johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

GERRIT VICTOR – ‘n Kort lewenskets

Die VICTOR familiewapen


‘n Man van vele ambagte

Inleiding

Gerrit Victor, die stamvader van die Victor-familie in Suid-Afrika, is omstreeks 1645 gebore in Amsterdam en tree voor 1666 in diens van die VOC te Ceylon. Hy kom in 1666 (hoewel daar aanduidings is dat dit reeds in 1665 kon wees) in die Kaap aan as die vyfde Krankebesoeker, ook genoem Sieketrooster. Op 23 Desember 1665 skryf goewerneur Wagenaer in sy joernaal die volgende: “December 22nd. Towards evening to our joy the long expected Achilles arrived, after a voyage of nine months from Zealand. She had suffered great danger and trouble, and sustained much damage, her starboard bulwards having been knocked away from the saloon to the main mast. On account of the many sick, she had to call at Cape de Loop, and afterwards at the Island Annaboa, where the men, from eating much healthy fruit, especially oranges, recovered within a few days. They had however previously lost 16 men by death, among them the junior merchant Adriaan Weyers, who had died at the aforesaid Cape. Moreover 16 men, soldiers and sailors, had deserted there towards the forest among the blacks, so that she brought hither 140 souls, including 47 soldiers and four women and a child, who were all, excepting the sick visitor, healthy people. We thank God for this, as we had long ago already despaired of her safety.” [Transkripsie en vertaling deur H.C.V. Leibbrandt]. Na alle waarskynlikheid was dit die nuwe sieketrooster, Gerrit Victor, wat aanboord die skip was. Op 15 Mei 1666 verskyn sy naam reeds in die Monsterrolle van die Kompanjie.

‘n Sieketrooster se werk was in ‘n groot mate suiwer geestelik van aard en dit was van so ‘n persoon verwag om die siekes te besoek en geestelike bearbeiding onder diesulkes te hanteer. Verder was die sieketrooster ook die “voorleser” in die kerk. Keuring vir die amp was streng gedoen want behalwe dat die persoon goed geletterd moes wees, moes hy ook goed kon sing. Dit was van die Sieketrooster verwag om, wanneer hy gevra word, as voorsanger in die kerk op te tree. Daarbenewens moes hy ook kon voortgaan in die afwesigheid van ‘n predikant. Sieketroosters het ook sekere hulpmiddels ontvang om hulle werk te kon doen. Hulle het twee stelle voorrade ontvang; een stel vir wanneer hulle aanboord van ‘n skip is en die ander stel wanneer hulle op land moes be-arbei. Die beroemde Statenbijbel was uiteraard deel van die sieketrooster se toerusting asook ‘n Psalmboek en skryfbehoeftes. Deel van Gerrit se vele ander ampte wat hy moes verrig, was die een as onderwyser. Hierdie taak verrig hy in ‘n solderkamertjie wat waarskynlik in die Kasteel geleë was. Sy vergoeding beloop ‘n kwart Riksdaalder vir elke kind van ‘n burger of dienskneg van die Kompanjie wat hy onderrig het. Hierdie einste solderkamertjie was heel dikwels omskep in ‘n herberg/kroeg wanneer skepe aangedoen het by die hawe. Die kinders het dan vakansie gekry. Op 7 Mei 1666 het die Kaapse Kerkraad ‘n besluit geneem om die doop van slawe kinders in ooreenstemming te bring met die gebruik in Batavia. Op 20 September 1666 dui die Kaapse doopregister vir die eerste keer aan dat ‘n lid van die Politieke Raad as getuie optree by die doop van ‘n slawekind. In 1667 tree Gerrit op as getuie by die doop van ‘n slawekind Catharijn, die dogter van Fransike. Daarna tree hy by verskeie dope op as getuie – as waarborg dat die kind ‘n Christelike opvoeding sal kry. Gerrit was die enigste van die Sieketroosters wat twee termyne aan die Kaap uitgedien het.


Faksimilee van Gerrit Victor se handtekening

Gesin

 Sieketroosters moes ook in die afwesigheid van predikante voornemende egliede se huweliks gebooie afkondig. Soms was die sieketrooster in die bootjie geplaas waar hy selfs sy eie huweliksgebooie moes aanhoor. Die vyfde huwelik wat in die register van die Kerkraad van Kaapstad aangeteken is, was die van Gerrit Victor en Stijntjie Van Den Berg op 16 Januarie 1667.

Aan die einde van 1667 begin 1668 word sy dienste as sieketrooster benodig in die Ooste. Hul eerste seun, Cornelis word in baie rekords aangedui dat as sou hy in Ceylon gebore gewees het. Dit word betwyfel aangesien Gerrit en sy vrou in Januarie 1667 getroud is aan die Kaap en op 16 Oktober 1667 verskyn die volgende inskrywing in die Kaapse doopregister: “Den 16 Oct: een soontje van Do’ Victor en Stynje van den  Bergh wiert genaemt Cornelis, tot getuygen stonden  de E .H. Command: Cornelis van Quaelbergen  en Judith van den Boogaerde syn resp’ huysv’.”   Dit laat dus min ruimte oor vir ‘n retoer reis na Ceylon. Hul tweede seun, Jacobus word gebore terwyl Gerrit in Negombo diens doen.

Cornelis Victor trou op 8 Augustus 1688 met Cornelia Jacoba Junius en uit hierdie huwelik word 6 kinders gebore.

Jacobus Victor, wat ook in dokumente aangedui word as baasskutter, trou op 20 September 1699 met Magdalena Wendels en uit hulle hulle word slegs een seun, naamlik Wynand, gebore. Magdalena trou op 17 Mei 1710 met Jan Gerritz wat die vermoede laat ontstaan dat haar en Jacobus se huwelik ontbind is. Dit is algemeen bekend dat Jacobus ‘n seun, Christiaan, by ‘n slawemeisie verwek het. Na Jacobus se dood in 1719 het Christiaan op 1 Augustus 1723 ‘n versoek gerig dat hy sy vryheid verlang en burger status wil hê. Dit is toegestaan deur die Politieke Raad op grond van  getuienis gelewer  dat hy ‘n aanwins vir die gemeenskap sal wees. Die volgende ongewone versoek van hierdie aard was eers weer 70 jaar later aangehoor.

Tweede Termyn aan die Kaap 

Gerrit en sy gesin keer  weer in 1676 terug na die Kaap aanboord van die Voorhout. Op 30 Desember 1676 verkry sy vrou en Barbara Geens hul bakkerslisensies vir die bak van vars brood. Dit word toegestaan onderhewig aan ‘n aantal bepalings wat punctueel nagevolg moes word. Die brood moes gaar en droog wees en na gelang van die gewig verkoop word ooreenkomstig ‘n masimumskaal. Daar was drie kategoriee brood, naamlik Tarwen broot, Roggen broot en Fijn gebuijlt broot. In 1677 verkry Gerrit Vryburger-status en in dieselfde jaar word hy ook aangestel as die Weesmeester, ‘n pos wat hy in 1678 steeds beklee en waarin hy weer op 30 Desember 1690 aangestel word. Na 1677, maar voor 1707, kom Gerrit in besit van die plaas Den Uytwijk, ‘n plaas wat op ‘n stadium aan Jan van Riebeeck behoort het. Vanaf 2 Maart 1678 word 300pond rys maandeliks aan hom toegeken. In 1678 word hy aangestel as diaken van die Kaapse kerk en verkry hy ook sy bierlisensie. Die amp van diaken beklee hy steeds in 1679. Nieteenstaande sy diakenskap, brei hy sy handel dryf in sterk drank uit en in 1679 verkry hy lisensie om alle soorte drank te verkoop. Dit sluit in Mom, Franse-, Rynse- en Spaanse wyn.  Op 8 Januarie 1680 kla hy oor die gehalte van die koring. Volgens hom was dit besmet met kalanders en om dit te bewys, lê hy twee broodjies voor aan die Politieke Raad. Laasgenoemde besluit toe om die graan teen 8 Gulden in plaas van 12 Gulden per mud aan hom te voorsien. Sy bakkerslisensie word op 14 Maart 1680 vir ‘n tydperk van 3 jaar hernu teen ‘n bedrag van 850 Gulden. Op 16 Desember 1680 word hy aangestel as lid van die Huwelikshof en word in dieselfde jaar heraangestel as diaken. In 1681 dien hy steeds op die Huwelikshof. Die broodbakkery wil nie heeltemal vlot nie en op 27 Januarie 1681 word bevind dat hulle brood onbevredigend is. Die bakkery kan in elk geval ook nie winsgewend bestuur word deur Gerrit en sy eggenote nie en keur die Politieke Raad dit goed dat hy weer in sy vroeë hoedanigheid as sieketrooster aangestel word. Sy salaris sou egter nie nou weer 40 gulden per maand wees nie, maar slegs 30 gulden. Hy aanvaar hierdie aanbod met groot dank en op 15 Maart 1681 vertrek hy as sieketrooster na Batavia.

Ligging van Gerrit Victor se plaas De Uitwijke

Derde Termyn aan die Kaap

Op 15 April 1682 keer hy terug van Batavia en in 1682 verkry sy vrou weer ‘n bakkerslisensie. Sy deelname aan die drankhandel blyk suksesvol  te wees want in 1683  verkry hy weer lisensie om alle soorte drank te verkoop. Volgens die jaarlikse opgawe in 1683 besit Gerrit een kneg, twee slavinne, twee slawekinders, agt osse, een perd, een vul en sestig skape. In 1684 word sy  lisensie om Kaapse wyn en brandewyn te verkoop, hernu en in 1685 verkry hy lisensie om bier te verkoop. 13 Mei 1685 lê hy ‘n beëdigde verklaring af  “ten laste van den Luijtenant Jan Baptist(Dubertin)”. Laasgenoemde is verban na Mauritius en nog later ontslaan uit die VOC.

Hoewel Gerrit deurgaans ‘n voorbeeldige lewe gelei het, het probleme met die gereg hom nie ontwyk nie en op 15 Oktober 1685 verskyn hy in die hof vir die onwettige kap van hout in ‘n verbode plek. In 1686 dien hy weer as diaken in Kaapse kerk. In 1686 word sy lisensie om bier te verkoop hernu.

Sieketroosters was nie net geroepe om die geestelike swaard te hanteer nie, maar ook om die swaard op te neem om die volksplanting te help beskerm. So word hy dan op 2 Julie 1687  aangestel as offisier(korporaal) in die Burgermag. So ‘n posisie word lewenslank beklee of totdat die persoon vir sy ontslag vra of versoek om na elders verplaas te word. Dit blyk dat hy ook ‘n aanleg in die krygsdiens gehad het aangesien hy  kort daarna as Vaandrig aangestel word met dubbel soveel manskappe onder sy aanvoering. Hy beklee hierdie amp 12 jaar lank.

Op 6 Junie 1690 staan hy borg vir Jacobus van Heuren se skulde. Weens goeie werk in die verlede gedoen, word Gerrit weer in 1691  as Weesmeester aangestel. Met die boerdery het dit ook nie te sleg gegaan nie en in 1692  oes hy 100 Mud koring. Gerrit was ook ‘n slawe eienaar en het gereeld slawe gekoop en verkoop. Slawe is gereeld vry verklaar maar daar was in die meeste gevalle ‘n voorwaarde aan gekoppel. Op 22 November 1692 word sy slawe, Hannibal van Macassar en Jannetjie van Malabar met haar dogter Rebecca (2jr) vry verklaar op voorwaarde dat hulle vir hom diens doen vir die volgende drie jaar.

Na ‘n leeftyd van diens aan die gemeenskap versoek hy op 5 November 1692  om onthef te word van sy openbare poste weens sy hoë ouderdom. Hy skaal egter nie heeltemal af met sy bedrywighede nie want op 27 Junie 1697 koop hy die slaaf Scipio van Malabar vir 55 Riksdaalders van Lodewijk van Dieden.   Na sy versoek op 5 November 1699 word hy “op een eerlijke weise” van sy Vaandragerskap ontslaan. Die ouderdom begin regtig sy tol eis aangesien hy op 11 Januarie  1708  die plaas Den Uytwijck van 34 morg en 371 vk. roede aan Lambert Adriaensz verkoop.

Die Einde

Gerrit Victor sterf omstreeks 1714. Op 2 Julie 1714 word sy inventaris opgestel. Dit bestaan uit: “1 ledekant, 1 veere bed, 1 veere peuluw, 2 veere kussens, 1 combaars, 1 kist met eenige boeken, 5 schilderijen, 1 slaaff genaamt Antonij, 1 slaaff genaamt Arent en 1 leedige kist.” Sy seun, Cornelis, teken die inventaris as opsteller. Op 29 Oktober 1715 word sy  Likwidasie- en Boedelrekening afgehandel.

Uittreksel uit Gerrit Victor se Boedelrekening

Bronne

  • Die Victor familie – Ongepubliseerde navorsing deur Johann H Claassen
  • Claasen, J.P., Die Sieketrooosters in Suid-Afrika 1652-1866, NG Kerk Boekhandel. 1977.
  • Böeseken, A.J., Slaves and Free Blacks at the Cape 1658-1700, Tafelberg, Kaapstad. 1977.
  • Genealogiese Instituut, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Volume 14, Genealogiese Instituut, Stellenbosch. 2006.
  • Kaapse Argiefbewaarplek. Kaapstad.
  • www.databases.tanap.net
© Johann H Claassen 2010


Advertisements

Single Post Navigation

2 thoughts on “GERRIT VICTOR – ‘n Kort lewenskets

  1. Crystal Kilian on said:

    Very interesting…wish it was in english as well though…..Victor family in my ancestry line

  2. Philna on said:

    Wonderlik om dit te lees, baie dankie. Was my oupa×8.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: