johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

DIE BRUILOFSFEES (23.2.2013)

Bon Cap Wedding - Stefan&Loreen (480 of 1123) - CopyNou ja en daar vat ons toe nou die pad na Robertson om Loreen en Stephan se bruilofsfees te gaan bywoon. Na maande se beplanning, herbeplanning, rondryery na winkels en soms na niks, is dit heerlik om te weet dat die belangrike dag aangebreek het en jy nou op pad is om te gaan deel in Loreen se vir-altyd-onthou-oomblikke.

Kort voor die Rooiberg wynkelder draai ons af op ’n grondpad en ek voel hoe my bloeddruk stadig maar seker styg want ek en ’n grondpad is nie maats nie. Nog voor ek en Estelle getroud was, het ek al hierdie afkeur in ’n grondpad aan haar bekend gemaak. Haar ouers het destyds op ’n plaas gebly en daardie 40 kilometer grondpad het byna gemaak dat ek die vryery na haar opgeskort het – maar ek het darem deurgedruk.

Gelukkig is die grondpad na Bon Cap slegs so 7 kilometer vêr en op stuk van sake gaan dit net hierdie een keer wees en ek doen dit darem vir my mooi bruinoog dogter.

Soos ons al nader kom na die plek van wingerd, wyn en plesier  begin die landskap al beter vertoon. Dis wingerde net waar jy kyk! ’n Vriendelike bordjie dui mooi aan aan  wie die plek behoort vandag en ons volg die aanwysings…

Daar aangekom, tref ons ’n harem van mooi meisies aan – almal daar om vir Loreen te help met haar groot dag. Sy is ’n bietjie senuagtig en wonder of alles glad gaan verloop volgens plan – haar plan! Ek verseker haar dat daar geen fout sal kom nie; alles is mos oor maande tot in die fynste besonderhede beplan, rokke en skoene aangepas en wéér aangepas. Die fotograwe het geoefen, die sjefs het geoefen, almal het geoefen aan hierdie unieke simfonie.

Later daag twee motors op wat die haarstiliste en grimeerders  aflaai met hulle tange en kwaste. Ek besluit om ’n bietjie op die plaas te gaan rondloop; neem foto’s van alles en nog wat – om die tyd om te kry en my eie opgewondendheid(of is dit ook senuagtigheid) te kanaliseer.

Die res van die plaas is rustig en mooi. Water word met ’n kanaaltjie oor kilometers heen deur die plaas vervoer om plante en diere te voed. Mens kan sien hier word baie foto’s van bruide geneem want oral is interessante plekkies, natuurlik of andersins, ingerig om die bruide te komplimenteer. Wat my toe laat dink aan Madeleine van Biljon se storie van “Issie onsie, issie bruide!”

Met my terugkeer tot die sentrum van skoonhede, het van die familie van beide kante al begin aankom en dis ’n groetery van ’n ander wêreld. Want sien, van hulle sien jy mos net tydens begrafnisse en troues. En ek dink aan hoe dit moes gewees het in die dae van ons voorvaders. Hulle het ook oor vêr afstande gekom maar uiteraard het dit vir hulle net langer geneem. Vandag se gaste het ingevlieg met vliegtuie (en motorkarre) van regoor die land. Baie moeg en dadelik word daar lafenisse gesoek in die vorm alkoholiese verversings. Daar word aangesit om ronde tafels en dis ’n gesels oor die tye wat was en moderne grappe!

Ek kry darem ook die bruidegom en sy strooijonkers te siene en hulle is almal in ’n feestelike stemming. Die fotograwe staan nader en ek moet padgee… Maar weer terug na die kring van die spotters en ons gesels heerlik. Kort-kort kom  die ‘hoof’ strooijonker daar aan met nuwe opdragte vir my dat ek later begin wonder of die lotjie dalk dink ek sal koue voete kry! Intussen stap die tyd en almal wil weet wanneer ek dan gaan was en aantrek? Wee… jy! Ek was en trek myself al aan vir meer as vyftig jaar en hulle wil weet wanneer ek gaan klaarmaak!

Later loop ek maar om my te gaan opdollie vir die fees. Trek uit en klim in die stort. Ek draai die kraan oop en ’n stroom water kom daar by daai gaatjies uit met een helse slag! Dit voel kompleet of die water my by die afvoerpyp wil indruk maar dan moed opgee as my heupe nie wil deurgaan nie. Verder voel my rug asof dit ononderbroke deur donshael getref word. Maar ek druk deur en met die toedraaislag weet ek ek was nog nooit só skoon nie! Ek trek aan en sorg dat my dasknoop perfek is. Sodat die bruid nie daaroor ook hoef te bekommer nie. Ek kyk in die spieël en weet dadelik: die foto’s gaan mooi lyk!

Ek kom uit in die son en merk dat my wederhelfte ook reeds aangetrek is. Ja, sy’s mooi op die oog en ek dink terug aan ons eie bruilof desjare op Viljoenshof (deesdae Wolvengat). Daar is ’n gedruis in die lug wat net ék kan hoor en voel…

Ek kry ’n glimp van die bruid toe sy en haar gevolg vir die soveelste keer regskuif vir die fotograwe, maar ek kyk dadelik weg want ek wil haar eers later sien wanneer ek haar moet gaan afgee vir die nuwe man in haar lewe. Wanneer ek die tweede belangrikste man in haar lewe  word… “Stop jou morbiede gedagtes,” sê ek vir myself en beweeg aan na waar die ander begin nader staan vir die vertrek na die kapel.

Die hele gepak vertrek na die kapel – eintlik ’n wynkelder – en kom staan daar rond om te kyk of hulle dalk nie die bruid iewers gewaar nie. Maar die bruid se neef, Johan Victor,   is slim en ry so ’n bietjie rond met haar op die stofpaaie van die plaas.

En toe alles veilig is en ek alleen op die kleistene staan, kom sy daar aan met die silwer motor. Sy klim met die grasie van ’n prinses Grace uit die motor en kom aangestap in my rigting… Beautiful in Robertson… Alle bruide is mooi, maar hierdie een… Ag, my hart, dink ek. Maar ek sien sy is nog dieselfde Loreen. Kort en kragtig dui sy vir die meisies, vir my en ander helpers aan hoe sy die prentjie daar wil hê.   En ons maak so. Die meisies kry hul loop, fyntjies en fraai die trappe af. Twintig voet onder die aarde in… En ek is nie goed met dinge bo in die lug of onder die grond nie! Ja, OK, met grafte wel, maar ook net met die gedeelte wat bo die grond uitsteek!

Maar laat ek eers vertel hoe ek gevoel het toe ek met die mooiste meisiekind in die hele wêreld teen die trappe afdaal. Ek stap daar af, trappie vir trappie, té bang die een aan my sy trap dalk verkeerd…val dalk en ag, al hierdie goed gaan deur jou kop. Nooit dink jy daaraan dat jy, ouman, dalk ’n oorval kan kry of selfs met jou artritis voete dalk die trappe kan byster raak nie! Ewenwel, met die afstap speel die mooiste musiek denkbaar en ek sien hoe die mense in die agterste rye nie hulle nuuskierigheid kan bedwing nie. Daardie nekke van hulle word behoorlik geknoop om die bruid te sien. Whê, ek  het haar tog eerste gesien, sou ’n paar dalk later kon  skinder. Om op te som: Ek wou bars van trots! Sy was só mooi! Nee, eintlik: Sy ís so mooi!

En die bruidegom en sy gevolg staan daar voor by die kansel en hy kyk om in ons rigting. Ek kon die trane in sy oë op ’n afstand sien. Of dit nou is oor hy bly is dat sy wél opgedaag het en of dat hy nie sy oë kan glo dat hy só  ’n mooi bruid gekies het, dié weet ek nie, maar hy wás bewoë. Ek oorhandig my meisiekind aan hom met ’n stewige handdruk en uiter slegs een opdrag aan hom: “Pas haar mooi op.”  Maar dis eintlik ook al wat ek kan uitkry in die paar sekondes.

Die geestelikes lewer treffende boodskappe aan die bruidspaar en eintlik ook aan al die aanwesiges. Stephan is die ernstige een en beaam elke woord. Loreen is meer ontspanne en is geneig om te glimlag, dalk te veel na die sin van die sprekers van die oomblik. Ek, soos altyd verkyk my soveel as moontlik aan die gesigsuitdrukkings van die mense. Aan Allana met haar kaalvoete wat tog só ernstig probeer lyk maar nie kan wag totdat die roomys later opgedis word nie. Aan Guenevere met haar wit rokkie en oulike opgemaakte skoentjies  wat heeltyd nie haar staan kan kry nie en heen-en-weer  beweeg tussen ons spulletjie in die voorste gestoeltes. Wonder ek wat deur hulle klein koppies gaan…

Oupa en ouma Pottie sit daar: ernstig én trots op die kleinseun van hulle – die agter-agter kleinseun van die dapper kommandant Ferdinandus Potgieter wat aan die hand van die Britse magte gedurende die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Ma Estelle Potgieter bly vee trane van blydskap af. Andere kyk in verwondering, sommige dalk ’n klein bietjie jaloers, maar die meeste, die kan ek sien, is gelukkig en tevrede. Loreen én Stephan het mooi gekies – hulle lewensmaats.

Ek kyk na die mooi strooimeisies. Na my Olive, my oudste meisiekind. Ja, sy is werklik ’n roos wat wag om gepluk te word deur die regte tuinier. Hoe bevoorreg is ek nie?

Na wat gevoel het soos ’n ewigheid, is die seremonie verby en ek dring daarop aan dat die bruidspaar en ander amptelikes die registers voltooi met die vulpen waarmee ek my eie huweliksregister 35 jaar gelede  geteken het. Wat ’n oomblik!

Ons, ek en my eie bruid word, na die gewone amptelike foto’s, weggevoer na die onthaalsaal waar die ander gaste reeds wag. Asof die vorige heerlikhede nie genoeg was nie, stap ons hierdie pragtige saal binne. Die tafels is gedek vir keiser en koning. Die silwer, die glas, die linne, alles keurig uitgesoek.

Ons gaan sit, die voorgereg word kort daarna bedien, die musiek speel liggies op die agtergrond maar jy kan sien almal wag…kyk kort-kort na die deur se kant. Die vraag is op almal se gesig: “Wanneer kom hulle dan nou?”

En dan…gebeur dit…! Die deure swaai oop en daar kom hulle! Terselfdertyd bars daar ‘n allemintige, gedruis en ‘n gedreun op. Forever! Kom daai meisiekind van my en haar mannetjie daar in met ‘n geswaai van heupe en skerppuntskoene die saal binne. Die mense staan op, klap hande en wil met alle geweld begin saamdans. Ag, man, en dis asof ek   my en my bruid  se onthaal daar in die skuur op Wolvengat hier voor my sien afspeel – behalwe dat dit iets soos O- Bladie-O-Bla-da was wat destyds gespeel het op ‘n plate speler wat met ‘n battery aangedryf was.

Nou ja, toe is die ys gebreek en later sou daar ook ‘n glas of twee breek, maar dis niks in vergelyking met wat tóé sou volg nie. Deur die loop van die aand sou menige vrou haar moontlikhede op die dansbaan kom uitstal en hier en daar ‘n mannetjie sy passie(s) kom uitleef en elkeen wil dit beter doen as die vorige een – tot groot pret van die toeskouers!

Die toesprake het gewissel van emosioneel, prettig en ‘kommin’ maar so leer elkeen toe die bruid en bruidegom ken en sommer die res van die familie, vriende en kollegas.

Toe volg die koeksnyery en helaas die ding waaroor die meeste mense by ‘n trouery kla: die ete. Dit was heerlik. En smaakvol. En stylvol voorgesit. Beslis uit die boonste gestoeltes!

Na die gastronomiese ekskursie moes daar opsluit wéér gedans, gedrink en gekejakker word en hierdie keer haal almal alles uit. Sommige dans sommer alleen as die meisies of mans te min raak en party hol kaalvoet vêr ente om ‘n dansmaat te gaan haal! Og, die pret hou nie op nie. Later hang almal so aan almal. Dan is daar nog ‘n paar bittereinders wat die dansery op een been aandurf want die ander been is te moeg of buite aksie. Later raak die baan al hoe leër, die musiek al hoe stiller en die ligte al hoe helderder. Die bruilof is verby. Finish. En klaar.

Die bruid is pootuit en die bruidegom is pê.

Dit was heerlik. Dit was goed. Ek het ‘n dogter ‘verloor’ maar ‘n seun bygekry.

Dit is twee jaar later. En die fees hou nog aan. Die orkes speel nog en die musiek is helder.
Ek dirigeer nog maar het die stokkie verloor… en ek weet nie waar om daarna te gaan soek nie!

 SELA

© Johann H Claassen 2015

Advertisements

Single Post Navigation

6 thoughts on “DIE BRUILOFSFEES (23.2.2013)

  1. Rachelle on said:

    Allemagtoes Oom JOhan! Dit is tot op die fynere “detail” so mooi geskryf en ek glo vat elkeen weer terug na Stephan en Loreen se pragtige dag! Awesome!

  2. Dis ‘n besonderse skrywe en ek hoop jou dogter bewaar dit vir haar nageslagte.

  3. Dit was nou lekker om weer hierdie te lees. 4 jaar later en ‘n pragtige kleinseun is uit hierdie huwelik gebore. Trots verby!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: