johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Rykdom in die Vallei

‘n Kollega by die Drakenstein Heemkring vertel nou onlangs van sy oupagrootjie wat in lewe die besitter was van heelparty plase en eiendomme in die Vallei en deur almal beskou is as ‘n baie ryk man. Met die afhandeling van sy boedel het die laste bykans sy bates oorskry en kon elkeen van sy veertien kinders slegs £15.00 erf uit die boedel.

Dit het my toe laat wonder oor die rykdom van die boere van die Drakenstein-Vallei gedurende die 1700’s en 1800’s. Met die deurlees van ‘n paar inventarisse uit daardie tydperk, kon ek ‘n redelike prentjie vorm van die gemiddelde boer en sy rykdom. Die inventaris bied, behalwe ‘n opname van die lewende hawe, ook ‘n kykie in die gesin se huis. Daarvolgens kan die grootte van die woning ook met redelike sekerheid bepaal word. Dit gee partymaal ook ‘n aanduiding van die gesin se belangstellings soos byvoorbeeld stokperdjies. Dit dui ook die oorledene se skuldenaars en eisers aan en voorts bied dit ook lekker interessante leesstof om te weet watter van die familielede in die skuld was by die afgestorwene.

Ene Jan van As van die plaas Witsenbergh in die Agter-Paarl het heelwat nagelaat aan sy “huisvrouw”, Helena Schalk van Merwen(vd Merwe) en ses minderjarige kinders toe hy in 1713 oorlede is. Benewens die “negen stux mansslawe” wat gewaardeer is teen 2400 guldens en twee slavinne genaamd Flora en Marie teen 240 guldens, was daar ook 1370 skape, 129 beeste en twaalf perde. Die diere was gewaardeer teen 3100 guldens.

Daar was ook:

  • twee waens met toebehore
  • twee ploeë en een eg
  • twaalf leggers(vate) met wyn
  • sewe ou ledige leggers
  • drie ou ledige(leë) halwe vate
  • twaalf ledige mompijpen (mom is ‘n soort bier)
  • twee snaphaanen(gewere)
  • twee zijdgeweeren (sabels)
  • een pistoolen met sijn holsters
  • twee zadels en toomen
  • eenig thuyngereetschap
  • 20 en 30 mudde tarwe(koring)

Saam met die klere en meubels – wat nie gespesifiseer is nie – was die bates gewaardeer teen 11394 guldens en die laste teen 2500 guldens. Dit het dus ‘n gewaardeerde batige saldo van 8894 guldens gelaat. Hierdie boer se rykdom was in ‘n groot mate gemeet aan die hoeveelheid slawe wat hy besit het.

Ene Pieter Plesi (du Plessis), ‘n burger van Drakenstein, was nie ryk nie. Sy inventaris gedateer 26 April 1742, dui aan dat hy aan tien persone/instansies geld geskuld het; onder andere 600 gulden aan die Drakenstijn kerk (huidige Strooidakkerk). Die rente daarop het 108 gulden beloop. Die totale skuld teen die boedel was 3065 gulden. Sy bates was ‘n paar stuks vee en die waarde daarvan sou nie die skuld sou kon delg nie. Die gemiddelde waarde van ‘n skaap en bees was onderskeidelik 2 gulden en 12 gulden.

Francois Jacobus du Toit en sy vrou, Anna Jacomina Luttig, van die plaas Waterpoel, se inventaris van hul intestate boedel is in Engels opgestel. Hul inventaris dui aan dat daar ‘n onthaalvertrek (the hall), ‘n kamer aan die regterkant, ‘n kamer aan die linkerkant, ‘n spens en ‘n kombuis was. Daar was ook ‘n wynstoor. Die beskrywing van die vertrekke dui op die grondplan van ‘n tipiese H-vormige huis wat sedert die 18de eeu gewild begin raak het in die Kaapkolonie. Dat hulle redelik onthaal het, blyk uit die 17 stoele, drie eetkamer tafels, heelwat wyn- en ander glase asook duursame bykomstighede in die onthaalvertrek.

Die kamers aan die linker- en regterkant was slaapkamers met die regterkantse een heel waarskynlik die hoofslaapkamer aangesien die beddens as “bedstead complete” aangedui word. Die aanwesigheid van twee Bybels in laasgenoemde bevestig my vermoede. Drie van die egpaar se ses kinders was in daardie stadium al getroud.

In die hoofslaapkamer was gordyne en in die kinderkamer darem ‘n portret teen die muur. Die “spy glass” in die kinderkamer was ‘n vêrkyker en het niks te doen met spioenasie nie! In die wynstoor was daar 13 boeke, iets wat glad nie volop was nie en slegs persone wat professionele beroepe beoefen het of anders baie vermoënd was, het ‘n boekery besit.

In Francois se inventaris word daar spesifiek voorsiening gemaak vir sy jongste seun, Bartholomeus Johannes du Toit. Luidens die dokument is daar ‘n geskenk wat deur sy vader gemaak is en ‘n bruidskat ter waarde van 100 riksdaalders. Duidelik ‘n vader wat wou sien dat die jongste kind sy regmatige deel moes kry.

En wat was op die solders? Byna sonder uitsondering sal dit daar aangeteken staan: Een ledige kist. Niemand – ryk of arm – sou sonder een betrap wou word nie…

Bronne:

Kaapse Argiefbewaarplek

Cape Transcripts – TEPC Two Centuries Transcribed 1673-1834. [Transcriptions of manuscripts from the Cape Archives about people and places at the Cape of Good Hope].

Advertisements

Single Post Navigation

2 thoughts on “Rykdom in die Vallei

  1. Toubs on said:

    Baie interessant Johann. Jy maak regtig baie moeite met jou stokperdjie, en dat jy dit geniet kan ek sien, dit is al wat tel ne?

    Nou ‘n ander sakie. Ek het as kind altyd geglo dat as iemand vd 1800 gepraat het was dit dan tussen 1800 tot 1899 se einde. In latere jare help iemand my reg en se nee, as jy vd 1800 praat dan is dit tussen 1700 tot die einde van 1799 want die jaar stap aan na 1800. So het ek maar ook dan gepraat deur die jare. Maar ek kom agter dat mense deesdae nie meer so praat nie en party mense praat nog so en maak my deurmekaar. Nou jy wat baie met die dinge werk, hoe se mens dan, verduidelik dit vir my EN ander, sommer op fb per geleentheid. Thx.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: