johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Die NG Moedergemeente Oudtshoorn. 1853-1953.

In  dié ou kerkgebou is ek  gedoop . Baie van my voorouers is hier gedoop, getrou en is ook vanuit hierdie gebou na hulle laaste rusplek vervoer. Dit sou baie jare van sweet en bloed kos alvorens ‘n volwaardige kerkgebou hier staan gemaak is. Met die volgende paar foto’s en feite sal ek probeer om die totstandkoming van die kerk te skets. Die foto’s is almal geneem uit die Eeufees Gedenkboek van die gemeente.

Oudtshoorn is vernoem na die kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, mevrou Geesje Ernestina Johanna Bergh. Sy was getroud met die Siviele Kommissaris(Landdros),Egbertus Bergh, van George. Die baron het na Suid-Afrika gekom in 1741 en was die Sekunde in 1760. Hy keer terug na Holland in 1766 en word aangewys as Goewerneur vir die Kaap in 1772. Hy sterf egter in 1773 onderweg na die Kaap.

Die kerklike gemeente is  eers op 11 Oktober 1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, is die mense van hierdie streek onder  die gemeente van Tulbagh ingedeel. Die gemeente George is in 1812 gestig en is Oudtshoorn onder daardie gemeente ingedeel. Vir die eerste keer is ’n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Die eerste kerkgebou is aan die onderpunt van George weg(nou Langenhovenweg) opgerig. Die kerkplein was noord van die kerk geleë, in die omgewing van Plein straat.  Cornelis Petrus Rademeyer het  vir hierdie doel  5 morge van sy plaas beskikbaar gestel in 1838. Die kerk is in 1839 ingewy.

Op 11 Oktober 1853 is die gemeente van Oudtshoorn gestig. Weens finansiële probleme kon die eerste leraar, Ds van der Riet, eers op 3 Mei 1857 bevestig word. Op 7 November 1859 is tot die oprigting van ’n nuwe kerkgebou besluit. Op 15 Januarie 1861 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Weens finansiële moeilikhede is dié sierlike gebou eers op 7 Junie 1879 ingewy teen ’n koste van R22425. Die bouery was twee keer gestaak en wel  gedurende Oktober 1863 en weer gedurende Desember 1865.

Die bevolking het so vinnig uitgebrei dat die volgende gemeentes gestig is: Calitzdorp in 1873; De Rust in 1900; De Hoop in 1911; en Volmoed in 1921. Volmoed is nie ’n dorp nie hoewel die skenker van die lap grond, WG Olivier, dit voorsien het dat daar ’n dorp gestig sou word op sy grond. Volmoed is geleë ongeveer 20 kilometer suidwes van Oudtshoorn. Die eerste blankes was reeds teen 1770 hier gevestig. Sedert 1908 het Olivier, eienaar van die plaas Armoed ’n aanbod aan die kerk gemaak deur 5 morge grond te skenk waarop ’n kerkgebou met 700 sitplekke opgerig sou word op sy koste, maar dit is van die hand gewys. Die aanbod is egter aanvaar in 1910 en oordrag het geskied in 1912. Die pastorie is die volgende jaar reg langs die kerk opgerig en aansoek is gedoen vir afstigting van die Oudtshoorn moedergemeente. Die versoek is geweier, maar uiteindelik in 1921 goedgekeur. Gedurende 1931-1944 is ’n tweede pastorie meer sentraal opgerig met ’n groot saal daarnaas. ’n Algemene Handelaar met petrolpompe is naby die pastorie en saal geleë.  Die skool, wat ten tyde van my en my broers se teenwoordigheid aldaar, standerds sub A tot 8 aangebied het, was geleë langs die pastorie aan die oostekant.

In 1948 is Oudtshoorn-Wes onder die bekende Dr.  Andries Treurnicht afgestig.  Matjesrivier in die gemeente Kangovallei, is op 27 Januarie 1950 afgestig. Oudtshoorn-Noord is op 17 September 1950 afgestig.

Image   Die Eeufees Gedenkboek. 1853- 1953

Vir 18 jaar lank moes die gemeentelede in hierdie gesig vaskyk. Tekort aan die nodige fondse het die bouery tot stilstand gebring.

Die preekstoel en gekleurde ruite het elk £800.00 gekos. Die preekstoel was die werk van ene Jacobs. Die beelde voor die preekstoel is in Engeland gekap. Drie van hulle is na die portret van 'n dogter van Rooyen gemaak en drie van die portret van 'n dogter Meyer. 'n Bybel vir die preekstoel is deur H.S. Schoeman geskenk en 16 bybels vir die kerkraadsbanke deur J.J. Schoeman. Die inwyding van die kerk het op 7 Junie 1879 plaasgevind. Op 11 Februarie 1911 is daar besluit dat elektriese ligte in die kerk installeer moet word.

My oupagrootjie Nicolaas Johannes Claassen*1860 en sy nooi Sophia Elizabeth Gerber*1865, is na die 'opgee van gebooie', op 3 Oktober 1882 deur ds. Stegmann in die huwelik bevestig. Vier van hul kinders is ook deur hom gedoop.

Die nuwe pastorie is opgerig deur Delbridge en Courtenay van Mosselbaai vir £3250.00. Dit het nie die skilder- en plakwerk ingesluit nie. Om die nodige fondse aan te vul, is onder andere basaars gehou. Dit word egter duidelik gestel dat as daar wyn en brandewyn geskenk sou word, dit deur die kommissie verkoop moet word en nie op die basaartafels mag beland nie. Dis nie bekend wanneer die pastorie in gebruik geneem is nie, maar op 27 Desember 1880 het broeder B.J. Keyter verslag gedoen oor die vordering in verband met die bou daarvan. Tydens hierdie vergadering het hy ook bekend gemaak dat die tender aangeneem is. Op 24 Januarie 1881 is daar tydens 'n vergadering bekend gemaak dat £2000.00 beskikbaar is vir die voltooiing van die pastorie.

Ds. Murray was die jongste van vyf predikantseuns van die baie bekende Ds. Andrew Murray wat in 1822 uit Skotland hierheen gekom het.

Ds. Andrew Murray McGregor was, voordat hy na Oudtshoorn beroep is, eers op die dorpie, Lady Grey naby Robertson in die bediening. Die dorpie is later herdoop om McGregor te heet.

Teen die einde van 1925 is 'n kerkblad, die Kango Kerkblad, gestig met ds. Viljoen as redakteur. Dit was gedurende sy termyn dat die kerknotule op 28 Mei 1921 vir die eerste keer in Afrikaans opgestel is.

Is dit bloot toevallig dat hy 'n 'Hitler-snorretjie' dra? Sy dienstermyn was gedurende WWII.

Latere parlementslid en leier van die Konserwatiewe Party(KP).

Kerkraad 1953

Naamlys van kerkraadslede

Bronne:

Claassen, J.H., ongepubliseerde familie navorsing.

Greeff, M.S., 1853-1953, Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Oudtshoorn, 1953.

© 2012 Johann H Claassen

Single Post Navigation

9 thoughts on “Die NG Moedergemeente Oudtshoorn. 1853-1953.

  1. Toubs on said:

    Ek like, mooi stukkie geskiedenis, nou nie meer in een boekie nie maar vir baie mense om dit te kan lees.

  2. Millicent Hall on said:

    Pragtige geskiedenis. Ek is tans besig om my familie geskiedenis na te vors, die van der Westhuizen’s van Oudtshoorn. Die Mr. W.M van der Westhuizen (bo links op u laaste foto) is heel moontlik my vader se oom, as sy name Willem Marthinus was. My vader se ander oom was Piet (Petrus Jacobus) van der Westhuizen, burgermeester van Oudtshoorn in die laat 1940s en toe weer laat 1950s. Dankie vir die deel van u geskiedenis, so min van ons Suid Afrikaners is op die grootte internet. As u dalk ‘n bietjie geskiedenis van die van der Westhuizen’s het, sal ek baie graag van u wil hoor.

    • Baie dankie Millicent. As ek reg onthou het die vd Westhuizens ook die superette gehad; eerste een links soos jy van Calitzdorp inkom. ‘n Mev vd Westhuizen het ook vir my klas gegee op Volmoed in die 60’s.

      In watter deel van die wêreld bly jy? Ek het netnou op FB gaan loer maar daar is ‘n duisternis Millicent HALLs! As ek kan weet hoe ver jy met jou navorsing gevorder het, dan kan ek jou help met die doopregisters. Die oudste WM wat ek het, is 1873 gebore en die jongste 1906. Ek moet egter waarsku dat ek voltyds navorsing doen en nie eintlik tyd het om mense van inligting te voorsien nie. Ek help so ver moontlik. Groete.

      • Millicent Hall on said:

        Hi daar, jy het my nie op FB gekry nie….maar ek het jou gekry. Het vinnig daardeur gekyk…jy het ‘n pragtige familie! Sal vroeg volgende week vir jou ‘n boodskap daar los. Ons is nou eers druk besig om voor te berei vir ‘n 70ste verjaarsdag vir die naweek….my liefste, wonderlikste Pappie s’n. Ek wou hom vreeslik graag verras het met ‘n volledig “family tree” met sommer baie inligting, geskiedenis, fotos, dokumente en someer….maar moes toe “settle” vir slegs deel 1 (1652 – 1807) a.g.v ‘n tekort aan inligting. Sal maar deel 2 (1807 – nou) vir Krismis gee. 😦
        Groete Millicent

      • Ha-ha! Bly jy het darem vir my gevind! Geniet jou vader se verjaardag saam met hom. Beste wense. Johann

  3. Carol on said:

    Good Evening. I have a request! My husband’s grandfather was W.G. Olivier who had sons Ruben, Gerhard and Faure Louw. My husband, Tertius is the son of Faure Louw. Could you perhaps be able to give me some information on his Geneology. W.G. Olivier was from the farm Armmoed. I would appreciate any information you can supply. With many thanks and kind regards. Carol Olivier

  4. liana rossouw on said:

    Hi, daar!

    Ons is opsoek na die naam van die predikant wat in die 1970’s by die NG Moerdergemeente op Oudtshoorn bedien het. Een van my vriende is opsoek na sy biologiese ma en die predikant mag dalk net n skakel wees.

    As enige iemand my kan help sal ons dit baie wardeer.

    • Liana, jammer dat ek nou eers terugkom na jou. Jy sal maar direk met die kerk moet skakel. 1970 is heeltemal te vroeg vir my! Hulle is op die Net; tik maar net NG Moedergemeente in op Google. Beste wense.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: