johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Ons eie klein Helen Keller

Elizabeth du Preez

Dis asof iets haar gejaag het. Van kleins af. Asof sy geweet het sy gaan nie lank hier rond wees nie. In ’n baie kort kinder-lewetjie het sy baie meer agtergelaat as die meeste grootmense aan die einde van hulle lewens.

Ek ontdek nou onlangs ’n vreeslik verwaarloosde ou plakboek in ’n kartondoos by die Drakenstein Heemkring. Een sonnige oggend – waarvan daar maar min was die afgelope tyd – sit en blaai ek deur die boek en lees al hierdie wonderlike stories wat iemand in sy of haar vrye tyd bymekaargemaak en in die plakboek aangebring het. Daar is genoeg stof daarin waarmee ek nog ’n hele paar stories met verdere navorsing kan neerpen, maar hierdie een van Elizabeth was my gunsteling sedert die eerste deurblaai van die boek. Die berig oor haar het gedurende 1952 in die Cape Times verskyn. Ek krap ’n bietjie vêrder op die Internet en ’n genealogiese register of twee. ’n Storie begin ontvou…

Ek stel vas dat Anchen Albertyn van Porterville die boekie, Elizabeth Sings, gepubliseer in 1957, in haar besit het en ek maak haar ’n aanbod wat sy gelukkig (vir my) aanvaar.

Elizabeth Suzanne du Preez word op 16 November 1939 gebore as ’n normale en gesonde babadogter vir haar ouers, Jacob Johannes du Preez(22.7.1893-1987) en Elizabeth Isabel Blake (29.10.1902-24.7.1976). Jacob was stigter-skoolhoof van die destydse Hoërskool JJ du Preez in Parow. ’n Week voor haar eerste verjaardag kry sy ’n aanval van poliomiëlitis en dit was nie voor haar tweede verjaardag dat sy weer kon leer loop nie. Teen haar derde jaar was sy volkome herstel, vol lewe en met ’n brein wat net wou inneem.

DSCF1069

In haar eie handskrif – The Wonderful Healer

Voor haar vyfde verjaardag word sy opgeneem in die Sunnyway Kleuterskool in Rosebank en kort voor lank besef almal na aan haar dat sy nie jou gewone kleuter is nie. Dis hier waar die grondslag gelê word vir wat later haar geestelike ontvlugting uit ’n klanklose en byna donker wêreld sou word. Na veertien maande se blootstelling aan die eindelose wêreld van boeke en insameling van kennis, raak sy weer ernstig siek met breinvliesontsteking maar hierdie keer sou sy nie weer herstel nie. Sy raak verlam, feitlik geheel en al doof en só swaksiende dat sy slegs in ’n geringe mate kan lees as sy die boek teenaan haar gesig hou. Sy is byna voltyds bedlêend maar haar brein bly wakker, soekend en vraend. Haar gees ignoreer haar gebreke, niemand kan haar regtig help nie en niemand kan haar deur haar klank beperkings bereik nie. Slegs sy en net sy alleen kan daardeur breek.

Op ’n dag ontdek sy haar pa se stel van 10 Arthur Mee Kinderensiklopedie en binne een jaar het sy deur al die volumes gewerk. Op sesjarige ouderdom word sy met ’n rolstoel op ’n eksperimentele basis na die Mowbray Laerskool geneem waar sy as die mees gestremde leerling saam met ander gehoorgestremdes onderrig ontvang het. Die lees van sprekers se lippe was vir die ander gehoorgestremdes nie ’n groot probleem nie maar vir haar wat skaars kon sien, was dit ’n enorme probleem. Onderwysers en leerlinge moes tot feitlik teen haar beweeg sodat sy hulle lippe kon lees.

Sy het onderrig in gewone vakke ontvang en take was binne ’n ongelooflike rekordtyd voltooi sodat sy meer tyd in die biblioteek kon deurbring. Ook wanneer sy te moeg was om onderrig te ontvang, was sy toegelaat om na die biblioteek te gaan waar sy boeke van haar keuse gelees het. Na slegs ’n paar maande in die skool en lank voor haar sewende verjaardag, verskyn daar ’n nota in haar rekords wat lui: “Elizabeth het vandag Canterbury Tales gelees.” Intussen leer sy haarself om weer te loop en hoewel met groot moeite, breek die dag aan wanneer die onderwyser ’n aantekening maak dat sy oor ’n sekere afstand sonder enige hulp kon loop! Sy sou egter nooit weer haar kragte ten volle herwin nie. Sy sou menige dae afwesig wees van die skool omdat sy eenvoudig te swak was om op te staan.

Kort na haar sewende verjaardag het sy een dag aan haar pa genoem dat sy graag eendag ’n boek wil skryf. Hy het ’n grap met haar gemaak maar tog vir haar ’n dik oefening boek gekoop en daarvan vergeet. ’n Week later het sy die boek aan hom oorhandig – met ’n volledige indeks en agt hoofstukke. En sonder ’n enkele taal- of punktuasiefout! Self ’n taalkundige, het haar pa die boek vir die matriek leerlinge gegee om dit deur te gaan vir foute. Hulle kon geen foute vind nie. Tóé eers het hy besef dat Elizabeth besonder begaafd is.

Elizabeth du Preez se boek

In Mei 1950 word haar eerste literêre pogings op die Squirrel Club bladsy van die Cape Times gepubliseer. Sy leer haarself om ’n tikmasjien te gebruik en tik met een vinger. Sy sou byvoorbeeld die hele storie of gedig volledig in haar kop uitwerk tot by die laaste punt en dan sou sy sit en die hele artikel of gedig uittik op die tikmasjien sonder om ’n woord te verander. Gewoonlik sou sy op en af of in sirkels loop terwyl sy haar kreatiewe denke vrye teuels gee.

Vanaf 1949 is sy ’n student aan die Skool vir Dowes (nou die Nasionale Instituut vir Dowes) op Worcester en het sy naweke en vakansies met die trein tussen Worcester en Kaapstad gependel. Al haar briewe aan haar moeder was vol vreugde en humor. Fyn gespot met haarself maar ook nie geskroom om te spog met haar prestasies nie.

Haar ouers het altyd geweet wanneer daar ’n nuwe gedig of artikel in haar kop broei. Sy sou dan so ’n ‘vêraf kyk’ in haar oë hê en sulke tye kon hulle ook niks met haar uitrig nie. In ’n brief aan haar ma waarsku sy haar pa dat sy besig is om aan ’n storie te werk en dat dit ’n lang storie gaan wees – ten minste ses bladsye, waarsku sy.

Vroeg in Mei 1953 skryf sy haar laaste brief. Aan ene Aunt Sally. Sy skryf oor haar kat, Nicholas. Ook oor ’n perd en die talle boeke oor perde wat sy die afgelope tyd gekoop het. En oor haar probleem. Sy weet nie wat om vir haar broer met sy verjaardag te koop nie. Sy dink daaraan om ’n veeldoelige mes vir hom te koop maar dit sou beteken dat sy haar weeklikse toelae van een sjieling en ses pennies, daarvoor sou moes opdok. Sy was seker nog besig om met hierdie probleem te worstel toe sy op 17 Mei begin siek voel en haar laaste aanval van breinvliesontsteking kry gevolg deur ’n griepvirus en uiteindelike longontsteking. Elizabeth sterf op 24 Mei 1953.

DU PREEZ Elizabeth Isabel nee Blake Maitland BP

Die graf van Elizabeth se moeder en die van haar pa se eerste vrou – Maitland begraafplaas. Foto: www.eggsa.org

Lank na haar oorlye, word getikte studie notas en kommentaar ontdek in vier netjiese lêers wat handel oor veertiende –eeuse gedigte. Terselfdertyd was sy ook besig om die vier boeke van Hendrik van Loon te bestudeer.

In ’n boek (hierbo genoem) wat in 1957 gepubliseer word, skryf die prinsipaal van die Skool vir Dowes, mnr. JL Badenhorst, ’n lang hartroerende en inspirerende brief waarin hy Elizabeth se kwaliteite volledig bespreek. Veral is hy baie dankbaar vir die feit dat Elizabeth deur middel van haar gedigte en skrywes dit moontlik gemaak het dat die opvoeders van gehoorgestremdes vir die eerste keer kon agterkom wat hulle(die gestremdes se) werklike behoeftes is in terme van opvoeding en geestelike gesondheid.

Die superintendent-generaal van die Kaaplandse Onderwys Departement, mnr. JG Meiring, laat ook ’n kort boodskap in die boek en vergelyk haar lewe met die van Mozart wat, ten spyte van sy gebrek, die suiwerste musiek denkbaar, gekomponeer het. Sy weer, met haar stories en gedigte.

Anders as die meeste van ons wat feitlik nooit ’n ‘perfekte dag’ beleef nie, want óf die selfoon het nie goeie ontvangs gehad nie óf een van ons ontwerpers naels het geknak, maak Elizabeth dit duidelik oor wat háár idee van ’n perfekte dag is.

Gedurende Desember 1952 dig sy soos volg:

SOLITUDE

My idea of a perfect day

Is not what others think,

My idea of a perfect day

Is a day by the river’s brink.

 

My idea of a perfect day

Is a day with sunshiny skies,

Skies that are almost as blue

As my long-dead Oupa’s eyes.

 

My idea of a perfect day

Is not what others think,

My idea of a perfect day

Is in sweet dreams to sink,

With the great blue sky above,

And to dream sweet dreams like a dove.

__________________________________________________________________

Bronne:

Tensy anders aangedui, is die foto’s geneem uit die boek, Elizabeth Sings.

The Cape Times ../../1952

Brink, J., Die Brink Familie van Suid-Afrika, 2004.

du Preez, Elizabeth, Elizabeth Sings, Maskew Miller, Cape Town, 1957.

www.eggsa.org (13.09.2013 besoek).

© Johann H Claassen 2013

Advertisements

Single Post Navigation

3 thoughts on “Ons eie klein Helen Keller

  1. Sunette du Plessis on said:

    Johannek is n niggie van Susan Swart en woon in Edgemead en wil net dankie se vir die wonderlike interresante storie wat jy ontdek en gestuur het vir Susan want dit gee ons ook die kans om dit te kees.

  2. MartieCoetser on said:

    Ai, en dan kla ons oor die geringste….

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: