johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Drie Pioniers van die Paarl

‘n Pionier, so sê die Taal handleidings vir ons, is iemand wat nuwe paaie oopmaak, nuwe ondernemings begin, baanbrekerswerk gedoen het op ‘n spesifieke gebied, ensovoorts. Daarvan het die Paarl nogal baie gehad oor die eeue. Ek het besluit om ‘n wyle stil te staan by diegene wat in die 19de- en 20ste eeu baanbrekers op hul gebied was. Dit was taamlik moeilik om ‘n keuse te maak tussen die vele baanbrekers en wat hierna volg, moenie vertolk word as sou ek hulle beskou as die belangrikste baanbrekers nie. Hulle inligting is bloot geredelik beskikbaar en beskik die Heemkring ook oor unieke beeld materiaal van sommige van die persone.

Wyn etiket met Abraham se gesig daarop. Foto: Topwine

Abraham Izak Perold: Abraham is op 20.10.1880 in die Paarl gebore. Sy laerskool opleiding voltooi hy aan die Hugenote Gedenkskool in Daljosafat en daarna aan die Boy’s High School in Wellington waar hy ook dan in 1898 matrikuleer.

Aan die Victoria Kollege (later Universiteit Stellenbosch) neem hy die leiding met die stigting van die eerste wetenskaplike vereniging en word hy ook verkies tot die raad van die Studente-unie. Sy BA graad met hoofvakke wiskunde, fisika en skeikunde, verwerf hy in 1901 aan die Universiteit van die Kaap van Goeie Hoop (later Unisa).

In 1902 vertrek hy na Duitsland waar hy aan die Universiteit van Halle studeer met met behulp van ‘n beurs en aan die einde van 1904 sy doktorsgraad verwerf.

Sy deeglike kennis van Afrikaans, Nederlands, Engels en Duits is nie genoeg nie en om te voldoen aan sy vader se wens dat hy ook Frans magtig moet wees, studeer hy in Parys, Frankryk en enkele jare daarna was hy ook ‘n kenner van hierdie taal. Hy het ook ‘n lewendige belangstelling in Spaans, Portugees en Italiaans gehad en dit alles het hom in staat gestel om vreemde literatuur te bestudeer.

Terug in Suid-Afrika, word hy ‘n lektor en later waarnemende hoogleraar in die Skeikunde aan die South African College.

Hy presteer op baie gebiede maar hy sal veral onthou word vir sy baanbrekerswerk op die gebied van die wynkunde en enologie. Die skep van nuwe tafel- en wyndruif variëteite lê hom na aan die hart en uiteindelik slaag hy daarin om ‘n eerste vir Suid-Afrika , die Pinotage-wyndruif, aan die wynliefhebbers bekend te stel. Dit het hy reggekry deur die kultivars, Pinot Noir en Hermitage te kruis.

Sy betrokkenheid by KWV het tot gevolg dat een van Suid-Afrika se beste uitvoer produkte in daardie stadium, naamlik brandewyn, etlike toekennings verwerf het in die jare daarna.

Publikasies oor die wynbou, die geskiedenis van wyn en veral die bekende Handboek oor Wynbou wat ook in Engels vertaal is, het uit sy pen verskyn. Laasgenoemde is ook as handboek is in Australië en Kalifornië gebruik.

Abraham was eers met Elizabeth Müller van Halle en daarna met Martha Winzer getroud. Hy sterf skielik op 11.12.1941 terwyl hy nog in diens van KWV was.

 

Abraham en sy vrou se graf in die Parys begraafplaas, Paarl. Foto: Alta Griffiths


 

HEV Pickstone 1913. Foto: Gribble versameling – Drakenstein Heemkring

Harry Ernest Victor Pickstone: Harry is op 4.7.1865 in Engeland gebore en nadat hy in Kalifornië deeglike kennis opgedoen het van die vrugte bedryf, het hy in 1892 na die Kaap gekom.

Met ‘n lening van £100.00 wat hy met Cecil John Rhodes aangegaan het, begin hy in vennootskap met Sebastiaan van Reenen, ‘n vrugtekwekery op Nooitgedacht in die Stellenbosch distrik. Na die beëindiging van hierdie vennootskap ontwikkel hy sy eie kwekery op die plaas Welvanpas van Dan Retief. Spoedig volg uitbreidings met takke te Hexrivier en Constantia.

In 1896 koop Harry die plase Meerlust, Delta en Lekkerwijn in die Groot-Drakenstein aan en brei hy sy kwekery-besigheid ook uit op hierdie plase. In hierdie stadium is Harry se metodes, meerdere kennis van die vrugtebedryf en sy entoesiasme reeds wyd bekend onder die Wes-Kaapse vrugteboere en word veral die Drakenstein gebied die toonaangewende vrugte produserende omgewing in die land. Hy word ook deur die Kaapse regering in diens geneem en gebruik om die boere met deskundige raad te voorsien.

Harry oorreed vir Rhodes om te belê in die vrugte bedryf en in 1898 stig hy (Harry) die Rhodes Fruit Farms met homself aan die hoof daarvan. Plaasbestuurders wat veral hul kennis in Kalifornië opgedoen het, word aangestel en kort voor lank is dié onderneming die grootste enkele vrugte onderneming in die land! Behalwe ‘n groter wordende binnelandse mark het uitvoer na veral Brittanje geweldig uitgebrei.

In 1901 publiseer hy die gesaghebbende publikasie, Hints on Fruit Growing, oor vrugteverbouing en daarna sou ook ander publikasies oor hierdie vakgebied volg.

In 1913 stig Harry die firma HEV Pickstone en Broer (Edms.) Beperk met homself en sy broer as direkteure. Die kwekery word later verskuif na die plase Welgevonden en Watervliet in Simondium.

Harry was ook die eienaar van ander plase in verskeie dele van die land maar het steeds tyd gevind om as voorsitter van verskeie landbou-organisasies waar te neem.

Hy was getroud met Louisa Hooff May en een seun is uit die huwelik gebore. Hy sterf op 1.11.1939 op sy plaas, Lekkerwijn.

Hy word nie verniet die Vader van die Kaapse Vrugtebedryf genoem nie.

 

Leah Wilhelmina Goetham: Ook bekend as aunty Lu, aunty Lilly of Miss Goetham. Sy was die sewende kind van Daniel Goetham en Lea Kasinga van die Ou Tuin, Paarl. Sy besluit reeds vroeg in haar lewe om ‘n onderwyser te word en ná die voltooiing van haar skoolloopbaan gaan sy na die Lovedale Kollege in Alice, Oos-Kaap. Hierdie baie bekende kollege het in 1824 ontstaan as ‘n Sendingstasie onder aanvoering van die sendelinge John Bennie en dr. John Love.

Leah se loopbaan begin aan die Mission High School, ‘n drie-man skooltjie in Templier straat, Paarl waar haar mede leerkragte mnr. Stephen Jephthah en juffrou Rosina Benjamin is. Onderwysers van kleur is destyds in hierdie skool opgelei ter verwerwing van die P.T3 sertifikaat. Met die opening van die Athlone Instituut, Noorder-Paarl in 1926, word sy en mnr. Jephthah daarheen oorgeplaas waar sy met groot sukses die vak, Huishoudkunde, doseer.

Sy word onthou as ‘n streng, dog simpatieke, onderwyser wat haar leerders met groot respek behandel het ongeag die omstandighede waaruit hulle gekom het.

Sy leef en sterf in haar netjiese huisie in van der Lingen straat wat destyds deel was van die Ou Tuin.

Bronne: Standard Encyclopedia of south Africa(SESA)

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (verskeie)

Arendse, Ivan, Onse Mense. 1912

Van der Walt, Koos, Die Paarl Vallei – 159 lewens 1687-2007. 2007

Drakenstein Heemkring

© Johann H Claassen 2014


Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: