johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

OP GISTER SE SPORE…

‘n Besoek aan ‘n eertydse buurt teen Paarlberg.

Op 23 Augustus 2012 het ek en ‘n paar vriende van die Het Gesticht Museum ‘n besoek gebring aan die buurt wat destyds aangelê was teen die Paarlberg. Aanvanklik het die inwoners bestaan uit vrygestelde slawe wat ‘n stukkie grond ontvang het van hulle eertydse meesters. Heelwat van hulle was slawe wat verbonde was aan die aangrensende plaas, Nieuwe Plantatie van die Bosman familie wat sedert 1715 geboer het op die grond. Mettertyd sou die inwoners bestaan uit die nakomelinge van die eertydse slawe en slavinne, meer en groter huisies is opgerig maar teen die laat sestiger jare was daar nie meer gesinne en hul huisies teen die berg te siene nie. Die huisies was platgestoot en die mense verwyder en elders hervestig. Alles die gevolg van die regering van die dag se Groepsgebiede wet.

Die volgende foto’s vertel kortom die verhaal van die mense teen die berg.

‘n Foto, geneem laat 1800 vroeë 1900, van die gebied wat besoek is op 23.8.2012. Die huisies teen die berg is duidelik waarneembaar.

Die oorgrote meerderheid van die inwoners teen die berg het sedert 1813 behoort aan die gemeente van die Het Gesticht kerkie.

Die Geskiedenis van Het Gesticht het kortliks soos volg verloop:

Die Het Gesticht Oefeningshuis is gebou deur sendingvriende en lede van die gemeenskap wat ‘n verskil wou maak in die lewens van die slawe wat woonagtig was in die Paarl en omliggende omgewing. Op daardie tydstip kon hulle eredienste saam met hul eienaars bywoon in die Strooidakkerk, maar die preke in Hooghollands was baie moeilik om te verstaan en die sitplek beperk. In 1812 het ‘n ene JH Baard van die Paarl, toestemming van die regering ontvang om ‘n oefeningshuis op ‘n stuk grond wat aan hom behoort het op te rig. Vroeg in Oktober van 1813 is die eerste fondamente gelê en op 7 Januarie 1814 is die kaart en transportakte van die eiendom aan mnre JH Baard en C Paulsen toegeken.

Sondae was daar bidure gehou, maar nooit op dieselfde tyd as die dienste in die Strooidakkerk nie. Verskeie sendelinge het gepreek totdat die “Het Paarlsche Medewerkende Zendelings Genootschap” die oefeningshuis oorgeneem het. Totdat Eerwaarde Evans van die Londense Sendinggenootskap in 1819 na die Paarl gekom het , was daar nie ‘n vaste sendeling aangestel nie. Vanaf 1820 word die gebou die Zionshuis genoem en die gemeente die Zionsgemeente. Die preekstoel is in 1825 deur die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap aan die Paarlse Sendinggenootskap geskenk toe die Suid-Afrikaanse Sendinggestig Kerk in Langstraat, Kaapstad ‘n nuwe preekstoel ontvang het. Die eerste koster wat na die gebou omgesien het, is in 1827 aangestel. Die gebou het reeds binne ‘n dekade te klein geword vir die gemeente. Veral na die aankondiging in 1834 dat slawe in 1838 vrygestel sou word ná hulle nog vir vier jaar vir hul eienaars moes werk, kon hulle meer vrylik rondbeweeg en die eredienste bywoon soos hulle verlang. So is die Zionskerk in Zionsstraat gebou en op 4 Augustus 1842 in gebruik geneem.

Die Het Gesticht kerk (nou museum) in die Hoofstraat, Paarl. Foto is vroeg 1900 geneem.

Het Gesticht is nog steeds gebruik vir katkisasieklasse, Sondagskool en Onderwysdoeleindes. In 1849 word ‘n Serafynorrel in die gebou geplaas. Die klok is op 1 Oktober 1854 aan Het Gesticht geskenk en die kloktoring is daarvoor gebou. Die oorspronklike banke in die gebou is ook afkomstig uit die Suid- Afrikaanse Sendinggestig Kerk, Kaapstad.

Oor die jare het verskeie gemeentes in die Paarl uit “Het Gesticht” ontstaan. Op ‘n stadium het ‘n aantal lidmate van Zionsgemeente by die Congregational Kerk aangesluit en ‘n eie gemeente gevorm (vandag die Bethel Congregational Kerk). Die Verenigde Gereformeerde gemeentes (VGK) van Immanuel, Huguenot en Bet- El, het ook uit die Zionsgemeente ontstaan. In hierdie sin is Het Gesticht die geestelike “moeder” van al die lidmate en dooplidmate van die bogenoemde vier gemeentes.

Het Gesticht is min in die vroeë 20ste eeu gebruik en in 1965 is die versorging daarvan met die gebruiksreg aan die Junior Rapportryerskorps oorgedra. In 2000 koop die Suid-Afrikaanse Sendinggestig Trust die gebou van die Strooidakkerk en restoureer dit kort daarna. Op 2 April 2012 maak Het Gesticht sy deure amptelik oop as ‘n museum tot nagedagtenis aan die Drakensteinse gemeenskap wat hul eerste Godsdiensonderrig hier ontvang het. Museumbestuurder Hybré van Niekerk voer tans onderhoude met die oues van dae wie se voorouers gemeentelede van Het Gesticht was, om so die mondelinge geskiedenis elektronies vas te lê.

Die begraafplaas waar gemeentelede van Het Gesticht , Zionskerk sowel as lede van die Londense Sendinggenootskap begrawe is, teen die voet van Paarlberg, sal ook eersdaags besoek kan word. Die “Vriende van Het Gesticht” komitee wat onlangs gestig is, het hierdie projek aangeneem. Dit behels die restourasie van die grafte wat geskend en byna vernietig is as gevolg van vandalisme en verwaarlosing. Dié grafte vorm ‘n integrale deel van die erfenis van die gemeenskap. Van die meeste vooraanstaande families van Drakenstein se voorsate kan nagespeur word tot by die Het Gesticht-gemeente. Hierdie projek is gevolglik ‘n nasiebou-projek deurdat dit versoening kan teweegbring tussen die twee gemeenskappe wat deur die drakoniese wetgewing van die verlede van mekaar vervreem is. [vry oorgeneem uit die persverklaring van die SA Sendinggestig Trust].

‘n Wasklip in die buurt.


Die wastrog-gedeelte van die wasklip


Met die paadjie het die mense na en van die huise geloop – met hul kersieblikke.


Hier is van die kersieblikke te sien. Daar was ‘n kers in die blik gesit om die paadjie te verlig. Vroeg in die oggend oppad werk toe, is die kers aangeteek en dan is die blik met die kers aan die onderpunt van die paadjie gelos. Vanaand, op pad huis toe, is dit weer aangesteek en opgeneem na die bopunt van die paadjie en daar gelos tot die volgende oggend.


Van links na regs – Tant Juliana Kilowan, as kind ‘n inwoner van die huisies teen die berg; Isabeau Botha van die Afr. Taalmuseum en Monument; Hybré van Niekerk, bestuurder van Het Gesticht Museum; Percy Lewis; en Johan Burger van De Poort – die wa museum. Onder hierdie rots is daar gespeel terwyl die grootmense neffensaan klere gewas het in die bergstroom.


‘n Ysterpaal van wat eens ‘n voorhekkie was.


‘n Gedeelte van ‘n stoep van die huis van Deborah Pietersen.


Die ‘wash-up’. Die klere wasbak naby tant Deborah Pietersen se huis.



Die Paarlse Melkboere (Ko-Op) BPK. ‘n Glasskerf – deel van ‘n melkbottel – wat in die omgewing deur my opgetel is.


‘n Baie ou melkbottel (‘n kwart) van Malan Melkery. Die melkery bestaan nog. Tant Juliana het die bottel in die omgewing gevind.


‘n Erg verwaarloosde grafsteen – een van vele – in die buurt. Met navorsing kon ek bepaal dat die grafsteen behoort aan Joseph Jacob Kearns (1856-1916) wat in lewe in Bo-Bosman straat (soos wat die buurt onder andere bekend gestaan het) gewoon het. Sy beroep was die van ‘n ‘Cart Trimmer’ – een wat die waens beskilder het.


Foto’s: Alle kleurfoto’s is geneem deur die skrywer self.

Swart-en-wit-foto’s is goedgunstig verskaf deur die Drakenstein Heemkring, Paarl.

© 2012 Johann H Claassen

Advertisements

Single Post Navigation

6 thoughts on “OP GISTER SE SPORE…

  1. Nico Erwee on said:

    Baie dankie vir die wonderlikke artikel en foto’s. Ek het dit baie geniet.

  2. LKL on said:

    Preserving and conserving the local Paarl area is such an admirable task and I wish you the very best and success in your endeavours. I’m sure the future project of The Cemetery will be absolutely fascinating.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: