johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Archive for the category “claassen”

Loreen se kiekies [foto’s deur Dewald Kirsten Photography]

Engagement shoot Paarl Stefan&Loreen-77

Rawson Properties in die Paarl se muur sal nooit weer so aantreklik lyk nie!

Skoonhede

Skoonhede

Engagement shoot Paarl Stefan&Loreen-80 Faure en Faure

Loreen en Stephan op die ou Patriot gebou se stoep.

Loreen en haar span

Loreen en haar span

Mooi!

Mooi!

Tuinfee

Tuinfee

Ons probeer om nie te val nie!

Ons probeer om nie te val nie!

Ons voel belangrik!

Ons voel belangrik!

Wat sou deur daardie twee mooi koppies gaan...?

Wat sou deur daardie twee mooi koppies gaan…?

Hoekom lag julle...?

Hoekom lag julle…?

Daai kyk!

Daai kyk!

Lekker vet pret!

Lekker vet pret!

Kinders en kleinkinders

Kinders en kleinkinders

Trotse ouers met hul jongste.

Trotse ouers met hul jongste.

Nuutste toevoeging tot die Claassen Familie

Nuutste toevoeging tot die Claassen Familie

Die Potgieter familie met hul nuutste toevoeging

Die Potgieter familie met hul nuutste toevoeging

Oupa, ouma en ma Pottie.

Oupa, ouma en ma Pottie.

Stairway to heaven...

Stairway to heaven…

Die trappe sal nooit weer so mooi vertoon nie!

Die trappe sal nooit weer so mooi vertoon nie!

Stylvol!

Stylvol tussen die vate!

Engagement shoot Paarl Stefan&Loreen-34

Victoria Park, Paarl.

Engagement shoot Paarl Stefan&Loreen-35

Heerlik in die tuin

Verlore goedere

Verlore goedere

 

Allana word(nog) mooier gemaak!

Allana word(nog) mooier gemaak!

 

Wild en Wakker!

Wild en Wakker!

Hier staan die manne!

Hier staan die manne!

 

Ewige trou...

Ewige trou…

 

Uitgevat!

Uitgevat!

Advertisements

Die Casteel De Goede Hoop ensovoorts…’n Kultuurhistoriese ekskursie.

Watter heerlike uitstappie was dit nie! ‘n Besoek aan die Casteel is vir my persoonlik altyd verrykend – om te weet dat my en ander se wortels op die een of ander manier gekoppel is aan hierdie gebou. Dis hier waar baie van ons stamvaders aangedoen het met hul aankoms in die Kaap. Vanuit hierdie gebou is die destydse burgers se lewens gereel, hier is hulle gestraf en hier is hulle geskiedenis gedokumenteer met veer en ink.

Die bouwerk aan die eerste Fort het kort na die aankoms van Jan van Riebeeck ‘n aanvang geneem en die eerste een wat op 5 Junie 1652 sy intrek daar geneem het, was Willem Wijlant, die sieketrooster. Die volgende dag sou sy vrou geboorte skenk aan die eerste blanke kind wat aan die Kaap gebore is.
Op 19 Mei 1674 is die ou bousel finaal met die grond gelyk gemaak.

Reeds op 16 Augustus 1665 is daar besluit om die ontoereikende kleifort te vervang met ‘n “…aensienlicken stercke royale fortresse, dat namaels bij overcomste van een machtigen Europiaensen vijant daer voor niet meer en sullen behoeven te duchten.” Teen 1666 was die werk in volle swang en daar was geen tekort aan boumateriaal nie – so baie  “…dat iemant bestont een nieuw Babilion off Roomen daer mede op te bouwen.”
Meer as 500 man sou daaraan werk maar vele was gedurig in die hospitaal weens maagkoors en ander siektes. Daarbenewens was daar ook periodiek opstandigheid oor die daglone. Tydens die bouerye was daar gereeld gerugte van moontlike aanvallers wat oppad was na die Kaap en het die bewindhebbers mettertyd die grofgeskut aangevul sodat daar teen teen die einde van 1676 ‘n totaal van 90 kanonne en ander metaalgeskut was wat die Casteel en die burgers van die Kaap moes beskerm. Na elke gerug van ‘n moontlike aanval, is die bouery in alle erns hervat maar wanneer dit blyk dat dit ‘n vals alarm was, is die bouery afgeskaal. Deur al die eeue was die Casteel nooit deur enige vreemde moondheid aangeval nie. Die enigste skoot wat na die Casteel gemik was, was toe  die gevolg van ‘n eresaluut van ‘n besoekende skip die muur van die Fort getref het en so byna ook ‘n hele paar mense uitgewis het. ‘n Franse besoeker op die skip, ene Leguat, vertel hoe die ysterbal “…after having past through the middle of thirty persons, and brush’d a little the beard of the sergeant, who return’d us our Bullet: We were chid for our negligence…”

Teen 1679 was die bouery basies afgehandel en op 26 April 1679 word daar eenparig deur die Politieke Raad besluit om die vyf punte of bolwerke soos volg te doop: Suidpunt – Oranje; Suid-oostelike punt – Nassau; Oospunt – Catsenellenbogen; Noordpunt – Buren; en Wespunt – Leerdam.

En hoe lyk die Casteel, ons belangrikste kultuurhistoriese monument, in 2011…? Ons het gister(16.10.2011) die plek gaan besoek om te gaan kyk hoe dit tans daar uitsien. Met slegs 17 personeellede en ‘n beperkte begroting word daar tog onder die omstandighede goeie werk verrig. Die personeel is vriendelik en hulpvaardig, die lokale is skoon, netjies en goed versorg en ek was oral in Afrikaans bedien. Die kleedkamers was skoon en netjies. My e-pos aan die instansie is vanoggend binne minute persoonlik beantwoord deur die kaptein van die Casteel, Francois Morkel. Grootskaalse restourasie is aan die gang en binnekort behoort dit weer die pragstuk van weleer te wees.

Met die paar foto’s probeer ek ‘n geheelbeeld van die gebou te gee. Vir diegene wie nog nie daar was nie, behoort dit as aansporing te dien om nóg beter foto’s te kom neem. Julle mis baie as julle dit nie doen nie! Ongelukkig word geen fotografering in die museums toegelaat nie.

Met ons aankoms was daar so ‘n ligte kombersie oor ou Tafelberg.
Ek verduidelik…
Net vir die rekord.
My luisteraars…
Die Kloktoring in in 1684 opgerig. Die klok self, weeg 670 pond, kan tot 10 kilometer ver gehoor word en is in 1697 in Amsterdam gegiet deur Claude Frême. Die klok is onder andere gebruik om die tyd aan te dui, die burgers teen gevaar te waarsku en om soldate en burgers na die Casteel te roep vir belangrike aankondigings. Op die fronton bo die ingang pryk die wapenskild van die Verenigde Nederland wat die gekroonde leeu met die sewe stawe van eenheid in sy poot uitbeeld. Die fries daaronder vertoon die wapenskilde van die stede waar die VOC se kamers gesetel was. Die kompanjie se embleem verskyn aan weerskante van die skilde.
Ons is betyds vir die parade.
Mooi netjies in gelid.
Wat eers die hoogste gebou in die Kaap was, word nou verdwerg deur talle wolkekrabbers.
Na meer as 332 jaar steeds wakend oor die oudste gebou(wat nog in gebruik is) in die land.
Nooit gebruik op die vyand nie.
Waarheen sou die een mik…? Dalk na daardie drie omstrede woonstelgeboue…?
Alomteenwoordig…
Waar die Sipier se sleutels dalk geberg was…?
Die vlae kort aandag.
Die versoeking was groot!
Dit was amper…!
En dan is daar die Transvalers…
‘n Blik oor die voorste Binnehof.
Veelkantige tuinhuisie bo-op Blok-B. Nee, daar is niemand daarbinne nie! Let op na die detail rondom die vensters.
Luidspreker drade wat tydelik verwyder is sodat digting van die dak gedoen kan word.
Hier het menige goewerneur sy hoed verloor met die deurstap
Die martelkamer – waar die beskuldigdes eers hul skuld moes erken voordat hulle gestraf is.
Die Donkergat – met twee nuuskierige agies wat van buite af inloer.
Gestraf om in die hoekie te gaan sit!
Seker die mooiste gevangene nog!
Deel van die inventaris.
Tipe aambeeld…?
           Dolfynpoel. Dit is herbou op die oorblyfsels  van die kleivloer en mure wat in 1982 oopgegrawe is.
Sal nog mooier vertoon na restourasie.
Die binnegewel. Die reliëfkunswerk is ‘n kiaatreplika van die bestaande oorspronklike, en simboliseer vier aspekte van militêre mag, naamlik ‘n vlag, regimentsbanier, trom mortiervat en ‘n piramiede van kanonkoeëls. Dit word deur ‘n ridderhelm gekroon en verskeie ridderwapens kom ook voor.
Baie aggressief…
De Goewerneur restaurant.
Grootskaalse restourasie is nou aan die gang. Die laaste groot restourasie het gestrek vanaf 1969-1993.
Wat eers as die Afrikaansche Schouwburg of bloot onder die gepeupel as die Komediehuis bekend gestaan het, het later die St. Stephen’s kerk geraak –  ‘n NG kerk wat die bruin gelowiges bedien het en waar hulle kinders skoolonderrig ontvang het. Die gebou is tydens die eerste bewind van die Britte opgerig en ingewy op 17 November 1800. Omstreeks 1755 het hier ‘n huis gestaan waarin Nicolaas Swart, ‘n seun of kleinseun van die stamvader van die Swart familie gewoon het.
NG kerk Bloubergstrand.
Hoeksteen van die NG kerk Bloubergstrand.
Moenie dat die toestand van die bord jou mislei nie! Die kos en die diens is  verby uitstekend!
Geleë in Bloubergstrand.
Mnr. Jage’nmeisie en sy nooi.
Geen kommentaar.
Selfs die honde het hier ‘n kroeg!
Die mooiste en bekendste gesig in die wêreld! Vanaf Melkbosstrand.
Bewysstuk ‘A’

Die Eerste Blankes in Oudtshoorn en die tydjie daarna…[’n uittreksel uit my ongepubliseerde boek, Die Laaste Oes]

Roete waarlangs die Attaquaskloof-pas gekronkel het. Foto: Eugene P Claassen

Die vroegste pioniers het hulle reeds in 1750 in Oudtshoorn bevind, trouens die eerste plaas in die Klein Karoo is gedurende 1731 aan Fred J Van Eeden uitgegee wat geboer het in die Attaquaskloof(die omgewing Robinson pas, Moerasrivier en Saffraanrivier). Die dorp, bekend onder die buurdorpe as veldskoendorp, is aanvanklik in 1847 aangelê op die plase Hartebeesrivier en Grobbelaarsrivier en in 1863 geproklameer as ‘n dorp. Beide die plase was die eiendom van Cornelis Petrus Rademeyer. Rademeyer se huis was geleë waar die Onderwyssentrum vandag is op die hoek van Vrede en Baron Van Rheede straat. Die plaas is in 500 watererwe opgedeel en die verkoop regulasies het onder andere bepaal dat elke erfhouer geregtig sal wees op een vyfhonderdste deel van die water van die Grobbelaarsrivier. Elke koper moes ook onderneem om sy deel van die sloot skoon te hou en hom te weerhou van diefstal van sy buurman se water. In 1887 word Oudtshoorn ‘n volwaardige Munisipaliteit. Oudtshoorn is vernoem na die kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, mevrou Geesje Ernestina Johanna Bergh. Sy was getroud met die Siviele Kommissaris(Landdros), Egbertus Bergh, van George. Die baron het na Suid-Afrika gekom in 1741 en was die Sekunde in 1760. Hy keer terug na Holland in 1766 en word aangewys as Goewerneur vir die Kaap in 1772. Hy sterf egter in 1773 onderweg na die Kaap. Die kerklike gemeente is eers op 11 Oktober 1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, het die mense van hierdie streek onder die gemeente van Tulbagh ressorteer. Die gemeente George is in 1812 gestig en het Oudtshoorn onder daardie gemeente ressorteer en vir die eerste keer is ‘n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Die eerste kerkgebou is aan die onderpunt van George weg(nou Langenhovenweg) opgerig(waar Bokomo nou is). Die kerkplein was noord van die kerk geleë, in die omgewing van Plein straat. Cornelis het vir hierdie doel 5 morge van sy plaas beskikbaar gestel in 1838. Die kerk is in 1839 ingewy.

Op 11 Oktober 1853 is die gemeente van Oudtshoorn gestig. Weens finansiële probleme kon die eerste leraar, Ds van der Riet, eers op 3 Mei 1857 bevestig word. Op 7 November 1859 is tot die oprigting van ‘n nuwe kerkgebou besluit. Op 15 Januarie 1861 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Weens finansiële moeilikhede is dié sierlike gebou eers op 7 Junie 1879 ingewy teen ‘n koste van R22425.00. Die bouery was twee keer gestaak en wel gedurende Oktober 1863 en weer gedurende Desember 1865. Die bevolking het so vinnig uitgebrei dat die volgende gemeentes gestig is: Calitzdorp in 1873; De Rust in 1900; en Volmoed in 1921. In 1948 is Oudtshoorn-Wes onder die bekende Dr Andries Treurnicht afgestig.

Nog ‘n kerk wat ek spesiaal wil vermeld is die Independente kerk wat deur eerwaarde Anderson opgerig is op die hoek van St John straat en Baron Van Rheede straat (waar Headlines nou geleë is). Talle Claassen families het oor die jare in St John straat gebly. Pa Piet het op vier verskillende plekke in die straat gebly in sy sewentig jaar. Sy seun Ernest bly nog steeds daar en ons oupa, Petrus Johannes(1900-1978) het daar gebly asook ons oupagrootjie Nicolaas Johannes Claassen(1860-). Dan het Pa se suster Maria daar gebly en so ook pa se broer Nicolaas Johannes. Die straat se naam was eers Chapel straat. In 1860 was klipkappers uit Skotland laat kom om die St Judes Anglikaanse kerk te bou.

Intussen het die lewe aangegaan op ekonomiese gebied met sy hoogte- en laagte punte.

Oudtshoorn is bekend vir sy droë warm klimaat en groot droogtes het menige boer bankrot gelaat. En as dit ‘n slag kom reën, dan kom dit in so ‘n groot oorvloed dat alles weer weg gespoel word en die boere met groter probleme laat. Jare waarin groot en langdurige droogtes aangeteken is, was 1859 toe drinkwater met ‘n wa na huise geneem moes word. In 1869 word die droogte gebreek met wydverspreide vloede met gepaardgaande skade. Ná nog ‘n lang droogte begin dit op 13 Mei 1885 hard te reën en dit klaar eers ná 31 uur op. Die Grobbelaarsrivier vloei 500m breed en die nuwe Victoria brug by Steyldrift spoel weg.

Die jaar 1894 is aangeteken as die droogste jaar in die geskiedenis tot op daardie stadium. Water is aangery en verkoop teen ‘n sikspens per emmer. Weereens is dit swaar reën op 1 Maart 1891 en storms wat die droogte breek. In die doodsnikke van die negentiende eeu, naamlik 1899 word dit  aangeteken as die droogste in die geskiedenis en 1919 as die droogste in 50 jaar. Ekself het in 1967 gesien hoe perde en ander diere in die Saffraanrivier afgedryf kom. Dit was ook na ‘n lang droogte tydperk. Daarna was daar weer in 1981 ernstige verspoelings toe Laingsburg ook ‘n groot mense-ramp beleef het.

Oudtshoorn is internasionaal bekend as die bakermat van die volstruis bedryf. Dit was boere soos G Olivier, H Raubenheimer van Heimersrivier(langs Saffraanrivier) en ene Van Der Westhuisen van Bakenskraal wat volstruise gedurende 1850 getem het soos ons dit vandag ken. In 1868 het Arthur Douglas ‘n broeimasjien ontwerp wat tot gevolg gehad het dat die produksie van volstruise verdubbel het. Hy noem die masjien die ‘Eclipse’. Meer volstruise het meer voer gevra en in 1870 was lusern vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeplant deur mnr. Scholtz, ‘n magistraat van Oudtshoorn.

Die ekonomie het maar teen ‘n slakkepas gegroei en dit was gedurende die sestiger jare ‘n geval van drie treë vorentoe en vier treë terug. In 1860 was dit ‘n besondere slegte jaar vir Suid-Afrika en uiteraard ook vir Oudtshoorn. ‘n Engelse inwoner skryf hieroor:”Welcome back to drought, starvation, preferent bonds, fraudulent insolvencies and ruin…it is not money but sense that is wanted at the Cape and the most sensible thing a man can do is clear out of the country before he has lost his all.” Dit was amper die einde van Oudtshoorn se bestaan. Mense was oor die algemeen depressief, werk skaars en die boere moes hier teen 1865 bywoners word – sommige op hul eie plase nadat hulle dit verloor het. In 1862 hang ‘n welgestelde kluisenaar, ene JG Paarlby homself op. Moontlik het hy sy geld/besittings verloor of het hy bloot moeg geword daarvoor wat hy rondom hom gesien het. Hy word buite die begraafplaas begrawe! In November 1865 rapporteer The Advertiser & Mail dat 34 mense tronk toe gegaan het net om darem ‘n bietjie kos in hul liggame te kry.

Daniël Kerwin, ‘n plaaslike polisieman, sny sy vrou se keel-af weens haar owerspelige verhouding met die buurman. Dit het tot gevolg dat die Rondgaande Hof op 3 April 1865 vir die eerste keer ‘n sitting in Oudtshoorn het. Regter Watermeyer is die Voorsittende Beampte in die betrokke saak.

Vanaf 1874 begin dit weer beter gaan met die ekonomie. Tussen 1875 en 1882 het die pryse van vere geweldig gestyg. Skielik was daar te veel geld. Volstruise het verkoop teen £1000 stuk. Boere het begin om ander gewasse uit die grond te haal en lusern in die plek daarvan aan te plant. Elke tweede Jan Rap en sy maat het begin om met volstruise te boer. Daar bestaan vandag(2008)nog sulke klein kampies of kleinhoewes teen die Grobbelaarsrivier as ‘n uitvloeisel daarvan. Die voorspoed was orals te sien. Die eerste hotel en telegraaf kantoor is gedurende 1875 ingestel met die Standard Bank kort op hulle hakke in 1876. Gedurende Mei 1879 word die Oudtshoorn Courant gestig. Konserte word gehou in die Templar’s Hall en hier vanaf 1883 het nuwe bergpasse begin open. Mense kon nou van oral vinniger op Oudtshoorn kom. Dit is interessant om te weet dat daar 14 toegangsroetes tot die Klein Karoo is waarvan 5 spesifiek tot Oudtshoorn toegang bied.

Omdat die Attaquaskloof-pas die oudste toegangsroete tot Oudtshoorn is en ook ‘n besondere betekenis het vir my familie, wil ek graag in die volgende paragrawe daarop uitbrei.

Die roete van die Kaap tot in Graaf-Reinet het oor die Attaquaskloof-pas gevolg vir bykans 159 jaar nadat vaandrig Isaq Schrijver in 1689 met ‘n klein ekspedisie in opdrag van Simon Van Der Stel vir beeste en skape moes gaan soek in die binneland. Hy het ‘n ou olifantpad verbreed en word hy op 28 Januarie 1689 die eerste Europeër om ‘n roete oor die Outeniekwas te vind en die eerste witman wat die landskap betree wat later Oudtshoorn sou word. Op Dinsdag 4 Januarie 1689 om 15:00 vertrek Schrijver, een sersant, twintig behoorlik gewapende manskappe en twee ossewaens vanaf die Kasteel. Die wind was die dag Suid-Oos. Dieselfde aand om nege uur bereik hulle die buitepos De Kuijl (die teenswoordige Kuilsrivier). Teen 26 Januarie bereik hulle die agterkant van die Attakwas bergreeks. Hy het dit eers die Lange Kloof genoem, maar dis weldra verdoop na Attakwaskloof. Die bosse was baie dig en hy stuur die sersant, vier manskappe en twee Hottentotte die berg in om die moontlikheid van ‘n pad te ondersoek. Hulle kom die volgende oggend om agt uur terug en rapporteer dat ‘n pad moontlik is as die bosse na die een kant verwyder word. Daarop stuur hy agt van die manskappe en ‘n aantal Hottentotte om die skoonmaak werk te gaan doen. Hulle kap toe die bosse uit en steek dit aan die brand. Die dag was warm en die wind Suid tot Wes. Op Vrydag 28 Januarie bereik hulle die omgewing waar die plaas Saffraanrivier tans geleë is. In hierdie omgewing skiet hulle ‘n Berg Zebra(Equus Zebra). Attakwaskloof-pas beteken “die pas van die Wit mens.” Die Attakwas-stam van daardie omgewing was klaarblyklik lig van kleur en was so genoem deur die ander stamme. Bekende reisigers/skrywers van daardie tyd wat die pas gebruik het, was Thunberg 1772 en 1773; Sparrman 1775 en 1776; Swellengrebel 1776; Van Plettenberg 1778; Patterson 1778 en 1779; Muller en Holtzhausen 1782 en 1783; Gordon 1786 en Van Reenen 1790. Barrow en ander het in die vroeë 1800’s gevolg. Intussen is dit druk gebruik deur boere en jagters.

Murasie van die hotel wat aan die Attaquaskloofpas geleë is. Geliefkoosde speelplek vir my en my broers. (Foto: JHC c.1980)

Nadat die Montagu-pas tussen George en Oudtshoorn in 1847 voltooi is, het die Attakwaskloof-pas al meer in onbruik verval en was agteruitgang daarvan merkbaar. Omdat die Oudtshoorn-George-Mosselbaai roete via die Montagu-pas nie die antwoord was op ‘n roete na die see nie, was die Ruiterbosch-pas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai in 1869 voltooi. Dit is kort daarna herdoop na die Robinson-pas.

Charles Michell, die eerste landmeter-generaal van die Kaap, het ook redelik baie rapporteer oor die Attakwaskloof–pas en omgewing. In een van sy baie joernale het hy ‘n hele bladsy opgedra aan botaniese tekeninge van drie Enplurbiae wat hy gevind het in die Attakwaskloof area. In 1831 het die eerste verslae deurgekom na Michell oor die foute wat gemaak is deur landmeter Pietersen in die Attakwaskloof area. Landmeter Duminy moes dit toe gratis her-opmeet, maar hy was nog treuriger as Pietersen. Daarbenewens het hy onwettig geld gevra vir die opmetings en boonop die geld in sy sak gesteek. My 2 x oupagrootjie, Cornelis Johannes Claassen,  het die plaas Kleinfontein besit in die Oudtshoorn distrik en met Michell se besoek aan die Attakwaskloof distrik het hy ‘n aantal klagtes aan hom oorgedra. Cornelis het byvoorbeeld nog geen titelaktes vir sy plaas Kleinfontein ontvang tot op daardie stadium nie. Die plaas was opgemeet in 1829 deur ene Pietersen en daarna weer in 1833 deur Duminy.

Cornelis het ook aansoek gedoen vir ‘n leenplaas, aangrensend tot Kleinfontein, naamlik Wagenaarskraal. Duminy het botweg geweier om die plaas op te meet tensy ene Du Plessis die helfte daarvan kan kry! As die korrupte optrede deur Duminy in sy totaliteit beskou word, is dit nie onvanpas om aan te neem dat hierdie Du Plessis, ‘n vriend van Duminy was nie. Michell laat hom soos volg uit in sy verslag: “‘Mr Duminy had no business to meddle in the appropriation of this ground it having been inspected for Claas[s]en wholely and solely. This is an additional proof of the arbitrary measures indulged in by the self constituted authority of the surveyors, who in point of fact are and ought to be no more than machines moved by the authorities by whom the inspections are affected.” Ek kon byvoorbeeld geen tekens van die plaas Wagenaarskraal vind in die testament of distribusierekening van Cornelis en sy vrou nie. Ook geen melding daarvan in sy seuns se testamente nie. As mens kyk na die kaarte van Kleinfontein en die naburige plase, sal jy agterkom dat dit net ekonomiese sin sou maak om die plaas Wagenaarskraal te bekom.

Op 11 Januarie 1836 vra Michell dat die Attakwaskloof-pas herstel word. Gedurende Februarie 1837 rapporteer hy dat die herstelwerk tot gevolg gehad het dat die waarde van Mosselbaai se erwe viervoudig toegeneem het. Boere aan die noordekant (Oudtshoorn se) kant het hom bedank vir sy bydrae aangesien hulle goedere spoediger in Mosselbaai en omstreke aangekom het. Die Attakwaskloof se roete loop deur Saffraanrivier plaas. Dié plek waar ek ‘n groot gedeelte van my grootwordjare deurgebring het. Een van die plase van Coetzee Laubscher. Op die plaas, nader aan die pas se rigting staan ‘n ou gebou waar werkmense van Coetzee gebly het. Dit was die Klein Karoo se eerste Hotel en het in 1880 reeds sy deure gesluit. Die trekkers van die Groot Trek sou ook hier ‘n drankie of twee geniet het. Sommige sou besope daaruit gestrompel het. As jy in die omgewing daar rondkyk is dit kompleet of die tyd stilgestaan het. Dit moes dieselfde bekoring vir Schrijver, Michell en andere van sy tyd gehad het as vir my en my broers wat dikwels in die omgewing gespeel het. Dit was ook die pad na Ellis se winkeltjie in Moerasrivier langs die teerpad. Kaalvoet het dit ons kinders omtrent ‘n dag gevat om die heen en weer tog af te lê.

In 1857 word Meiringspoort amptelik ge-open. In 1884 word die nuwe brug oor die Olifantsrivier by Steyldrift voltooi. Dit word die Victoria Bridge genoem na die koningin van Engeland. In 1885 is daar ‘n ligte terugslag in die volstruisbedryf maar dit tel weldra weer kop op.

Die sosiale lewe op Oudtshoorn het gebloei en het ‘n vinnige pas begin aanneem. In Julie 1892 word daar ‘n maskerbal gehou en weer een op 1 Oktober dieselfde jaar. Op 8 September 1892 woon die premier , Cecil John Rhodes ‘n banket by en lê die hoeksteen vir die teenswoordige Drilsaal. Later die jaar, op 1 Desember word ‘n vioolkonsert gehou. Ellie Marx wat later die leier van die SABC orkes word, is die ster van die aand.

Teen 1894 is daar 23871 inwoners en was daar ‘n winkel vir elke 200 mense. Baie van die vere kopers was Jode en 70% van die winkeliers het ook uit daardie groep gekom. Hulle getalle groei so aan dat ‘n sinagoge in 1888 en ‘n tweede in 1892 vir hulle ingewy word. Teen 1905 is daar 600 Joodse gesinne en heet Oudtshoorn Klein Jerusalem. Vandag is daar maar 16 gesinne.

Die sportveld en pawiljoen, die teenswoordige Rek soos ons dit ken, word aangelê en gebou in 1894. Daar word intussen ‘n begin gemaak om water aan te lê na die dorp en word teen 1900 voltooi.

Die volstruis bedryf gaan van krag tot krag en in 1905 bereik die vere van ses voëls ‘n allemintige R12000.00!; teen 1911 is daar alreeds 110 000 volstruise. Ten einde die uitvoer van volstruise te bespoedig word spoorlyne aangelê. Een tot op Klipplaat met ‘n verbinding na Port Elizabeth In 1904 en een tussen Oudtshoorn, George en Mosselbaai in 1913. Oudtshoorn was toe verbind met Port Elizabeth en Kaapstad. Gedurende 1905 vestig 22 prokureurs en nege landmeters hulle op die dorp.

Elektriese ligte word in 1911 aangeskakel en die Gaiety Theatre word Augustus 1913 geopen. Die lewe is een fees op Oudtshoorn; groot huise(sogenaamde volstruispaleise) het oral opgeskiet in die dorp en distrik. Heelwat van hulle is nou nog te sien. Pinehurst, The Towers en vele ander. Die volstruisbedryf bereik sy hoogtepunt in 1913.

En in 1914 is dit asof ‘n groot swart kombers oor die dorp gegooi word. Die veremark tuimel in sy totaliteit. Bankrotskappe skiet die hoogte in en mense verlaat die dorp in groot getalle om elders werk te gaan soek. Boere word gedwing om hul volstruise te slag omdat daar nie voer vir hulle is nie. Baie boere word weer bywoners, veral op tabakplase wat nou weer nuwe lewe kry. Die gewasse wat vroeër as ‘n onnodigheid gesien is, word nou weer aangeplant. Gedurende hierdie tyd word besluit om ‘n dam in die loop van die Kammanassie rivier te bou. Dit verskaf welkome werk en inkomste aan honderde inwoners. Dié dam word in 1924 voltooi. Kammanassie is die Khoi woord vir waswater/wasrivier. Die rivier ontspring 16 kilometer oos van Uniondale tussen die Kouga en Outeniekwa berge en vloei 120 kilometer weswaarts waar dit aansluit by die Olifantsrivier, 2 kilometer oos van Oudtshoorn.

Soos ‘n messias verskyn CJ Langenhoven(1873-1932) op die voorgrond en hy beywer hom veral om Afrikaans die amptelike taal van die volk te maak. Sy droom word deur harde werk en deursettingsvermoë verwesenlik in 1925. Die huis waarin hy die grootste gedeelte van sy leeftyd gebly het, naamlik Arbeidsgenot, is vandag ‘n Nasionale Monument en trek besoekers van oor die hele wêreld.

Ten spyte van die depressie van 1930 begin die landbou weer kop optel. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog was ‘n militêre opleidingskamp langs die pad na Calitzdorp opgerig. Spoedig daarna is ander kampe by die kamp op Oudtshoorn geïnkorporeer. Dit op sigself het ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp beteken.

Toerisme het ook ‘n opbloei begin beleef veral sover dit die Kango Grotte en volstruisplase betref. Deesdae is Oudtshoorn veral bekend vir die hoog suksesvolle Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat jaarliks op die dorp aangebied word en toeriste van regoor die wêreld hiernatoe laat stroom. Oudtshoorn het weer ekonomiese voorspoed begin beleef…

© Johann H Claassen 2008

Die Verbintenis tussen my Kleindogters Allana BRINK en Guenevere Olivia CLAASSEN met EVA (KROTOA)

Eva, ook genoem Krotoa, is gebore omstreeks 1642 in Kaapstad. Sy was lid van die Goringhaikona stam wat uit ongeveer 50 lede bestaan het. Haar oom Harry die Strandloper, ook genoem Autschamao, was hoof van die stam.

Van ongeveer 11 jarige ouderdom het Eva deel geword van die Van Riebeeck huishouding waar sy gehelp het as oppasser van die Van Riebeeck kinders. Sy het die Hollandse taal gou bemeester en het sy veral as tolk opgetree tussen die Kompanjie amptenare en die Hottentotte. Later het sy ook die Portugese taal bemeester.

Sy is deur Maria Van Riebeeck opgevoed in die christelike geloof en Europese waardes wat tot gevolg gehad het dat haar stamlede haar beskou het as ‘n verraaier. Hoewel sy nog van tyd tot tyd die stam besoek het, was die verhouding tussen haar en haar familie nie meer wat dit was nie.

Eva is op 3 Mei 1662 gedoop in die Fort en was die eerste hottentot wat die christelike geloof aangeneem het. Ds Pieter Sibbelius het die doop waargeneem. Roelof de Mann en Pieter Van Stael was die getuies.

Op 26 April 1664 het sy tydens ‘n private geselligheid in die huwelik getree met Pieter Van Meerhof, ‘n dokter en avonturier. Hulle ontvang 50 riksdaalders van die Kompanjie as bruidskat. Die twee van hulle het baie aandag getrek en Eva was beskryf as “een fraei, nuchter borst van aansien” Op 2 Junie 1664 was die huwelik ook in die Kerk voltrek. Sy word hiermee ook die eerste Hottentot om te trou volgens die Westerse gebruike.

In Mei 1665 word Van Meerhof aangestel as Superintendent/Poshouer van Robbeneiland. Dit was ‘n verantwoordelike pos, maar dit het Eva nie geval nie. Sy was te gewoond aan die besige lewe aan die Kasteel en sy het nie meer kontak met haar vriendinne gehad nie. Die eensaamheid het haar dikwels gedryf na die misbruik van sterk drank.

Aan die begin van 1668 het Van Meerhof vertrek op ‘n ekspedisie na Madagaskar om slawe te werf, maar hy is vermoor deur die inwoners van daardie Eiland op 27 Februarie 1668.

Sy en haar kinders keer op 30 September 1668 terug na Kaapstad, maar verval daar totaal in ‘n toestand van dranksugtigheid en prostitusie. Sy word op 26 Maart 1669 na Robbeneiland verban en haar kinders in pleegsorg geplaas. Sy keer ‘n paar keer terug na die Kaap, maar word telkens weer verban na Robbeneiland. In Mei 1673 word sy nogtans toegelaat om ‘n kind te doop. Haar vyf kinders was:

Jacobus * c. 1661 en oorlede 1685 aan boord van ‘n skip wat oppad was van Mauritius na Kaapstad.

Pieternella * c. 1663

Salamon * c. 1666

Jeronimus ~ 23 November 1670

Anthonij ~ 6 Augustus 1673

Eva sterf op 29 Julie 1674 en word begrawe in die Kerk binne die Kasteel. Sy kan tereg as die stammoeder van baie Afrikaner-families beskou word en in die volgende paragrawe sal ek aantoon op watter wyse sy aan my kleindogters verbind word.

Petronella VAN MEERHOF, ook genoem Pieternella van die Kaap, en haar broer Salamon, is aangeneem deur Barthalomias BORNS en hulle word deur hom en sy vrou in 1677 saamgeneem na Mauritius. Daar trou sy op 13 Oktober 1677 met Daniël ZAAIMAN en word derhalwe die stammoeder van die ZAAIMAN/ZAAYMAN/SAAIMAN/SAAYMAN familie van Suid-Afrika. Petronella sterf aan pokke in 1714 op 50 jarige ouderdom. Daniël ZAAIMAN * c. 1650 te Vlissingen, Nederland, begin met sy vryburger kontrak van 15 jaar vir die VOC op die buitepos Mauritius. Hy werk as skeep navigator, kuiper en timmerman. Hy keer terug na die Kaap en arriveer 26 Januarie 1709. Hy koop die plasie Patrijsen Valleij in 1710. Hy sterf aan pokke in 1714 op 64 jarige ouderdom.

Uit hierdie huwelik word agt kinders gebore onder wie Magdalena ZAAYMAN * c. 1680. Sy trou in 1697 met Johannes BOCKELENBERG *1668 seun van Daniël BOCKELENBERG en Elizabeth LORET, beide van Bockelberg, Kolberg, Duitsland.

Johannes en Magdalena se dogter, Susanna BOCKELENBERG *1703 trou op 15 Junie 1721 met Gerrit Victor * c. 1695, seun van Cornelis VICTOR en kleinseun van Gerrit VICTOR, die stamvader van die VICTOR familie in Suid-Afrika en Cornelia Jacoba JUNIUS. Uit hierdie huwelik word 8 kinders gebore onder wie Jacobus Adriaan Victor * c. 1723.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 23 Desember 1759 met Sara Maria KOEKEMOER dogter van Jochem KOEKEMOER en Maria PUTTER. Uit hierdie huwelik word 6 kinders gebore onder wie Jacobus Adriaan VICTOR.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 10 September 1797 met Susanna Magdalena VILJOEN dogter van Albertus VILJOEN en Johann Elizabeth GRIESEL. Uit hierdie huwelik word 10 kinders gebore waaronder Johanna Elizabeth VICTOR @ Frederika Elizabeth VICTOR * c. 1798.

Johanna Elizabeth @ Frederika Elizabeth VICTOR trou op 7 September 1817 met haar neef Zacharias Hendrikus VIKTOR * 1793 en seun van Joachim Jan Hendrik VICTOR en Zacharia Cornelia VAN ASWEGEN. Uit hierdie huwelik word 4 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICKTOR * 23 September 1821.

Jacobus Adriaan VICKTOR trou met Susanna Magdalena KRUGER. Uit hierdie huwelik word 3 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICTOR * Mei 1857.

Jacobus Adriaan VICTOR trou met Aletta Hendrina BOTHMA en sewe kinders word uit hierdie huwelik gebore waaronder Jacob VICTOR * 7 Augustus 1888.

Jacob VICTOR trou met Anna Susanna Maria BOTES * c. 29 Januarie 1887, dogter van Frederik Hendrik BOTES en Anna Susanna Maria SNYDERS. Uit hierdie huwelik word 5 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICTOR * 24 Augustus 1923.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 30 November 1949 te Kaapstad met Olive Grace JAMES * 9 Desember 1925. Uit hierdie huwelik word 4 kinders gebore waaronder Estelle VICTOR * 11 Augustus 1956 te Parow.

Estelle VICTOR trou op 12 Augustus 1978 met Johannes Henry CLAASSEN * 15 September 1954 te Oudtshoorn en seun van Petrus Johannes CLAASSEN en Mona Marjorie WATERSON. Uit hierdie huwelik word drie kinders gebore.

Olive Margorie CLAASSEN * 14 September 1981 te Worcester

Petrus Johannes CLAASSEN * 19 AUGUSTUS 1983 te Worcester

Loreen CLAASSEN * 27 November 1987 te Worcester

Die dogter van Olive CLAASSEN en Robert BRINK *20 Julie 1975, seun van Cornelis Mattheus BRINK en Etrecia Doulina BIANCO is Allana BRINK * 6 September 2007.

Die dogter van Petrus Johannes CLAASSEN en Johanna Catharina Louisa McHALE *13 April 1980 dogter van Keith McHALE en Johanna Catharina OBERHOLZER is Guenevere Olivia CLAASSEN * 6 Januarie 2010.

Hierdie genealogiese uiteensetting is gedoen deur Johannes Henry CLAASSEN op 11 September 2010 te Paarl.

Verdere kennis oor Petronella Zaaiman(née van Meerhof) kan opgedoen word deur die boeke van Dr. Dan Sleigh en Dalene Matthee onderskeidelik met die titels, Eilande en Pieternella van die Kaap, te lees.

* = gebore

~ = gedoop

Koue Boland

Vir die wat wonder hoekom my Blog @Hemelrood genoem word; dit was die plaas se naam waar my stamvader gaan boer het pas nadat hy sy burgerskap verkry het in 1734. Die plaas is geleë in Herbertsdale en is trouens die plaas waarop die dorp uitgelê is. So, dis maar ‘n naam met ‘n nostalgiese verbintenis.

Die koue hier in die Boland het nou met mening toegeslaan en dis kompleet of dit hierdie jaar kouer is as verlede jaar. Die berge is in elk geval witter as verlede jaar dieselfde tyd. Maar ek werk lekkerder in die koue.

Gisteraand lekker by Petrus en Joey langs die kaggelvuur gekuier en met Guenevere gespeel – sy raak nou net ouliker by die dag!

Tans is ek besig om al die Claassen- mans en vroue in die doopregisters van die Herold gemeente aan te teken in my familie databasis. Hoop om die einde van die maand hiermee klaar te wees.

Praat môre weer verder.

Post Navigation