johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Bord-Afveërs

011814_0909_BordAfvers1.jpgSommige is slegs bord-afveërs. Ander weer, goeie onderwysers. Ek het vanoggend wakker geskrik en die eerste ding in my kop was oor die verskillende style waarmee die onderwysers in my tyd die swartbord afgevee het. Dit was dalk swartborde voor mý tyd maar ek het slegs groen borde geken. Dit het die hele een muur gedek maar dit was weinig kant en wal vol geskryf. Maar laat ek kom by die verskillende style.

Daar was dié wat sulke lang hale heen-en-weer gegee het. Party met lang hale op-en-af. Gewoonlik was dit die lang onderwysers wat die lang hale gegee het. Dan was daar die kortetjies en getrou aan hulle lengte, het hulle kort, vinnige hale gegee. Dit was gewoonlik hulle uitveërs wat uit hulle hand gespat en doer anderkant te lande gekom het. En as hulle oorgewig was, het hulle gewoonlik die kind naaste aan die uitveër, aangesê om dit op te tel.

Sommige het, soos wat hulle besig was om af te vee, steeds aangegaan om te verduidelik wat hy op die bord geskryf het, maar dáárdie gedeeltes was dan reeds afgevee! Ek dink dit was dié stukke wat jy gewoonlik in die eksamen verkeerd gehad het. Hierdie onnies wat so al veënd verduidelik het, het gewoonlik dwars voor die bord gestaan met ‘n skuins gedraaide kop na die leerlinge – sodat hy darem behoorlik sy punt kon maak. Ook maar goed dat hierdie groep afveërs dwars gestaan het want eendag het mnr. Du Toit se broek agter oopgeskeur toe hy te vêr vooroor gebuk het om die laaste sinnetjies af te vee. Julle onthou nog hoe sommige manlike onderwysers se pakke redelik dun gedra was; hoe die broeke bokknieë gemaak het. Ja, hulle was nie so welvarend soos vandag se onderwysers nie.

Dit was nogal lagwekkend om die korterige leerkragte dop te hou tydens die proses van uitvee (dis nou te sê as jy nie van hierdie pose gebruik gemaak het om gou ‘n briefie vir jou nooientjie ‘aan te pass’ nie!). Dit het soms gebeur dat ‘n besoekende onderwyser – gewoonlik die hoof – ‘n klas aangebied en ná sy les die klaskamer verlaat het sonder om die bord af te vee. Die onderwyser wie se werk dit dan was om die bord af te vee, was gewoonlik aan die kort kant(die wet van Mattewis). Hy – of sy – het dan sulke lawwe sprongetjies gemaak om die boonste sinne by te kom. Meeste van die tyd het daar sulke half-gehapte letters aan die bokant oorgebly.

Die vroulike onderwysers was natuurlik ‘n fees om dop te hou terwyl hulle besig was om die bord af te vee (gelukkig is dit net volwassenes wat my skryfsels lees). Julle sal onthou dat die rokkies baie, baie kort was in daardie tyd. Sommer báie korter as vandag se rompies. Party het die nodige verstand gehad om (gewoonlik) ‘n seun te vra om die bord af te vee. Ander (gewoonlik die proefies) het nog nie die kuns aangeleer om kinders op te kommandeer nie en het dan ‘n uitvee ‘vertoning’ gehou. Dié wat met hulle rug na jou gestaan en afvee het, was die gewildste. Party van hulle was werklik begaaf – as jy verstaan wat ek bedoel. Dit was nie mooi om die drillerigheid by sommige van hulle te aanskou nie. My ervaring was egter dat hierdie groterige en ouerige dames nie goeie uitveërs was nie maar hulle was dêm goeie onderwysers!

Dit het meestal ‘n groot gelag afgegee wanneer ‘n onderwyser gemerk het dat ‘n klong sit en slaap tydens die les. Hulle (die onderwysers) het eintlik nooit eerste opgelet dat iemand slaap nie. Hulle het gewoonlik agtergekom as hulle van die handboek af opkyk(sommige het mos hulle lesse woordeliks uit die boek gegee en net na elke tweede sin opgekyk) dat die kinders se aandag nie by hom is nie maar by die een wat sit en slaap. Dan het die meneer die bord uitveër gegryp wat altyd byderhand was op die tafel (waarop hy gesit het) en die klong daarmee gegooi. So het mnr. Fourie eendag vir die slapende Stephanus gegooi met die uitveër. Met die gewelddadige wakkerskrik dog hy, hy moet die bord afvee en hy hardloop na die bord en begin vee met lang hale. Toe die kinders se gelag nie bedaar nie, besef hy dat daar niks op die bord geskryf is nie!

* Dit is slegs die name wat fiktief is.

©Johann H Claaasen 2014

Advertisements

Single Post Navigation

4 thoughts on “Bord-Afveërs

  1. Die Liewe Heer het geweet wat Hy doen toe hy nie “gooi” by van my talente gesit het nie. Ek sou die kinders doodgegooi het met al wat voorkom.! 🙂
    Dankie, dit was nou lekker lees.

  2. Louise Davis on said:

    Deesdae se bordwissers “vat” nie sommer nie…dit glip so oor die bord. Ek gebruik ‘n lappie, en dit werk werklik! ; ) Lekker hier gelees. Dankie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: