johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

’n Korrupte Landmeter

Op 26 Maart 2008 ontvang ek twee belangrike goed in my pos. Die een, ‘n boek geskryf deur Gordon Richings, The Life and Work of Charles Michell; die ander, my 3 x oupagrootjie, Cornelis Johannes CLAASSEN , se boedeldokumente. Die boek het ek aangeskaf om my ander twee manne van formaat, Charles Bell en Thomas Baines, se biografieë aan te vul. Al drie is in dieselfde formaat geskryf en vertoon tog te mooi op die boekrak. Die boedeldokumente het ek aangevra as deel van my familie navorsing. Soos dit my gewoonte is wanneer ek ‘n nuwe boek in my hande neem, gaan ek reguit na die indeks om vas te stel of daar enige name voorkom wat dalk bekend klink. En jouwaarlikwaar, daar ís ‘n inskrywing vir ‘n Claas[s]en! Ek blaai dadelik na bladsy 102 en begin lees. En wat ek daar lees, was nie iets wat mens behoort te verteer so vroeg in die oggend nie. Maar wag, laat ek voor begin…

Exeter, Devon, geboorteplek van Charles Michell

Drie boeke oor die lewe van drie merkwaardige persone in die destydse Kaapkolonie. Thomas Baines, Charles Bell en Charles Michell.

Adv. Gordon Richings, skrywer oor die werk en lewe van Charles Michell. Hy het onder andere studeer aan die Universiteit van Kaapstad

Charles Collier Michell (later genoem Charles Cornwallis Michell) is op 29 Maart 1793 gebore te Exeter, Devon, Cornwall. Hy sou later ook deelneem aan die Slag by Waterloo. In 1828 word hy as landmeter-generaal in die Kaapkolonie aangestel maar sou ook die pos van superintendent van openbare werke en siviele ingenieur beklee. Hiervoor het hy ‘n jaarlikse salaris van £800.00 ontvang.

 Charles was een van daardie veelsydige mense want hy was ook padingenieur, kunstenaar, argitek en natuurkenner. Die Michell’s Pas naby Ceres, is seker een van sy bekendste monumente. Sy talle sketse en skilderye gee vir ons ‘n baie goeie prentjie van die verlede; hoe sommige plekke gelyk het, die kleredrag van destyds en implemente wat gebruik was om die land te ontwikkel. As landmeter-generaal het Charles uitgeblink en het hy dit op homself geneem om die opmeet van plase in die Kolonie op ‘n meer geordende wyse te laat geskied en nog meer belangrik: om die regering in staat te stel om beter beheer uit te oefen oor die toekenning van plase. In daardie stadium was dit geen geheim dat die regering glad nie geweet het presies wie wat besit het in terme van grond nie. Terwyl hy hiermee besig was, was dit ook sy taak om ‘n akkurate kaart van die Kolonie saam te stel met die grense duidelik daarop aangebring. Die afhandeling hiervan het egter nooit gerealiseer nie.

Charles Cornwallis Michell, Landmeter-generaal van die Kaapkolonie.


Charles het die Kolonie deurkruis en sy doen en late in die omgewing van Oudtshoorn, George en Mosselbaai het my veral interesseer. Hierdie belangstelling het hoogtepunt bereik die oomblik toe ek die van, Claas[s]en, in die indeks van die boek raak lees.

Cornelis Johannes CLAASSEN *15 Oktober 1776 was voor en gedurende 1835 – die jaar wat Michell in die omgewing van die Attakwas kloof en Kliprivier -wyke aangedoen het – die eienaar van die plaas, Kleinfontein in die distrik van George. Tans is dit geleë in die distrik van Oudtshoorn. Die Kliprivier vloei deur die plaas. Met sy kind, Martha E.M., se doop in 1821, word sy woonplek aangedui as ‘Aan die Gouritsrivier distrik George’. Dis nie duidelik wanneer hy oor die berg getrek het nie. Hy is ‘n kleinseun van Clausz Clauszen, die stamvader van die Claassen familie wat hul oorsprong in Delve, Schleswig-Holstein, Duitsland het.

 Terwyl Charles besig was met opmetings en inspeksies in hierdie gebied, het hy ook by verskeie boere klagtes ontvang oor die wyse waarop ‘n landmeter, Benjamin Jacob Wilhelm Duminy, sy taak verrig het. Benjamin is ‘n seun van Francois Renier Duminy, die stamvader van die Duminy familie in Suid-Afrika.

Cornelis se klagtes was dat hy geen titelaktes vir sy plaas Kleinfontein tot nog toe ontvang het nie, ten spyte daarvan dat die plaas in 1829 deur ene Petersen opgemeet is en daarna weer in 1833 deur Duminy.

Aantekeninge en handtekening van Bejamin Duminy, die landmeter

Lys van landmeters soos dit verskyn het in die African Court Calendar van 1822


Cornelis het ook aansoek gedoen vir ‘n leenplaas, aangrensend tot Kleinfontein, naamlik Wagenaarskraal. Duminy sou botweg geweier het om die plaas op te meet tensy ene Du Plessis die helfte daarvan kan kry! As Duminy se werkwyse in die algemeen beoordeel word, is dit  glad nie onvanpas om af te lei dat hierdie Du Plessis ‘n vriend van Duminy was nie.

Rademeyer se plaas Misgund, waar Michell oorgestaan het om die plaas op te meet in 1835. Tekening deur Charles Michell.

Plase in die wyk Kliprivier, distrik George.


Michell laat hom soos volg uit in sy verslag: ‘Mr. Duminy had no business to meddle in the appropriation of this ground it having been inspected for Claas[s]en wholely and solely. This is an additional proof of the arbitrary measures indulged in by the self constituted authority of the surveyors, who in point of fact are and ought to be no more than machines moved by the authorities by whom the inspections are effected’. Michell gaan voort deur te sê: ‘Wolmarans (die veldkornet) had not received title to land promised him by Governor Cole because Duminy had withheld the diagram. This in turn had led to conflict with Wolmarans’ neighbours, the Heyns family.’

Wamakers winkel in die Attakwas kloof tussen Oudtshoorn en Mosselbaai. Tekening deur Charles Michell

‘n Meer ernstige klagte was die van ene Roux wat verklaar het dat Duminy ongemagtigde fooie hef op nuwe aansoeke wat hy ingedien het. Roux sou toe nie genoeg geld aan hom hê nie waarop Duminy, ‘besides other things’, ook vir homself gehelp het aan tien ooie van Roux. Daarbenewens het Duminy ook, terwyl ‘n besoekende smous daar aangedoen het op die werf, vir homself linne, laventel en ander goedere gekoop by die smous en die rekening daarvoor laat oorhandig het aan Roux sodat laasgenoemde daarvoor kon betaal. Al hierdie goedere en vee was slegs om op te maak vir die deposito van die landmeter ‘fooi’!

Toe Michell die grond van Wolmarans inspekteer en die opmeting daarvan verifieer, sou hy heelwat ongerymdhede daarmee uitlig. Daar word vasgestel dat Duminy ‘not only never dragged the chain himself, but did not even preside at the dragging, confiding entirely to his Hottentots to do that important part of surveying’. In die loop van die volgende maand het daar nog talle gevalle van oneerlikheid en growwe nalatigheid aan die kant van Duminy aan die lig gekom.

Landmeter ketting.‘To drag the chain’ is die landmeter terminologie wat destyds gebesig is om aan te dui dat iemand besig is om grond op te meet met ’n landmeter ketting. So ’n ketting(ook genoem Gunter’s chain –so genoem na die uitvinder daarvan) het uit 100 skakels bestaan en is gelyk aan 66voet . Een skakel is gelyk aan .66voet of 7.92duim.

 Met die aanhoor van Duminy se moontlike skorsing, was daar weer ander partye wat die wiele aan die rol gesit het om hulle familie of vriende in die pos aangestel te kry. George Rex van Knysna – en vriend van Michell – se een seun, Frederick, was ook ‘n landmeter en hy wou ook graag die pos van Duminy hê. Rex skryf ‘n paar briewe in die verband aan sy seun. Die een lui: ‘…It is certainly desireable that you should be the first applicant, as it may be presumed that(under the major’s favour) you have a prior claim…’ En later, ‘… and now, Frederick…it is left to you to determine how you will act in case of it happening to be in your power to avail yourself of the opportunity, through the favour of major Michell …’ (Major) Michell het hom egter doof gehou vir al die skimpe komende van die Rex familie en het die werk afgehandel soos beplan. Frederick Rex moes ook sy landmeter werk in Fort Beaufort afhandel. Dis dalk ook nie so toevallig dat die strate met die naam Bell, Durban en Michell bymekaar aansluit nie. Dit was juis in hierdie tyd dat Rex weer sy seun moed inpraat toe hy vir hom skryf: ‘…the major …promises to do what he can for you as soon as you are released from your present engagements’.  Maar dit was eers na ‘n hele aantal jare dat Frederick Rex ‘n pos sou kry in die Knysna distrik.

Duminy het sy werk verloor en sterf op 5.11.1862.

Charles Michell sterf op 28.3.1851 te Eltham, ‘n dag voor sy 58ste verjaardag.

Cornelis Johannes CLAASSEN sterf op 20.8.1857 op sy plaas, Kleinfontein, in die distrik van Oudtshoorn.

Laaste rusplek van Benjamin Duminy. Die Duminy familie grafkelder te Durbanville begraafplaas.


Bronne:

 Richings, Gordon, The Life and Work of Charles Michell, Fernwood Press, Simonstown, Cape Town.2006.

Claassen, JH, ongepubliseerde familie navorsing

Le Roux, JG; Niemandt, JJ; Olivier, Mariana, Bewaarders van Ons Erfenis, Deel 8. Drakenstein Heemkring 2012.

African Court Calendar (1822), Nasionale biblioteek.

Kantoor van die Landmeter-generaal, Kaapstad.

www.eggsa.org

© 2012 Johann H Claassen


Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: