johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Alice JENNER (1863-1942)

In Oktober 2010 is ek besig om foto’s te neem van grafstene in die Parys begraafplaas, Paarl,  toe  hierdie graf  dadelik my aandag trek.  Die inskripsie op die grafsteen lui onder andere dat sy die skoolhoof van die Hoër Meisieskool op Oudtshoorn was.

Alice Jenner 10.2.1863-15.3.1942

Dieselfde aand nog spoor ek die sameroeper van die Bond van die  skool se oud-skoliere, mev. Hazel Jonker,  op. Dit blyk dat hulle nie geweet het wanneer  en waar sy oorlede is nie. Ek het haar toe  die foto van die grafsteen  voorsien en op haar beurt het sy weer ‘n portret foto van Alice Jenner vir my aangestuur.

Alice was die hoof van die Hoër Meisieskool Oudtshoorn(Girls’ High) gedurende die jare 1897-1919 en dit was in haar tyd dat die pragtige sandsteen gebou opgerig is. Dit het later ‘n boonste verdieping bygekry.

Portret foto van Alice Jenner

Alice JENNER is volgens die inskripsie op haar graf op 10.2 .1863 gebore. Baie min is oor daardie gedeelte van haar lewe bekend maar na alle waarskynlikheid is sy en die Alice JENNER wat op 10.1.1863 in Kempsford, Gloucester, Engeland gebore is as dogter van Ed en Magaret JENNER, een en dieselfde persoon. Volgens ’n berig wat op Vrydag 20 Maart 1942 in die Paarl Post verskyn het, het sy gedurende 1895 in Suid-Afrika aangekom as ’n classical mistress aan die Riebeeck Kollege in Uitenhage en twee jaar later word sy aangestel as  hoof van die Hoër Meisieskool op Oudtshoorn, ’n pos wat sy tot en met haar aftrede in 1919 beklee het.  Gedurende haar dienstermyn as hoof van die skool is  die pragtige sandsteen gebou opgerig. Dit het later ’n boonste verdieping bygekry.

As ’n sterk kampvegter vir die bevryding van vroue stig sy tydens haar verblyf op Oudtshoorn ’n tak van die Women’s Enfranchisement League en later word sy verkies tot visepresident van die Women’s Enfranchisement Association in die Oos-Kaap.  Regoor die land spreek sy groepe toe ten einde stemreg vir vroue in wetgewing vervat te kry en is later as een van die Unie se afgevaardigdes na die International Women’s Suffrage  Alliance se konferensie in Berlyn.

Vanaf 1922 tot 1930 behartig sy die pos van organiserende sekretaresse van die Women’s Enfranchisement Association of South Africa en beklee ook die redaktrise pos van die amptelike mondstuk van dié organisasie, The Flashlight(wat deur die Paarl Printing Company gedruk was). Haar en ander vroue se harde werk word beloon toe stemreg vir vroue uiteindelik ’n werklikheid word op 19 Mei 1930. Sommige van die Volksraadslede wie oor die wet moes stem, het niks vleiend van die dames te sê gehad nie. Van hulle het gemeen dat vrouens nie as leiers deur  Swart mans aanvaar word nie en ander was weer bevrees dat stemreg aan vroue die voorloper sal wees tot die verbod op die vervaardiging en verkoop van alkoholiese drank!

Nadat die wet goedgekeur is, verskyn ’n brief van genl. Jan Smuts in die laaste Oorwinnings uitgawe van  The Flashlight waarin hy die volgende skryf:

Our women are now in a position to pull their weight in the forward march of our nation and I feel that our progress will be all the better and more balanced because of the introduction of this new motive power.

As wêreld reisiger het Alice baie lande besoek, onder andere Japan waar sy vir ses maande skool onderrig gegee het. Baie van haar ervarings op hierdie reise het hul weg gevind in talle artikels wat sy vir die Paarl Post geskryf het.

Na haar aftrede in 1918, het sy gevestig in die Paarl te Meul straat 31. Die huis het die naam, The Haven, gedra.

Terwyl Alice met vakansie is op Hermanus, sterf sy daar op 15 Maart 1942.

Haar belangstelling in en weldade aan mense het egter nie daar geëindig nie. Sy laat ’n baie goed geformuleerde testament agter waarin sy die grootste gedeelte van haar boedel bemaak aan die Ladies Christian Home in Kaapstad. Paarl organisasies is ook nie vergeet nie en het die ACVV Noorder-Paarl, die Paarl hospitaal en die Holy Trinity Church erfporsies in die vorm van geld en persoonlike besittings ontvang. Enkele individue, hier sowel as oorsee, het ook gebaat uit haar boedel.

Volgens haar sterfkennis is haar ouers onbekend; Die plek van sterfte word aangedui as Macfarlane’s Guesthouse, East Cliff, Hermanus, district of Caledon; Haar testament was gehou by Standard Bank, Noorder Paarl; Getuies wat haar testament mede-onderteken, is Betty Burns en ene Leech; en die Sterfkennis is op 31.10.1942 onderteken deur WE Macfarlane, eienaar van die betrokke gastehuis waar Alice gesterf het.

Die volledige lys van begunstigdes uit haar boedel is:

  • Miss Agnes Mary Willis – Westington, Princess road, Cleveland Somerset, England. – £500.00
  • Miss Gladys MacKay – 18 Queens Square house, Guildford street, London WCI, England – £200.00
  • Miss Jessie M Hutton – Beaumont Ash field, Ross-On-Wye, England – £100.00
  • Miss Lillian Britten – 133 High street, Grahams Town – £400.00
  • Miss Florence Morris – Van der Riet street, Oudtshoorn. £200.00
  • Gertrude de Villiers – ‘Ventnor’ Commercial street Paarl – £100.00
  • Girls High School Oudtshoorn – all my books and pictures found in my possession after my death. And £100.00
  • Holy Trinity church Paarl – £200.00
  • Paarl hospital, – £200.00
  • ACVV Noorder Paarl – all my clothes and blankets, bed and table linen in my possession at time of my death.
  • Christian Home for Aged, Infirm and Indigent Ladies and Christian workers, known as Ladies Christian Home, 20 Vrede street Cape Town, die res van die boedel na alles betaal is. Hulle kry toe uiteindelik £1122.13.10.

Die hele boedel was teen £3800.00 (huis teen £1800.00 ingesluit) waardeer. Die huis, wat deel gevorm het van die Cheve gronde en wat op 8 November 1922 aan haar oorgedra is, is op 29.4.1942 opgeveil en vir £1625.00  verkoop aan mnr. Abraham Levy. Die eiendom was 92vk roede en 141vk voet groot. ’n Skikkingsbedrag van £15.00,  synde ’n outeursaandeel verskuldig deur Juta’s, word ook beding deur die eksekuteur.

Die Hoër Meisieskool Oudtshoorn omstreeks vroeë 1900’s. Foto: Oudtshoorn Hoër Skool

Bronne: Grafsteen van Alice Jenner

Mev. Hazel Jonker, Oudtshoorn.

Paarl Post 20.3.1942

Paarl Kieserslys 1931

Spesiale woord van dank aan Marguerite Lombard van die Paarl wat die betrokke uitgawe van die  Paarl Post onder my aandag gebring het.

© 2012 Johann H Claassen

Advertisements

Single Post Navigation

One thought on “Alice JENNER (1863-1942)

  1. MartieCoetser on said:

    Baie interessant! Wonderlik om te lees van vroue wat ‘n rol gespeel het in die ‘struggle’ om stemreg vir vroue te verkry. Ons is baie dank aan hulle verskuldig. Dankie, Johann!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: