaald ‘n lewende monument sprekend van ‘n leeftyd se toewyding en diens.

3.3 Ek sou kon uitbrei oor die leerskool om saam met ons geliefde mev Rens by een van die vele bouprojekte van die ACVV betrokke te wees. Sy kon telkens verstom met haar kennis, fyn aanvoeling, visie en die gemak waarmee sy met die professionele span kon saamwerk, die respek wat sy ingeboesem het, ja, ek weet van menige bekende argitek en bourekenaar wat ‘n sug van verligting gegee het na elke suksesvolle bouterrein-vergadering met haar. Sy het dan ook nie geskroom om ‘n plan te wysig, ‘n muur te laat afkap of ingewikkelde syfers deeglik te ontleed en ‘n ingeligte gesprek daaroor te voer nie.

4. Alhoewel daar geen twyfel is dat Ina Rens en die ACVV vir baie jare sinoniem met mekaar was nie, het sy nooit haar breër visie versaak nie soos blyk uit haar baanbrekersrol in die ontwikkeling van welsynsdienste en infrastruktuur om dienste te lewer aan die gedeelte van die Paarl gemeenskap wat agv die destydse landswette nie deur die ACVV bedien kon word nie. Die stigting van die Kindersorgvereniging in die Paarl-Oos asook die oprigting van Rusthof, ‘n versorgingsfasiliteit vir ouer persone in dieselfde gemeenskap (Paarl-Oos) is sprekende voorbeelde hiervan.

5. Haar rol in dienste aan gestremdes is dalk minder bekend en nadenke oor haar rol in die bestuur wat die destydse Vereniging vir Serebrale Gestremdheid gestig het asook haar rol in die totstandkoming van die Paarl Skool te Brackenfell waar sy ook jare in die bestuur gedien het, sou beslis ‘n paar volumes beslaan.

6. Op provinsiale terrein het sy verskeie termyne in die Streekwelsynsraad van die Wes-Kaap gedien, onder andere as aanstelling van die ministeriële verteenwoordiger en op nasionale terrein het sy verskeie dekades in Die Gesinstiging van SA gedien en was sy stigterslid en lid van Die Gesinstigtingtrust – ook op hierdie vlak het sy haar merk gemaak en tot so ‘n mate ‘n leidende rol gespeel dat sy met Die Gesinstiging Ere-toekenning vereer is vir die bydrae wat sy plaaslik, provinsiaal en nasionaal tot welsynsdienste in SA gemaak het.

7. Bejaardes was haar passie maar kinders en jong mense ‘n groot liefde vandaar dan ook die feit dat sy baie jare in die Hoërskool Gimnasium se bestuursliggaam asook in die raad van die destydse Bolandse Opleidingskollege vir Onderwysers gedien het

8. Sy was baie lief vir haar land, sy geskiedenis, mooi musiek, kuns en kultuur en veral, vir ons taal en het haar betrokkenheid by die Die Stigting vir Afrikaans baie geniet.

9. Ek is dankbaar dat sy in 2005 met ‘n FAK-toekenning vereer is vir haar bydraes op verskeie terreine.

Ek sal Ina Rens egter die beste onthou as lid van die ACVV-Hoofbestuur en die verskillende rolle wat sy in hierdie hoedanigheid met onderskeiding vervul het, te wete as vise-voorsitter, voorsitter, voorsitter van die Finanskomitee, aktiewe lid van die professionele komitee waar daar op maatskaplike werk-dienste van die ACVV gefokus is.

Hier wil ek graag hulde bring aan Hazel – mev Rens het haar vertrou met dit waaroor sy die mees passievolle gevoel het, te wete Marié se versorging en lewenskwaliteit en Hazel het haar hande hoog gehou. Dankie Hazel vir elke keer wat mev Rens gebel het om seker te maak dat dit wel is met Marié en jy haar met grasie gerusgestel het en sy kon voortgaan met haar taak by die ACVV-Hoofbestuur.

My kosbaarste herinneringe sal egter altyd wees aan Ina Rens die mens – al haar prestasies en sukses vervaag wanneer haar kwaliteite as mens in herinnering geroep word:

a) Sy het die vermoë gehad om almal rondom haar te laat vlieg – doodgewoon omdat sy altyd haar beste gegee het en onwrikbaar geleef het in die wete dat andere dit ook sal doen. Niemand wou haar teleurstel nie!

b) Omdat sy in ‘n span kon saamwerk sonder om te konformeer en sonder om haar unieke benadering aan te pas of haar individualiteit in te boet, het sy elke mens met wie sy in aanraking gekom het en met wie ek haar sien saamwerk het, toegelaat om sonder skroom sy of haar eie stempel af te druk en sodoende het sy die allerbeste uit almal gekry, ongeag of dit personeel, vrywilligers, kollegas, meerderes of minderes was.

c) Sy het mense op so ‘n wyse vertrou dat sy hulle nie blootgestel het nie en sou iets verkeerd loop, kon daar altyd op haar lojaliteit staatgemaak word. Ek en sy het menige steil en moeilike heuwel uitgeklim en ek sou niemand anders daar saam met my wou gehad het nie.

d) Sy was in wese ‘n entrepreneur en het geen idee ooit afgeskiet nie – alhoewel sy nie net haar tyd nie maar ons almal ligjare vooruit was, het sy beslis geleef met die opwindende wete dat iemand anders dalk net ‘n idee mag hê wat beter as haar eie is en daarom nie sommer gestonk moet word nie.

e) Sy was geliefd en bewonder – van die boemelaar wat sy oor jare onder haar vleuels gehad het en wat geglo het dat sy werklik op water loop tot ministers met wie sy in baie taai onderhandelinge was en waar sy gewoonlik haar sin gekry het – wat laasgenoemde aanbetref, het ek soms gewonder waarom hulle nog probeer en nie sommer by voorbaat handdoek ingooi nie, want een of ander tyd moes hulle tog leer dat sy goed voorbereid is en nie nee vir ‘n antwoord gaan aanvaar nie. Moontlik omdat sy haar sukses in sulke onderhandelinge so stylvol hanteer het dat die ander partye nie omgegee het nie en omdat hulle die interaksie met haar so geniet het.

f) Onder die fluweelhandskoen was ‘n beginselvaste vrou van staal wat haarself kon handhaaf en ek het by vele nasionale forums gesien dat sy die enigste vrywilliger was wat ‘n opinie sou uitspreek en of standpunt inneem en so die loop van ‘n hele vergadering verander, en ja, altyd ten goede.

g) As die telefoon 8:00 soggens gelui het en mev Rens vra of ek al die Die Burger gelees het, kon ek maar weet niks het haar aandag ontglip nie – die berig op die finansiële bladsye bring sy in verband met die artikel wat sy verlede jaar in die Time Magazine gelees het en haar eie filosofiese gedagtes oor armoede en die Kibbutz-stelsel waaroor sy verlede jaar met my gesels het toe ons die jaarverslag bespreek het.

h) Sy het ‘n wonderlike sin vir humor gehad en kon heerlik ontspan en lekker gesels oor haar liefde vir Suidwes, nostalgies raak oor die rooi sandduine, vertel van die pragtige boepmaag seuntjie wat sy op ‘n plaas daar gesien het, passievol reflekteer oor haar besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein, stories vertel oor die formidable vroue-baanbrekers wat sy persoonlik geken het, mense soos MER, Anna Rothman, mev Anna Geyer, prof Erika Theron, dr Hendrien Lambrechts.

i) Sy was dié stylvolste vrou en sy het hierdie styl in die ACVV ingedra – ‘n tehuis vir bejaardes moes nie net funksioneel wees nie maar daar is aandag gegee aan elke detail van die eetgerei, breekware, matte, gordyne, meubels – goeie smaak en kwaliteit was ononderhandelbaar.

j) Haar gesin en vriende was vir haar baie belangrik – sy was die trotse ma van drie kinders en het nie weggeskram van die ekstra verantwoordelikheid wat ‘n dogter met spesiale behoeftes verteenwoordig het nie.

k) Dr Rens, sy praktyk en die mediese wêreld waarin hy beweeg het, was vir haar bekend en sy het die dinamika daarvan verstaan en dit geniet.

l) Die meeste van ons sou nie vir veel meer kans gesien het as om die vrou te wees van ‘n man met ‘n besige mediese praktyk en die ma van gesonde kinders nie en sou dit as ‘n moeilike taak beskou het indien ‘n kind met spesiale behoeftes bygekom het. ‘n Besonder mens sou onder hierdie omstandighede dalk tot ‘n mate by haar onmiddellike gemeenskap betrokke geraak het. ‘n Uitsonderlike mens sou onder hierdie omstandighede moontlik die tyd en energie kon vind om op ‘n breër vlak en oor die langtermyn by ‘n verskeidenheid inisiatiewe en dienste in haar plaaslike gemeenskap betrokke te raak.

m) Vir 60 jaar maak ‘n Ina Rens onder hierdie omstandighede vir ‘n reuse verskil in haar plaaslike gemeenskap en laat lewende monumente na, dien met onderskeiding op nasionale vlak en doen dit op so ‘n wyse dat sy bewonder word vir haar diensbaarheid, onbaatsugtigheid, intellek van formaat, adellikheid in alles wat sy dink en doen, leierskap wat mense rondom haar tot groot hoogtes aanvuur.

Ina Rens het voluit geleef en ek kan net dankbaar wees vir die voorreg om haar te ken – sy sal beslis onthou word, sy sal gemis word en haar lewende monumente sal voortbestaan.

Ek glo dat dit ‘n heuglike dag in die Paarl sal wees wanneer nog een van haar visies gestalte kry en Stoney Broke herdoop word na Huis Ina Rens en begin funksioneer as versorgingseenheid vir persone met dementia.

Aan Albrecht en Nicolaas en hul geliefdes, my opregte simpatie – as ons haar gaan mis en oor haar treur is julle verlies des te groter. Dankie dat julle haar vir dekades met ons gedeel het. Ek eer julle vir die deernis en toewyding waarmee julle steeds in die laaste fase van haar lewe na haar omgesien het – julle optrede is in werklikheid die grootste huldeblyk aan ons geliefde mev. Ina Rens van die Paarl.

Mara Koornhof
Februarie 2011


Hieronder volg die Genealogiese verslag van Johan(n) Adam RENS


Generation No. 1

1. JOHAN(N) ADAM1 RENS1. He married CATHARINA ELIZABETH LAN(T)S1 16 Oct 1761, daughter of CORNELIS LANS and ANNA DEN
BANK.

Notes for JOHAN(N) ADAM RENS:

Johan arriveer in 1754 as soldaat van Meerseburg in Sakse. Hy is stalkneg vanaf 1755-1760; daarna burger in 1760. Hy en sy vrou het ses kinders gehad.


Child of JOHAN(N) RENS and CATHARINA LAN(T)S is:

2.    i.    JOHANNES JACOBUS2 RENS.

Generation No. 2

2. JOHANNES JACOBUS2 RENS (JOHAN(N) ADAM1)1. He married ANNA CATHARINA MOSTERT1 22 Jul 17871, daughter of JOHANNES MOSTERT and ANNA LINDEQUE.

Notes for JOHANNES JACOBUS RENS:

Die paartjie het 3 kinders gehad.

More About JOHANNES JACOBUS RENS:

Christening: 22 Jul 1764, Kaapstad1

More About ANNA CATHARINA MOSTERT:

Christening: 01 Apr 17531


Child of JOHANNES RENS and ANNA MOSTERT is:

3.    i.    BERNARDUS3 RENS.

Generation No. 3

3. BERNARDUS3 RENS (JOHANNES JACOBUS2, JOHAN(N) ADAM1)1. He married CHRISTINA JOHANNA MULLER1, daughter of IGNATIUS MULLER and MARGARETHA VAN
NIEKERK.

More About BERNARDUS RENS:

Christening: 11 Apr 17901

More About CHRISTINA JOHANNA MULLER:

Christening: 30 Mar 17941


Child of BERNARDUS RENS and CHRISTINA MULLER is:

4.    i.    BERNARDUS PETRUS4 RENS, b. 10 Apr 1821.

Generation No. 4

4. BERNARDUS PETRUS4 RENS (BERNARDUS3, JOHANNES JACOBUS2, JOHAN(N) ADAM1)1 was born 10 Apr 18211. He married JOHANNA CATHARINA VAN
NIEKERK1, daughter of PIETER VAN
NIEKERK and JOHANNA MULLER. She was born Abt. 1820.

Notes for BERNARDUS PETRUS RENS:

Bernardus was onderwyser van beroep.

More About BERNARDUS PETRUS RENS:

Christening: 22 Jul 1821, Uitenhage1


Child of BERNARDUS RENS and JOHANNA VAN
NIEKERK is:

5.    i.    BERNARDUS PETRUS5 RENS, b. 15 Nov 1848.

Generation No. 5

5. BERNARDUS PETRUS5 RENS (BERNARDUS PETRUS4, BERNARDUS3, JOHANNES JACOBUS2, JOHAN(N) ADAM1)1 was born 15 Nov 1848. He married ANNA ELIZABETH S(CH)NETLER1 Abt. 1875, daughter of DOUW SCHNETLER and SARA VAN
VUUREN. She was born 19 Mar 1851.

Notes for BERNARDUS PETRUS RENS:

Volgens die inskrywing in die RENS Familiebybel, was daar 10 kinders.


Child of BERNARDUS RENS and ANNA S(CH)NETLER is:

6.    i.    PIETER ALBRECHT6 RENS, b. 20 Sep 1881; d. 16 Oct 1970, Paarl, South Africa.

Generation No. 6

6. PIETER ALBRECHT6 RENS (BERNARDUS PETRUS5, BERNARDUS PETRUS4, BERNARDUS3, JOHANNES JACOBUS2, JOHAN(N) ADAM1)2 was born 20 Sep 18813, and died 16 Oct 1970 in Paarl, South Africa4. He married LENA DE LA
ROUVIER5. She died 17 Dec 1932 in Memel, Oranje Vrystaat, South Africa6.

Notes for PIETER ALBRECHT RENS:

Pieter was vir baie jare sendeling in Nyasaland.

More About PIETER ALBRECHT RENS:

Burial: Paarl, South Africa


Children of PIETER RENS and LENA LA ROUVIER are:

    i.    RINIE7 RENS7, b. 01 Mar 1914.

    ii.    BABY” RENS7, b. 1917; d. 1917.

Notes for BABY” RENS:

Die kind het slegs een dag geleef

7.    iii.    PIETER ALBRECHT RENS, b. 19 May 1920; d. 18 Jul 2004, Paarl, South Africa.

    iv.    JEREMIA
DE LA ROUVIER RENS7, b. 17 Jan 1926.

Generation No. 7

7. PIETER ALBRECHT7 RENS (PIETER ALBRECHT6, BERNARDUS PETRUS5, BERNARDUS PETRUS4, BERNARDUS3, JOHANNES JACOBUS2, JOHAN(N) ADAM1)7 was born 19 May 1920, and died 18 Jul 2004 in Paarl, South Africa8. He married INA LOUW. She was born 06 Apr 1923, and died 28 Jan 2011 in Paarl, South Africa.

Notes for PIETER ALBRECHT RENS:

Pieter was vir baie jare mediese dokter in die Paarl. Het gewoon in Durr straat.


Children of PIETER RENS and INA LOUW are:

    i.    ALBRECHT8 RENS.

    ii.    MARIÉ JOHANNA RENS8, b. 17 Jul 19548; d. 24 Dec 2007, Paarl, South Africa8.

    iii.    NICOLAAS RENS.

[Daar is ook ‘n kleinkind van dr. en mev. Piet RENS maar ek weet nie van watter seun dit afstam nie.]

Endnotes

1. Gisa, Stellenbosch, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Volume 9.

2. PA RENS, Familie Bybel inskrywings.

3. Gisa, Stellenbosch, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Volume 9.

4. Paarl begraafplaas.

5. PA RENS, Familie Bybel inskrywings.

6. “”Die Koningbode”, Nyassaland, Jan 1933.”

7. PA RENS, Familie Bybel inskrywings.

8. Paarl begraafplaas.



© Johann H Claassen 2011

Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: