johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Ontdekking en Bewaring van die VAN NIEKERK-versameling van Dokumente – ‘n Gevallestudie

‘n Bewaringspoging deur drie vrywilligers om ‘n versameling 100 jaar oue dokumente vir die nageslag daar te stel.

Inleiding
Pontac, eertydse woning van 2 geslagte Van Niekerks - tans 'n gastehuis en restaurant

Pontac, eertydse woning van 2 geslagte Van Niekerks – tans ‘n gastehuis en restaurant. Foto: Drakenstein Heemkring

Die Drakenstein Heemkring(‘n privaat argief) in die Paarl ontvang gereeld ou dokumente en foto’s vanaf die publiek omdat hulle dit bloot nie wil hê nie of met die doel dat die Heemkring dit moet bewaar vir die nageslag. Soms gebeur dit dat daar nie dadelik aandag aan sodanige dokumente gegee kan word nie weens die tekort aan kundige vrywilligers en omdat die bestaande vrywilligers besig is met lopende projekte. Daar was egter ‘n era in die geskiedenis van die Heemkring waar geen of baie min navorsing gedoen is met dokumente in hul besit of waar dit bloot weens traak-my-nie-agtigheid letterlik op ‘n hoop laat lê is waar dit blootgestel was aan die swakste omstandighede denkbaar. Hierdie spesifieke geval skep ‘n verdere slegte prentjie deurdat dit primêre bronne is wat nêrens elders bewaar word nie.

Agtergrond

Die pragtige Bolandse dorp, Paarl, is geleë in die Drakenstein-Vallei en is bekend vir sy vrugbare landbougrond, heerlike wyne en uitmuntende skole. Dit is hier waar die Drakenstein Heemkring sedert 1977 gevestig is. Destyds gestig onder aanvoering van die bekende skrywer en dramaturg, WA de Klerk. Dit bestaan uit ‘n komitee van ses gekose persone waaronder ‘n voorsitter, sekretaris, tesourier en drie bykomende lede. Onder andere huisves dit ‘n versameling van meer as 30 000 glasnegatiewe wat feitlik deur die bank ouer as 100 jaar is. Daar is ‘n goed toegeruste biblioteek en afskrifte van doop – en huwelikregisters wat strek tot so vêr terug as 1714. Drie vrywilligers is daagliks vir twee ure besig om dokumente te orden en gereed te maak vir die veilige bewaring daarvan, biblioteekboeke in stand te hou, die digitalisering van dokumente en foto’s asook om besoekers – binne- en buitelands – te ontvang en te help met hulle spesifieke navorsingsbehoeftes. Familie navorsing vorm ‘n groot deel van die daaglikse aktiwiteite en dit is nie slegs families van die Paarl wat hier geholpe raak nie maar ook internasionaal.

Sou mens die doop- en huweliksregisters van die Paarl deurgaan, sal jy vind dat dit wemel van familiename soos De Villiers, Du Toit en Malherbe. Daar was egter ook baie ander families wat besondere bydraes tot die ekonomiese vooruitgang van die Paarl gelewer het en veral ook op kulturele gebied hul merk gelaat het. Hier word gedink aan die ontwikkeling van die Afrikaanse Taal, lewendige teater geselskappe oor taalgrense heen en bewaring van die geskiedkundige geboue waarvoor die Paarl ook baie bekend is. Een so ‘n familie wat oor twee geslagte heen veral op landbou-ekonomiese sowel as industriële gebied ‘n besondere bydrae gelewer het, was die gesin en nageslag van Diederik Johannes van Niekerk en Judith Aletta van der Vyver. Een van hulle seuns, ook Diederik Johannes, het die familie-saak voortgesit tot en met sy oorlye in1990. Volgens ‘n inskrywing in ‘n klein swart boekie is die versameling dokumente van hierdie familie gedurende 1986 in groot kartonne ontvang en heel waarskynlik dadelik op die solder geplaas.

'n Kwitansie uitgereik vir 'n premie betaal vir 'n Lewenspolis op die lewe van DJ van Niekerk

‘n Kwitansie uitgereik vir ‘n premie betaal vir ‘n Lewenspolis op die lewe van DJ van Niekerk

Die ontdekking van die dokumente

Die skrywer van hierdie artikel het ongeveer drie jaar gelede ‘n hoop dokumente op die solder sien lê wat erg verwaarloos voorgekom het en het dit dadelik in ‘n karton geplaas en toegemaak om in ‘n mate skadebeheer toe te pas. Van die dokumente het al erg deurgeloop onder vismotte en ander dergelike insekte. ‘n Poging is ook aangewend om verdere skade te beperk maar weens die gebrek aan fondse kon dit nie professioneel gedoen word nie.

Vroeg verlede jaar (2013) is die dokumente – meer as vier kartonne daarvan – van die solder gehaal en in die ‘werkkamer’ geplaas waar almal dit van alle kante staan en beskou het. Té bang om daaraan te raak weens die toestand daarvan en moontlike goggas wat nog daarbinne kan rond krioel maar tog ook bitter nuuskierig om die inhoud van naderby te beskou. Versigtig is enkele dokumente oopgevou en dit was duidelik dat die meeste van die dokumente in ‘n redelike tot baie goeie toestand is. Met die deurlees van dié dokumente wat skoongemaak en op die tafel geplaas is, was dit baie gou duidelik dat ‘n waardevolle skat ontdek is. In daardie stadium was dit veral briewe van ‘n sekere Frikkie aan sy pa, wat die aandag getrek het. Ons wis toe nog nie wie die Frikkie is nie maar het ‘n sterk vermoede gehad dat die pa aan wie die briewe geskryf is, Diederik Johannes van Niekerk senior moet wees. Gedurende 2014 het die skrywer met die hulp van Daniel Kermis, die tuinier van die Heemkring-kompleks, ‘n groot skoonmaak operasie in die solder onderneem. Groot was sy verbasing toe nóg vier kartonne dokumente van dieselfde familie ontdek word.

Me. Ronel Knaggs, ‘n vrywilliger, is reeds meer as ‘n jaar besig om elke dokument, skoon te maak en dan voorlopig in plastiese sakkies te plaas. Terselfdertyd het sy dit ook georden in chronologiese volgorde. Daarna hersorteer me. Marguerite Lombard elke dokument in subkategorieë, naamlik persoonlike briewe, sakebriewe en onder andere ook fakture van besighede. Laasgenoemde word in alfabetiese volgorde geplaas volgens die besigheids instansie se handelsnaam sodat daar later ‘n databasis van praktiserende besighede van die Paarl opgestel kan word. Die genealogiese gedeelte van die twee geslagte word behartig deur die skrywer.

'n Faktuur van die bekende Garlick's winkel in Kaapstad - 1918

‘n Faktuur van die bekende Garlick’s winkel in Kaapstad – 1918

Aard en omvang van die versameling

Tans beloop die versameling reeds ‘n paar duisend dokumente en strek min of meer oor ‘n tydperk van bykans 50 jaar; die jare 1890-1936. Weens die eiesoortigheid van ‘n algemene handelaar saak is daar ‘n verskeidenheid van rekenkundige dokumente maar dit raak baie kompleks wanneer die eienaar sy vinger in byna elke moontlike ekonomiese bedrywigheid wat destyds in die Paarl doenig was, gehad het. Dit was ook nie net beperk tot die Paarl nie maar het gestrek so vêr as die Noord-Kaap, die Transvaal, Kaapstad en klein Bolandse dorpies soos Robertson en Klapmuts. Moontlike studievelde wat voortspruit uit hierdie dokumente word hieronder bespreek.

'n Faktuur van 'n eertydse winkel in die Paarl

‘n Faktuur van ‘n eertydse winkel in die Paarl

Daar is twee gebinde brieweboeke wat honderde uitgaande briewe bevat en wat die tydperk tussen laat 1800 tot ongeveer 1936 dek. Van die inligting het betrekking op handelstransaksies, markpryse, droogtes, gebeurde in die dorp en elders soos byvoorbeeld Prieska en allerhande ander nuusbrokkies. Dit bevat selfs hand getekende grondplanne van die nuwe poskantoor op Prieska. Daar is oorgenoeg verwysings na die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog.

Talle skoolrapporte van feitlik al die kinders van Diederik Johannes senior het behoue gebly en verskaf ‘n goeie oorsig van die kinders se vordering (of die gebrek daaraan). Voorts verskaf dit ook inligting oor die verskeidenheid van vakke wat geneem moes word. Dit word ‘n sosiaal maatskaplike hulpmiddel in die navorser se hande wanneer die rapporte saamgelees word met die dokumentêre verslaggewing by wyse van persoonlike briewe, hof notules ensovoorts.

Dié gedeelte van die versameling van inkomende sakebriewe van regoor die land bestaan uit etlike honderde stukke van handelaars, organisasies, munisipaliteite, afdelingsrade en boereverenigings. Pamflette, pryslyste, telegramme, tjeks, kwitansies, fakture en stukkies papier waarop daar berekenings gemaak is en bestellings geskryf is. Dit het byvoorbeeld gereeld gebeur dat hy deur ‘n leweransier ernstig aangespreek is omdat die verskuldigde bedrag deur hom verander is of dat hy bloot minder betaal het as wat hy moes. Alles is so noukeurig bygehou dat die navorser in staat sou kan wees om te bepaal of die besighede van hom gesond was!

Spoorweg geleibriewe gee ‘n goeie aanduiding van wat alles destyds per spoor vervoer was, wat die koste was en hoe doeltreffend hierdie manier van vervoer was. Wat transportryery betref sou dit vir die navorser moontlik wees om ‘n databasis van persone wie in daardie rigting bedrywig was, saam te stel. Dit sal ook moontlik wees om te bepaal waarvoor alles permitte nodig was om sekere goed op ‘n sekere manier te vervoer.

Inkomende briewe van ‘n persoonlike aard beloop honderde items en die retoriese vraag loop soos ‘n goue draad deur feitlik al hierdie briewe: “Dear uncle/daddy/brother, can I borrow some…, please send me £50.00…” Dit is veral Diederik senior se seun, Frikkie, wie se vraag na monetêre kommoditeite die toneel oorheers. Die briewe verklap hoe dit met die ekonomie op baie plekke gegaan het want die aansoeke vir geld het van oraloor gekom. Slegs met die vlugtige deurlees van enkele inkomende briewe, kon daar ‘n redelike akkurate profiel van Diederik senior saamgestel word en sal die navorser, lank voordat hy die hof dokumente deurlees, weet dat hy ‘n heethoof was wat feitlik met niemand oor die weg gekom het nie, sy gesin baie swak behandel het en ongenaakbaar was wanneer dit by saketransaksies gekom het. Tog het dieselfde man die amp van onderburgemeester beklee, sy hand aan myneksplorasie gewaag, beslis betrokke gewees by die fisiese myn van edelgesteentes en halfedelgesteentes en as mens dieper grawe, by wyse van spreke, sal jy agterkom dat hy inkomste genereer het uit twyfelagtige bronne. Uit veral sy aankope in Kaapstad, soms tot drie keer per week, kan mens agterkom dat hy ‘n groot voorliefde vir syagtige damesklere gehad het en dat dit beslis nie vir sy vrou aangekoop is nie! Skynbaar het hy nooit agtergekom dat noukeurige byhou van sekere dokumente dalk later teen, inplaas van vir jou, kan tel.
Genealogies gesproke, is daar feitlik nie ‘n einde aan al die moontlikhede nie. Elke dokument bevat name, datums en plekke. In baie gevalle ook die hoedanigheid waarin die skrywer skryf .
Die sosiale studie van ‘n tipiese boer cum algemene handelaar van daardie era, behoort goeie resultate op te lewer aan die hand van die beskikbare persoonlike briewe, saamgelees met die sake dokumente.
Dan is daar ook briewe wat geskryf is vanaf die Oorlogsfront asook briewe wat persoonlik deur genl. Louis Botha geskryf en onderteken is – almal gerig aan Diederik senior.

'n Brief aan DJ van Niekerk, van sy broer

‘n Brief aan DJ van Niekerk, van sy broer

Fisiese toestand van die versameling

Die algemene toestand van die versameling soos wat dit gevind is, is in die algemeen goed en kan, met die regte prosedures en handelswyses, vir etlike dekades om te kom, goed bewaar bly. Die doel is ook om dit in digitale formaat te berg sodat daar nie telkens met die oorspronklike dokument gewerk hoef te word nie. Na raming is ongeveer 5% van al die dokumente so erg beskadig dat dit hoegenaamd nie herstel sal kan word nie. Sommige het totaal disintegreer as gevolg van die hoë hitte op die solder en die gepaardgaande skade wat deur die vismotte en ander insekte aangerig is.

Navorsingswaarde en toeganklikheid

Vir die navorser wat die verlede van die Paarl wil bestudeer bestaan daar meer as genoeg bronne in die Kaapse argiefbewaarplek, die plaaslike biblioteek en die Nasionale biblioteek in Kaapstad. Mens sou dit egter nie sonder hierdie oorspronklike bronne kan bestudeer nie aangesien hierdie versameling van dokumente slegs in die Heemkring se argief beskikbaar is. Dit werp veral lig op die ekonomiese bedrywighede van die dorp en selfs buite die grense daarvan. Verder dui dit op die afhanklikheid van ‘n groot stad soos Kaapstad van ‘n dorp soos die Paarl. Taalkundiges behoort groot waarde te put uit die talle persoonlike- en sakebriewe van mense wat veral uit die platteland geskryf het soos wat hulle gepraat het. Die kultuur-historikus sal hierdie groot en oorspronklike versameling met groot waarde kan aanwend vir sy/haar studieveld veral wanneer dit in samehang met ander reeds bestaande bronne bestudeer word.

Die versameling is nog nie naastenby toeganklik vir die ernstige navorser nie en behoort ook nie vir die breë publiek toeganklik te wees alvorens dit nie geheel en al in digitale formaat beskikbaar is nie.

'n Brief van Genl. Louis Botha aan die kleremaker PM Cross van die Paarl

‘n Brief van Genl. Louis Botha aan die kleremaker PM Cross van die Paarl

Slot

Die ‘oefening’ wat die vrywilligers met hierdie versameling dokumente beleef het, het die aandag net weereens gevestig op die belangrikheid daarvan om alle dokumente wat van die publiek ontvang word, sonder versuim te hanteer ooreenkomstig bestaande argivale prosedures en gebruike om sodoende te verseker dat die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly…

© Johann H Claassen 2015

Advertisements

Single Post Navigation

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: