johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Die dag toe Johannesburg sy eerste polisiehoof (met ‘n goue handdruk) gefire het – nog voor hy behoorlik aangestel is!


Johannesburg c.1887

Dinge het vinnig begin ontwikkel nadat goud aan die Witwatersrand ontdek en Johannesburg in 1886 gestig is. Heel spoedig het die behoefte aan ‘n ordentlike polisiemag en –hoof ontstaan om die moontlike wetteloosheid en lae sedelike peil wat van die Babertonse goudvelde sou oorwaai, die hoof te bied.

Veldkornet J.P. Meyer onder wie se jurisdiksie die gebied Johannesburg ressorteer het, het by die Kruger-regering om hulp gaan vra en was in hierdie opsig ondersteun deur Carl von Brandis, voorlopige mynkommissaris van Johannesburg. Laasgenoemde het aan die regering voorgestel dat daar met die intrapslag streng teenoor misdadigers opgetree moet word en dat die handhawing van wet en orde hul prioriteit moet wees.

Op 31 Augustus 1886 magtig die Uitvoerende Raad die aanstelling van hoofkonstabel John McIntosh asook agt konstabels. Dit is later uitgebrei met twee berede konstabels om te help met kleiner misdade soos plakkery en dobbelary. Dit was onvoldoende en in Februarie 1887 versoek die Delwerskomitee die regering om ‘n polisiemag op elke geproklameerde plaas daar te stel. ‘n Vêrdere ses blanke en vier gekleurde konstabels word voorsien om onder die bevel van die spesiale landdros van Johannesburg, Carl von Brandis, te funksioneer.

Die omstandighede van die goudvelde rondom Johannesburg het aansienlik verskil van dit wat op die ander goudvelde soos byvoorbeeld Barberton geheers het. Die gevoel tussen Boer en Brit was duidelik waarneembaar en die polisie moes binne ‘n redelik politiek-gelaaide klimaat hul werk verrig.

Adriaan Johannes Gysbertus de La Rey

Dit het later onprakties geblyk te wees om von Brandis as hoof van die polisie te hê en die besef dat die goudvelde in en om Johannesburg permanent van aard gaan wees, het die gedagte laat ontstaan om ‘n kommandant van die polisie aan te stel. Daar is begin om die mag uit te brei tot 50 man waarvan die helfte berede sou wees.

Adriaan Johannes Gysbertus de la Rey, ook genoem ‘Groot Adriaan’, weens sy meer as twee meter gestalte, word op 22 September 1887 aangestel as Johannesburg se nuwe polisiehoof. De la Rey, ‘n neef van die bekende Koos de la Rey, het geboer op die plaas Vlakfontein, distrik Krugersdorp en was ook instrumenteel tot die stigting van die Republiek Stellaland in 1883. Hy sou onder andere ook die hoof wees van hoofkonstabel John McIntosh, ‘n baie ervare en bekwame polisieman.

I.P Ferreira

In ‘Groot Adriaan’ sou die regering ‘n man hê wat onverskrokke dissipline sou handhaaf. Dié man wat “wering en afschrikking” van misdaad sou wees. Een wat vrees vir die polisiemag sou inboesem onder die delwers. Maar die regering, von Brandis en andere het nie rekening gehou met die publiek en die pers nie. Hulle het ‘n gans ander siening oor de la Rey gedeel.

De Volkstem het ‘Groot Adriaan’ se aanstelling bevraagteken en die Kaapse politikus, John X Merriman het gemeen dis ‘n belediging vir die delwersgemeenskap. Die Johannesburgers self, was baie ontevrede en het gevoel dat Kruger hulle minag. Groot onaangenaamheid het gevolg toe die inwoners dreig om die dorp se eerste verjaardag viering – wat in die vorm van ‘n deftige banket sou wees en wat deur Kruger bygewoon sou word – te ontwrig. Die protes teen die aanstelling het in intensiteit toegeneem, iets waaraan selfs von Brandis deelgeneem het maar waarvan de la Rey salig onbewus was.

Hy, de la Rey, kom in Johannesburg aan en meld hom aan by die spesiale landdros om sy opdragte te ontvang. Von Brandis en I.P Ferreira, ‘n invloedryke inwoner van Johannesburg, probeer de la Rey oortuig om die aanstelling te laat vaar maar hy laat blyk in ‘n skrywe aan Kruger dat hy slegs die Here vrees en dat hy kan reken op die steun van sy polisielede. In daardie stadium is reeds vir de la Rey se lewe gevrees en die moontlikheid van ‘n opstand was nie uitgesluit nie aangesien van die polisielede ook wou bedank.

Polisielede gedurende die ZAR-periode

Von Brandis, tesame met die Komitee vir Publieke Waaksaamheid, besluit om de la Rey sy jaarlikse salaris in kontant aan te bied as hy sou besluit om nie die pos as polisiehoof te aanvaar nie. Hulle wou hom dus omkoop om nie die pos te aanvaar nie! The Cape Argus het daarvan te hore gekom en spreek skerp kritiek daarteen uit. Tog het die koerant die delwers daarop gewys dat hulle in daardie stadium nog Britse onderdane was en nie republikeinse aanstellings kon kritiseer nie. De Volkstem het die artikel net so oorgeneem uit The Cape Argus en ook bygevoeg dat vrywillige ‘pensioen’ uiters nadelig kan wees aangesien kansvatters Kruger se guns sou probeer wen om aangestel te word en om dan net daarna vrywillig te bedank omdat die gepeupel hom kwansuis nie aanvaarbaar sou vind nie.

Carl FPJ von Brandis, eerste mynkommissaris en landdros van Johannesburg

Die regering het saam met von Brandis gestem dat daar van de la Rey ontslae geraak moes word en het die betaling aan hom gemaak nadat daar ‘n petisie met twaalf handtekeninge aan die staatspresident oorhandig is. Al die ondertekenaars, onder wie I.P. Ferreira, was dit eens dat de la Rey se teenwoordigheid die rus en orde in Johannesburg ernstig sou benadeel.

Vier dae nadat die staatspresident die aanstelling teruggetrek het, het ‘Groot Adriaan’ uit sy amp “bedank.” In daardie stadium het hy reeds na sy plaas teruggekeer.

Die delwers was veral ontevrede met de la Rey weens sy beweerde optrede in Stellaland waar hy en van Niekerk, president van daardie republiek, na bewering verantwoordelik sou wees vir die dood van ene James Honey. Voorts is die staatspresident daarop gewys dat de la Rey tronkstraf uitgedien het vir ‘n skietvoorval wat in Potchefstroom plaasgevind het. Die Waaksaamheidskomitee het dit ook gehad teen sy (de la Rey se) ontembare en opvlieënde geaardheid. Hoewel nie al die klagtes en bewerings teen hom bewys kon word nie, was die gevoel dat hy buitendien ‘n omstrede figuur was en dus nie geskik is vir hierdie uiters belangrike pos nie.

So het Johannesburg se polisiehoof dan die einde van sy loopbaan bereik eer dit nog begin het.

Adriaan Johannes Gysbertus de la Rey is op 25.8.1835 op Swellendam gebore as die vyfde oudste kind van Jacobus Hercules de la Rey en Maria Elizabeth van Coller en kleinseun van die stamvader van die de la Rey familie in Suid-Afrika, Pieter de la Rey van Utrecht, Nederland.

Omkopery, verdagte aanstellings en onbevoegdheid van staatsamptenare is dus niks nuut in hierdie jong demokrasie van ons nie.

© 2011.8.18 Johann H Claassen


Advertisements

Single Post Navigation

One thought on “Die dag toe Johannesburg sy eerste polisiehoof (met ‘n goue handdruk) gefire het – nog voor hy behoorlik aangestel is!

  1. Charl on said:

    Groot Adriaan – Neef of Broer van Generaal de la Rey?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: