johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

George Herald | Oom Gert Claassen vertel oor die tolhuis

Oom Gert Claassen en Charlie Westman

George Herald | Oom Gert vertel oor die tolhuis.

Oom Gert Claassen (80) se geheue is nog glashelder toe hy vertel van die lekker ou dae, toe sy familie vir sestien jaar in die ou tolhuis in die Montagupas gewoon het. Ons ry haastig tolhuis toe om ‘n “op die terrein” weergawe van sy herinneringe te deel. “Digte bosse het tot teenaan die tolhuis se mure gestaan toe ons hier intrek. Ek was agt jaar oud, my pa het vir Bosbou gewerk en dit was nog baie wild hier bo, maar ons het ingespring, alles weggekap en landerye tot daar onder teen die rivier gemaak” vertel hy. Daar is pampoene, aartappels, kool en vrugtebome aangeplant en na skool was daar nie so ‘n ding soos huiswerk nie, die kinders moes in die landerye werk. Hulle het twee koeie en twintig hoenders ook gekry. Toe tref die eerste terugslag hulle. “Binne ‘n week het ons nie een hoender oor nie, die muskeljaatkatte het hulle almal opgevreet”, sug hy.
Peste en plae
Toe alles mooi groei en die bome begin vrugte dra, lok dit nog ‘n klomp indringers – bobbejane en spreeus. Hy vertel hoe hy eendag met die haelgeweer op die stoepie uitgekom het om die bobbejane te verjaag, maar hulle was deksels slim. As hulle hom met die geweer gesien het, het hulle laat spat die bosse in. In die proses om die haelgeweer te ontlaai, glip die hamer en ‘n skoot tref die grond net by die voordeur. Die hael spatsels vang hulle waghond onder by die trappe so hard dat hy tjank! Gelukkig was hy nie ernstig beseer nie. Die spreeus het altyd in ‘n netjiese ry op die nok van die tolhuis gesit en dit het gehelp dat hy later ‘n skerpskut met sy kettie geword het. “Hulle het nie ‘n kans gestaan nie!” sê hy nogal vol trots. Sy ma, Maria, het heerlike brood gebak – in halwe 4 gallon en 2 gallon lampolieblikke. Dié blikke het net mooi in haar Welcome Dover se oond gepas. “Daar was altyd onderdele vir die Dover beskikbaar by Strydom en Jordaan daar onder in Markstraat” sê hy terwyl hy George se rigting toe wys.
Spoke
Daar was baie spookstories en daarmee ook angstige oomblike vir hom as kind. “Wanneer my ma kopseer gekry het, het sy geglo dat ‘n groot wilde platblaar plant, wat sy vir ‘n rukkie in die oond warm gemaak het, verligting sou bring deur dit op haar voorkop te plaas”. Daar was net een probleem. Die plante het op ‘n kol onder naby die rivier gegroei en dit was altyd sy taak om dit uit te haal as die nood roep. ‘n Paadjie het al langs die telefoonpale geloop en daar was ‘n sementblok tussen twee van die pale wat soos ‘n graf gelyk het. Kopsere ken nie tyd nie en wanneer dit skemer geword het, en hy verby die blok moes loop, het hy wyd om dit gehardloop met sy oë bot toe.
Raaisel
Op die Montagupas, by een van die bruggies, is die kaal lyke van ‘n man en ‘n vrou gevind en dit het nooit tot die lig gekom wat daar gebeur het nie. Die familie het gereeld uitstappies langs die pad geniet berg se kant toe, maar hy het nog vér voor die bruggie al omgedraai want die storie het by hom gespook.
Hy vertel hoe hy ‘n lat vir sy eie g*t gepluk het. Elke jaar, vir so 14 dae, het sy pa en al die werkers in die omgewing oor die berg gegaan na Herald om hacea in die klowe uit te roei. Hulle het sommer daar in die ou hotelletjie geslaap om die lang reistyd heen en weer uit te skakel. Hulle plaaswerker, wat altyd die koeie gemelk het, het ook saam met sy pa gegaan en hy moes self inspring om te leer melk. In die begin was dit ‘n moeilike taak vir ‘n jong knapie, want jou vingers moet sterk wees en daar is ‘n spesiale tegniek betrokke. Later het hy sommer ‘n ekspert melker geword en toe die span terugkeer en sy pa sien hoe goed hy die spene kon bewerk, kry hy dadelik die permanente pos van melker vir die familie.
Telefoon
Binne die tolhuis wys Oom Gert waar die ou telefoon teen die muur gesit het. Die gate sit nog steeds daar. Niemand sal ooit kan raai waarvoor dié gate was as dit nie uitgewys is nie. Die tolhuis se telefoonlui was drie kort luie, Witfontein twee kort en Geelhoutboom een kort en een lange.

(Vergelyk dit met vandag se selfone en e-posse).
Klipwerk
Iets wat min mense agterkom met die klipwerk van die tolhuis, is dat twee klippe nie gepak was om die hoeke te vorm nie, maar een klip is gekap in die vorm van ‘n hoek. Mense het gemeen dat die tolhuis die vorm van ‘n doodskis het, veral met die ekstra hoeke aan die voorkant. Dit is vir ‘n goeie rede so gebou. Omdat die tolhuis op die hoek van die pad was, sou dit moeilik gewees het om die vaartuie te sien aankom as die voorkant vierkantig was.
Smousery
Toe motors in groot getalle die pas begin gebruik, het die Claassens flink besigheid gedoen met die verbygaande motoriste. Nie net groente en vrugte is verkoop nie, ook watsonias en koningproteas, die laaste wat in drie stadiums aangebied was – een oop blom, een wat half oop is en een knoppie en daarvoor het hulle ‘n tiekie gekry. Op die hele veld om hulle en in die berge het banke watsonias en proteas wyd gegroei.
Tiekie
Die gesin het ook ‘n ander bykomstige geldjie verdien. Sy ma het ingestaan vir sy pa Nicolaas met die bynaam van “Man”, want hy was ‘n groot sterk man. Hy was, volgens sy kontrak met Bosbou, nie toegelaat om ander Bosboutake uit te voer nie. Ma Maria moes “uitluister” vir die stoomtreine wat teen die bergpas ry en dadelik venster toe gaan as sy een hoor. Die stoomtreine se kole wat uitval het, het dikwels die veld aan die brand gesteek. Dit was veral in die winter wanneer die plante droog was. As sy dan ‘n rokie sien trek het, moes sy Bosbou dadelik skakel om die vuur te gaan blus, voordat groot skade verrig kon word. Hiervoor het hulle ‘n ekstra tiekie per dag verdien.
Skepe
Van die stoepie af in die rigting van Victoriabaai, kon hulle die see vol swart spikkels sien. Dit was die baie skepe wat in daardie tyd nog elke dag verby gevaar het. Oom Gert kyk berge se kant toe en sê: “Ek het hierdie berge plat geloop, want ek was baie lief vir stap. Ek het geweet waar elke boom, bos of groot klip was en as mense sê hulle het al duisende kilometers geloop, het ek miljoene geloop. Maar nou is die ou knieë op, anders was ek nou weer in die berge”.
Droëbek
Hy vertel verder dat in sy hele lewe het hy nie ‘n druppel drank oor sy lippe laat gaan nie en dat hy nooit gerook het nie. Dit het sekerlik daartoe bygedra dat sy geheue nog vandag goed is en dat hy nog goeie gesondheid geniet. ‘n Mens kan ook sien wie se gene hy dra, beslis dié van sy pa, “Man”.

Artikel deur Ken Gie – Sekretaris: Vriende van die Tolhuis.

Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: