johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Archive for the category “Oudtshoorn”

Die NG Moedergemeente Oudtshoorn. 1853-1953.

In  dié ou kerkgebou is ek  gedoop . Baie van my voorouers is hier gedoop, getrou en is ook vanuit hierdie gebou na hulle laaste rusplek vervoer. Dit sou baie jare van sweet en bloed kos alvorens ‘n volwaardige kerkgebou hier staan gemaak is. Met die volgende paar foto’s en feite sal ek probeer om die totstandkoming van die kerk te skets. Die foto’s is almal geneem uit die Eeufees Gedenkboek van die gemeente.

Oudtshoorn is vernoem na die kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, mevrou Geesje Ernestina Johanna Bergh. Sy was getroud met die Siviele Kommissaris(Landdros),Egbertus Bergh, van George. Die baron het na Suid-Afrika gekom in 1741 en was die Sekunde in 1760. Hy keer terug na Holland in 1766 en word aangewys as Goewerneur vir die Kaap in 1772. Hy sterf egter in 1773 onderweg na die Kaap.

Die kerklike gemeente is  eers op 11 Oktober 1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, is die mense van hierdie streek onder  die gemeente van Tulbagh ingedeel. Die gemeente George is in 1812 gestig en is Oudtshoorn onder daardie gemeente ingedeel. Vir die eerste keer is ’n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Die eerste kerkgebou is aan die onderpunt van George weg(nou Langenhovenweg) opgerig. Die kerkplein was noord van die kerk geleë, in die omgewing van Plein straat.  Cornelis Petrus Rademeyer het  vir hierdie doel  5 morge van sy plaas beskikbaar gestel in 1838. Die kerk is in 1839 ingewy.

Op 11 Oktober 1853 is die gemeente van Oudtshoorn gestig. Weens finansiële probleme kon die eerste leraar, Ds van der Riet, eers op 3 Mei 1857 bevestig word. Op 7 November 1859 is tot die oprigting van ’n nuwe kerkgebou besluit. Op 15 Januarie 1861 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Weens finansiële moeilikhede is dié sierlike gebou eers op 7 Junie 1879 ingewy teen ’n koste van R22425. Die bouery was twee keer gestaak en wel  gedurende Oktober 1863 en weer gedurende Desember 1865.

Die bevolking het so vinnig uitgebrei dat die volgende gemeentes gestig is: Calitzdorp in 1873; De Rust in 1900; De Hoop in 1911; en Volmoed in 1921. Volmoed is nie ’n dorp nie hoewel die skenker van die lap grond, WG Olivier, dit voorsien het dat daar ’n dorp gestig sou word op sy grond. Volmoed is geleë ongeveer 20 kilometer suidwes van Oudtshoorn. Die eerste blankes was reeds teen 1770 hier gevestig. Sedert 1908 het Olivier, eienaar van die plaas Armoed ’n aanbod aan die kerk gemaak deur 5 morge grond te skenk waarop ’n kerkgebou met 700 sitplekke opgerig sou word op sy koste, maar dit is van die hand gewys. Die aanbod is egter aanvaar in 1910 en oordrag het geskied in 1912. Die pastorie is die volgende jaar reg langs die kerk opgerig en aansoek is gedoen vir afstigting van die Oudtshoorn moedergemeente. Die versoek is geweier, maar uiteindelik in 1921 goedgekeur. Gedurende 1931-1944 is ’n tweede pastorie meer sentraal opgerig met ’n groot saal daarnaas. ’n Algemene Handelaar met petrolpompe is naby die pastorie en saal geleë.  Die skool, wat ten tyde van my en my broers se teenwoordigheid aldaar, standerds sub A tot 8 aangebied het, was geleë langs die pastorie aan die oostekant.

In 1948 is Oudtshoorn-Wes onder die bekende Dr.  Andries Treurnicht afgestig.  Matjesrivier in die gemeente Kangovallei, is op 27 Januarie 1950 afgestig. Oudtshoorn-Noord is op 17 September 1950 afgestig.

Image   Die Eeufees Gedenkboek. 1853- 1953

Vir 18 jaar lank moes die gemeentelede in hierdie gesig vaskyk. Tekort aan die nodige fondse het die bouery tot stilstand gebring.

Die preekstoel en gekleurde ruite het elk £800.00 gekos. Die preekstoel was die werk van ene Jacobs. Die beelde voor die preekstoel is in Engeland gekap. Drie van hulle is na die portret van 'n dogter van Rooyen gemaak en drie van die portret van 'n dogter Meyer. 'n Bybel vir die preekstoel is deur H.S. Schoeman geskenk en 16 bybels vir die kerkraadsbanke deur J.J. Schoeman. Die inwyding van die kerk het op 7 Junie 1879 plaasgevind. Op 11 Februarie 1911 is daar besluit dat elektriese ligte in die kerk installeer moet word.

My oupagrootjie Nicolaas Johannes Claassen*1860 en sy nooi Sophia Elizabeth Gerber*1865, is na die 'opgee van gebooie', op 3 Oktober 1882 deur ds. Stegmann in die huwelik bevestig. Vier van hul kinders is ook deur hom gedoop.

Die nuwe pastorie is opgerig deur Delbridge en Courtenay van Mosselbaai vir £3250.00. Dit het nie die skilder- en plakwerk ingesluit nie. Om die nodige fondse aan te vul, is onder andere basaars gehou. Dit word egter duidelik gestel dat as daar wyn en brandewyn geskenk sou word, dit deur die kommissie verkoop moet word en nie op die basaartafels mag beland nie. Dis nie bekend wanneer die pastorie in gebruik geneem is nie, maar op 27 Desember 1880 het broeder B.J. Keyter verslag gedoen oor die vordering in verband met die bou daarvan. Tydens hierdie vergadering het hy ook bekend gemaak dat die tender aangeneem is. Op 24 Januarie 1881 is daar tydens 'n vergadering bekend gemaak dat £2000.00 beskikbaar is vir die voltooiing van die pastorie.

Ds. Murray was die jongste van vyf predikantseuns van die baie bekende Ds. Andrew Murray wat in 1822 uit Skotland hierheen gekom het.

Ds. Andrew Murray McGregor was, voordat hy na Oudtshoorn beroep is, eers op die dorpie, Lady Grey naby Robertson in die bediening. Die dorpie is later herdoop om McGregor te heet.

Teen die einde van 1925 is 'n kerkblad, die Kango Kerkblad, gestig met ds. Viljoen as redakteur. Dit was gedurende sy termyn dat die kerknotule op 28 Mei 1921 vir die eerste keer in Afrikaans opgestel is.

Is dit bloot toevallig dat hy 'n 'Hitler-snorretjie' dra? Sy dienstermyn was gedurende WWII.

Latere parlementslid en leier van die Konserwatiewe Party(KP).

Kerkraad 1953

Naamlys van kerkraadslede

Bronne:

Claassen, J.H., ongepubliseerde familie navorsing.

Greeff, M.S., 1853-1953, Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Oudtshoorn, 1953.

© 2012 Johann H Claassen

Advertisements

Die Eerste Blankes in Oudtshoorn en die tydjie daarna…[’n uittreksel uit my ongepubliseerde boek, Die Laaste Oes]

Roete waarlangs die Attaquaskloof-pas gekronkel het. Foto: Eugene P Claassen

Die vroegste pioniers het hulle reeds in 1750 in Oudtshoorn bevind, trouens die eerste plaas in die Klein Karoo is gedurende 1731 aan Fred J Van Eeden uitgegee wat geboer het in die Attaquaskloof(die omgewing Robinson pas, Moerasrivier en Saffraanrivier). Die dorp, bekend onder die buurdorpe as veldskoendorp, is aanvanklik in 1847 aangelê op die plase Hartebeesrivier en Grobbelaarsrivier en in 1863 geproklameer as ‘n dorp. Beide die plase was die eiendom van Cornelis Petrus Rademeyer. Rademeyer se huis was geleë waar die Onderwyssentrum vandag is op die hoek van Vrede en Baron Van Rheede straat. Die plaas is in 500 watererwe opgedeel en die verkoop regulasies het onder andere bepaal dat elke erfhouer geregtig sal wees op een vyfhonderdste deel van die water van die Grobbelaarsrivier. Elke koper moes ook onderneem om sy deel van die sloot skoon te hou en hom te weerhou van diefstal van sy buurman se water. In 1887 word Oudtshoorn ‘n volwaardige Munisipaliteit. Oudtshoorn is vernoem na die kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, mevrou Geesje Ernestina Johanna Bergh. Sy was getroud met die Siviele Kommissaris(Landdros), Egbertus Bergh, van George. Die baron het na Suid-Afrika gekom in 1741 en was die Sekunde in 1760. Hy keer terug na Holland in 1766 en word aangewys as Goewerneur vir die Kaap in 1772. Hy sterf egter in 1773 onderweg na die Kaap. Die kerklike gemeente is eers op 11 Oktober 1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, het die mense van hierdie streek onder die gemeente van Tulbagh ressorteer. Die gemeente George is in 1812 gestig en het Oudtshoorn onder daardie gemeente ressorteer en vir die eerste keer is ‘n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Die eerste kerkgebou is aan die onderpunt van George weg(nou Langenhovenweg) opgerig(waar Bokomo nou is). Die kerkplein was noord van die kerk geleë, in die omgewing van Plein straat. Cornelis het vir hierdie doel 5 morge van sy plaas beskikbaar gestel in 1838. Die kerk is in 1839 ingewy.

Op 11 Oktober 1853 is die gemeente van Oudtshoorn gestig. Weens finansiële probleme kon die eerste leraar, Ds van der Riet, eers op 3 Mei 1857 bevestig word. Op 7 November 1859 is tot die oprigting van ‘n nuwe kerkgebou besluit. Op 15 Januarie 1861 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Weens finansiële moeilikhede is dié sierlike gebou eers op 7 Junie 1879 ingewy teen ‘n koste van R22425.00. Die bouery was twee keer gestaak en wel gedurende Oktober 1863 en weer gedurende Desember 1865. Die bevolking het so vinnig uitgebrei dat die volgende gemeentes gestig is: Calitzdorp in 1873; De Rust in 1900; en Volmoed in 1921. In 1948 is Oudtshoorn-Wes onder die bekende Dr Andries Treurnicht afgestig.

Nog ‘n kerk wat ek spesiaal wil vermeld is die Independente kerk wat deur eerwaarde Anderson opgerig is op die hoek van St John straat en Baron Van Rheede straat (waar Headlines nou geleë is). Talle Claassen families het oor die jare in St John straat gebly. Pa Piet het op vier verskillende plekke in die straat gebly in sy sewentig jaar. Sy seun Ernest bly nog steeds daar en ons oupa, Petrus Johannes(1900-1978) het daar gebly asook ons oupagrootjie Nicolaas Johannes Claassen(1860-). Dan het Pa se suster Maria daar gebly en so ook pa se broer Nicolaas Johannes. Die straat se naam was eers Chapel straat. In 1860 was klipkappers uit Skotland laat kom om die St Judes Anglikaanse kerk te bou.

Intussen het die lewe aangegaan op ekonomiese gebied met sy hoogte- en laagte punte.

Oudtshoorn is bekend vir sy droë warm klimaat en groot droogtes het menige boer bankrot gelaat. En as dit ‘n slag kom reën, dan kom dit in so ‘n groot oorvloed dat alles weer weg gespoel word en die boere met groter probleme laat. Jare waarin groot en langdurige droogtes aangeteken is, was 1859 toe drinkwater met ‘n wa na huise geneem moes word. In 1869 word die droogte gebreek met wydverspreide vloede met gepaardgaande skade. Ná nog ‘n lang droogte begin dit op 13 Mei 1885 hard te reën en dit klaar eers ná 31 uur op. Die Grobbelaarsrivier vloei 500m breed en die nuwe Victoria brug by Steyldrift spoel weg.

Die jaar 1894 is aangeteken as die droogste jaar in die geskiedenis tot op daardie stadium. Water is aangery en verkoop teen ‘n sikspens per emmer. Weereens is dit swaar reën op 1 Maart 1891 en storms wat die droogte breek. In die doodsnikke van die negentiende eeu, naamlik 1899 word dit  aangeteken as die droogste in die geskiedenis en 1919 as die droogste in 50 jaar. Ekself het in 1967 gesien hoe perde en ander diere in die Saffraanrivier afgedryf kom. Dit was ook na ‘n lang droogte tydperk. Daarna was daar weer in 1981 ernstige verspoelings toe Laingsburg ook ‘n groot mense-ramp beleef het.

Oudtshoorn is internasionaal bekend as die bakermat van die volstruis bedryf. Dit was boere soos G Olivier, H Raubenheimer van Heimersrivier(langs Saffraanrivier) en ene Van Der Westhuisen van Bakenskraal wat volstruise gedurende 1850 getem het soos ons dit vandag ken. In 1868 het Arthur Douglas ‘n broeimasjien ontwerp wat tot gevolg gehad het dat die produksie van volstruise verdubbel het. Hy noem die masjien die ‘Eclipse’. Meer volstruise het meer voer gevra en in 1870 was lusern vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeplant deur mnr. Scholtz, ‘n magistraat van Oudtshoorn.

Die ekonomie het maar teen ‘n slakkepas gegroei en dit was gedurende die sestiger jare ‘n geval van drie treë vorentoe en vier treë terug. In 1860 was dit ‘n besondere slegte jaar vir Suid-Afrika en uiteraard ook vir Oudtshoorn. ‘n Engelse inwoner skryf hieroor:”Welcome back to drought, starvation, preferent bonds, fraudulent insolvencies and ruin…it is not money but sense that is wanted at the Cape and the most sensible thing a man can do is clear out of the country before he has lost his all.” Dit was amper die einde van Oudtshoorn se bestaan. Mense was oor die algemeen depressief, werk skaars en die boere moes hier teen 1865 bywoners word – sommige op hul eie plase nadat hulle dit verloor het. In 1862 hang ‘n welgestelde kluisenaar, ene JG Paarlby homself op. Moontlik het hy sy geld/besittings verloor of het hy bloot moeg geword daarvoor wat hy rondom hom gesien het. Hy word buite die begraafplaas begrawe! In November 1865 rapporteer The Advertiser & Mail dat 34 mense tronk toe gegaan het net om darem ‘n bietjie kos in hul liggame te kry.

Daniël Kerwin, ‘n plaaslike polisieman, sny sy vrou se keel-af weens haar owerspelige verhouding met die buurman. Dit het tot gevolg dat die Rondgaande Hof op 3 April 1865 vir die eerste keer ‘n sitting in Oudtshoorn het. Regter Watermeyer is die Voorsittende Beampte in die betrokke saak.

Vanaf 1874 begin dit weer beter gaan met die ekonomie. Tussen 1875 en 1882 het die pryse van vere geweldig gestyg. Skielik was daar te veel geld. Volstruise het verkoop teen £1000 stuk. Boere het begin om ander gewasse uit die grond te haal en lusern in die plek daarvan aan te plant. Elke tweede Jan Rap en sy maat het begin om met volstruise te boer. Daar bestaan vandag(2008)nog sulke klein kampies of kleinhoewes teen die Grobbelaarsrivier as ‘n uitvloeisel daarvan. Die voorspoed was orals te sien. Die eerste hotel en telegraaf kantoor is gedurende 1875 ingestel met die Standard Bank kort op hulle hakke in 1876. Gedurende Mei 1879 word die Oudtshoorn Courant gestig. Konserte word gehou in die Templar’s Hall en hier vanaf 1883 het nuwe bergpasse begin open. Mense kon nou van oral vinniger op Oudtshoorn kom. Dit is interessant om te weet dat daar 14 toegangsroetes tot die Klein Karoo is waarvan 5 spesifiek tot Oudtshoorn toegang bied.

Omdat die Attaquaskloof-pas die oudste toegangsroete tot Oudtshoorn is en ook ‘n besondere betekenis het vir my familie, wil ek graag in die volgende paragrawe daarop uitbrei.

Die roete van die Kaap tot in Graaf-Reinet het oor die Attaquaskloof-pas gevolg vir bykans 159 jaar nadat vaandrig Isaq Schrijver in 1689 met ‘n klein ekspedisie in opdrag van Simon Van Der Stel vir beeste en skape moes gaan soek in die binneland. Hy het ‘n ou olifantpad verbreed en word hy op 28 Januarie 1689 die eerste Europeër om ‘n roete oor die Outeniekwas te vind en die eerste witman wat die landskap betree wat later Oudtshoorn sou word. Op Dinsdag 4 Januarie 1689 om 15:00 vertrek Schrijver, een sersant, twintig behoorlik gewapende manskappe en twee ossewaens vanaf die Kasteel. Die wind was die dag Suid-Oos. Dieselfde aand om nege uur bereik hulle die buitepos De Kuijl (die teenswoordige Kuilsrivier). Teen 26 Januarie bereik hulle die agterkant van die Attakwas bergreeks. Hy het dit eers die Lange Kloof genoem, maar dis weldra verdoop na Attakwaskloof. Die bosse was baie dig en hy stuur die sersant, vier manskappe en twee Hottentotte die berg in om die moontlikheid van ‘n pad te ondersoek. Hulle kom die volgende oggend om agt uur terug en rapporteer dat ‘n pad moontlik is as die bosse na die een kant verwyder word. Daarop stuur hy agt van die manskappe en ‘n aantal Hottentotte om die skoonmaak werk te gaan doen. Hulle kap toe die bosse uit en steek dit aan die brand. Die dag was warm en die wind Suid tot Wes. Op Vrydag 28 Januarie bereik hulle die omgewing waar die plaas Saffraanrivier tans geleë is. In hierdie omgewing skiet hulle ‘n Berg Zebra(Equus Zebra). Attakwaskloof-pas beteken “die pas van die Wit mens.” Die Attakwas-stam van daardie omgewing was klaarblyklik lig van kleur en was so genoem deur die ander stamme. Bekende reisigers/skrywers van daardie tyd wat die pas gebruik het, was Thunberg 1772 en 1773; Sparrman 1775 en 1776; Swellengrebel 1776; Van Plettenberg 1778; Patterson 1778 en 1779; Muller en Holtzhausen 1782 en 1783; Gordon 1786 en Van Reenen 1790. Barrow en ander het in die vroeë 1800’s gevolg. Intussen is dit druk gebruik deur boere en jagters.

Murasie van die hotel wat aan die Attaquaskloofpas geleë is. Geliefkoosde speelplek vir my en my broers. (Foto: JHC c.1980)

Nadat die Montagu-pas tussen George en Oudtshoorn in 1847 voltooi is, het die Attakwaskloof-pas al meer in onbruik verval en was agteruitgang daarvan merkbaar. Omdat die Oudtshoorn-George-Mosselbaai roete via die Montagu-pas nie die antwoord was op ‘n roete na die see nie, was die Ruiterbosch-pas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai in 1869 voltooi. Dit is kort daarna herdoop na die Robinson-pas.

Charles Michell, die eerste landmeter-generaal van die Kaap, het ook redelik baie rapporteer oor die Attakwaskloof–pas en omgewing. In een van sy baie joernale het hy ‘n hele bladsy opgedra aan botaniese tekeninge van drie Enplurbiae wat hy gevind het in die Attakwaskloof area. In 1831 het die eerste verslae deurgekom na Michell oor die foute wat gemaak is deur landmeter Pietersen in die Attakwaskloof area. Landmeter Duminy moes dit toe gratis her-opmeet, maar hy was nog treuriger as Pietersen. Daarbenewens het hy onwettig geld gevra vir die opmetings en boonop die geld in sy sak gesteek. My 2 x oupagrootjie, Cornelis Johannes Claassen,  het die plaas Kleinfontein besit in die Oudtshoorn distrik en met Michell se besoek aan die Attakwaskloof distrik het hy ‘n aantal klagtes aan hom oorgedra. Cornelis het byvoorbeeld nog geen titelaktes vir sy plaas Kleinfontein ontvang tot op daardie stadium nie. Die plaas was opgemeet in 1829 deur ene Pietersen en daarna weer in 1833 deur Duminy.

Cornelis het ook aansoek gedoen vir ‘n leenplaas, aangrensend tot Kleinfontein, naamlik Wagenaarskraal. Duminy het botweg geweier om die plaas op te meet tensy ene Du Plessis die helfte daarvan kan kry! As die korrupte optrede deur Duminy in sy totaliteit beskou word, is dit nie onvanpas om aan te neem dat hierdie Du Plessis, ‘n vriend van Duminy was nie. Michell laat hom soos volg uit in sy verslag: “‘Mr Duminy had no business to meddle in the appropriation of this ground it having been inspected for Claas[s]en wholely and solely. This is an additional proof of the arbitrary measures indulged in by the self constituted authority of the surveyors, who in point of fact are and ought to be no more than machines moved by the authorities by whom the inspections are affected.” Ek kon byvoorbeeld geen tekens van die plaas Wagenaarskraal vind in die testament of distribusierekening van Cornelis en sy vrou nie. Ook geen melding daarvan in sy seuns se testamente nie. As mens kyk na die kaarte van Kleinfontein en die naburige plase, sal jy agterkom dat dit net ekonomiese sin sou maak om die plaas Wagenaarskraal te bekom.

Op 11 Januarie 1836 vra Michell dat die Attakwaskloof-pas herstel word. Gedurende Februarie 1837 rapporteer hy dat die herstelwerk tot gevolg gehad het dat die waarde van Mosselbaai se erwe viervoudig toegeneem het. Boere aan die noordekant (Oudtshoorn se) kant het hom bedank vir sy bydrae aangesien hulle goedere spoediger in Mosselbaai en omstreke aangekom het. Die Attakwaskloof se roete loop deur Saffraanrivier plaas. Dié plek waar ek ‘n groot gedeelte van my grootwordjare deurgebring het. Een van die plase van Coetzee Laubscher. Op die plaas, nader aan die pas se rigting staan ‘n ou gebou waar werkmense van Coetzee gebly het. Dit was die Klein Karoo se eerste Hotel en het in 1880 reeds sy deure gesluit. Die trekkers van die Groot Trek sou ook hier ‘n drankie of twee geniet het. Sommige sou besope daaruit gestrompel het. As jy in die omgewing daar rondkyk is dit kompleet of die tyd stilgestaan het. Dit moes dieselfde bekoring vir Schrijver, Michell en andere van sy tyd gehad het as vir my en my broers wat dikwels in die omgewing gespeel het. Dit was ook die pad na Ellis se winkeltjie in Moerasrivier langs die teerpad. Kaalvoet het dit ons kinders omtrent ‘n dag gevat om die heen en weer tog af te lê.

In 1857 word Meiringspoort amptelik ge-open. In 1884 word die nuwe brug oor die Olifantsrivier by Steyldrift voltooi. Dit word die Victoria Bridge genoem na die koningin van Engeland. In 1885 is daar ‘n ligte terugslag in die volstruisbedryf maar dit tel weldra weer kop op.

Die sosiale lewe op Oudtshoorn het gebloei en het ‘n vinnige pas begin aanneem. In Julie 1892 word daar ‘n maskerbal gehou en weer een op 1 Oktober dieselfde jaar. Op 8 September 1892 woon die premier , Cecil John Rhodes ‘n banket by en lê die hoeksteen vir die teenswoordige Drilsaal. Later die jaar, op 1 Desember word ‘n vioolkonsert gehou. Ellie Marx wat later die leier van die SABC orkes word, is die ster van die aand.

Teen 1894 is daar 23871 inwoners en was daar ‘n winkel vir elke 200 mense. Baie van die vere kopers was Jode en 70% van die winkeliers het ook uit daardie groep gekom. Hulle getalle groei so aan dat ‘n sinagoge in 1888 en ‘n tweede in 1892 vir hulle ingewy word. Teen 1905 is daar 600 Joodse gesinne en heet Oudtshoorn Klein Jerusalem. Vandag is daar maar 16 gesinne.

Die sportveld en pawiljoen, die teenswoordige Rek soos ons dit ken, word aangelê en gebou in 1894. Daar word intussen ‘n begin gemaak om water aan te lê na die dorp en word teen 1900 voltooi.

Die volstruis bedryf gaan van krag tot krag en in 1905 bereik die vere van ses voëls ‘n allemintige R12000.00!; teen 1911 is daar alreeds 110 000 volstruise. Ten einde die uitvoer van volstruise te bespoedig word spoorlyne aangelê. Een tot op Klipplaat met ‘n verbinding na Port Elizabeth In 1904 en een tussen Oudtshoorn, George en Mosselbaai in 1913. Oudtshoorn was toe verbind met Port Elizabeth en Kaapstad. Gedurende 1905 vestig 22 prokureurs en nege landmeters hulle op die dorp.

Elektriese ligte word in 1911 aangeskakel en die Gaiety Theatre word Augustus 1913 geopen. Die lewe is een fees op Oudtshoorn; groot huise(sogenaamde volstruispaleise) het oral opgeskiet in die dorp en distrik. Heelwat van hulle is nou nog te sien. Pinehurst, The Towers en vele ander. Die volstruisbedryf bereik sy hoogtepunt in 1913.

En in 1914 is dit asof ‘n groot swart kombers oor die dorp gegooi word. Die veremark tuimel in sy totaliteit. Bankrotskappe skiet die hoogte in en mense verlaat die dorp in groot getalle om elders werk te gaan soek. Boere word gedwing om hul volstruise te slag omdat daar nie voer vir hulle is nie. Baie boere word weer bywoners, veral op tabakplase wat nou weer nuwe lewe kry. Die gewasse wat vroeër as ‘n onnodigheid gesien is, word nou weer aangeplant. Gedurende hierdie tyd word besluit om ‘n dam in die loop van die Kammanassie rivier te bou. Dit verskaf welkome werk en inkomste aan honderde inwoners. Dié dam word in 1924 voltooi. Kammanassie is die Khoi woord vir waswater/wasrivier. Die rivier ontspring 16 kilometer oos van Uniondale tussen die Kouga en Outeniekwa berge en vloei 120 kilometer weswaarts waar dit aansluit by die Olifantsrivier, 2 kilometer oos van Oudtshoorn.

Soos ‘n messias verskyn CJ Langenhoven(1873-1932) op die voorgrond en hy beywer hom veral om Afrikaans die amptelike taal van die volk te maak. Sy droom word deur harde werk en deursettingsvermoë verwesenlik in 1925. Die huis waarin hy die grootste gedeelte van sy leeftyd gebly het, naamlik Arbeidsgenot, is vandag ‘n Nasionale Monument en trek besoekers van oor die hele wêreld.

Ten spyte van die depressie van 1930 begin die landbou weer kop optel. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog was ‘n militêre opleidingskamp langs die pad na Calitzdorp opgerig. Spoedig daarna is ander kampe by die kamp op Oudtshoorn geïnkorporeer. Dit op sigself het ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp beteken.

Toerisme het ook ‘n opbloei begin beleef veral sover dit die Kango Grotte en volstruisplase betref. Deesdae is Oudtshoorn veral bekend vir die hoog suksesvolle Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat jaarliks op die dorp aangebied word en toeriste van regoor die wêreld hiernatoe laat stroom. Oudtshoorn het weer ekonomiese voorspoed begin beleef…

© Johann H Claassen 2008

VOLMOED ~ PLEK VAN SON EN VOLSTRUISE

Steyldrift. Brug oor die Olifantsrivier

Net soos jy oor die Steyldrift brug is – dis nou van Oudtshoorn se kant – draai jy regs af. Hier en daar is daar ‘n groen lusernkol, maar die res is net ‘n stowwerige vlakte met vaal karoobossies, so ver as wat die oog kan sien. Die volstruise kan jy ook nie mis nie, hulle is oraloor. Skynbaar die enigste ander wese, behalwe ‘n mens, wat hier kan leef!
Hoewel die Olifantsrivier vlak by die nedersetting verby vloei, is daar weinige dae water in. Uit my kinderdae onthou ek dit as ‘n droë loop, wel die meeste van die tyd. Want daar was tye in die geskiedenis wat dit ‘n siedende, bruisende rivier was wat alles uit die pad geveeg het of sommer net saam gevat het see toe! Van die vroegs-aangetekende vloede in die geweste was dit elke keer die Olifantsrivier wat die inwoners se verbeelding aaangegryp het. In 1885 spoel die nuutgeboude Victoria brug weg, in 1891 word daar beskryf hoe die volstruise en beeste in die rivier afgedryf kom. In 1976 het ek dit self ervaar en gewonder waar al die water vandaan kom en in 1981 het dit ook groot skades vir die boere beteken.

Tannie Edna se winkeltjie - nou baie verwaarloos

As die son jou op Volmoed se vlaktes alleen kry, brand hy jou dood, het die oumense altyd gesê. Op ‘n regte somersdag met die kwik wat in die veertigs loop draai, is dit alles stil rondom jou, selfs die ywerige sonbesies het die stryd gewonne gegee. Dis net jy en die voetpad en die son. Slegs die gehardstes onder die gehardes kan ‘n leeftyd daar uithou. Maar as die reën die jaar kom, word die vlaktes omskep in ‘n lushof. Daar is ‘n glimlag op elke boer se gesig en die volstruise doen hulle bekende dans van die reën. Lusern, die ‘groen goud’ van die Klein Karoo, aard uitstekend hier en is ‘n see van groen in die mooi jare. In slegte jare is dit net die skool se tennisbane wat groen vertoon.

Wyfie volstruis met kuikens

Die mense van Volmoed is baie spesiale mense, mens-mense, mense wat gewoond is aan swaarkry maar nog steeds net hulle beste vir jou sal gee. Die du Toit’s wat die winkel en perolpompe besit het, Lampie Olivier van Driehoek wat die skoolbus bestuur het, Loel Olivier en sy gesin wat so lekker gesing het in die kerk en op skool funksies, oom Hendrik Zeelie die skoolopsigter, tannie Edna wat die klein winkeltjie naby die ou koshuis besit het, almal mense wat hul merk gemaak het op die vlaktes van Volmoed en wie se gesigte jou ewig sal bybly.

Volmoed se kerk.

Dis ‘n ver pad sedert die nedersetting reeds in 1770 hul eerste wit boere gehuisves het. Die plek het eers Armoed geheet, so vernoem na ‘n Bruinman wat daar gewoon het en wat seker ‘n besonderse indruk moes gemaak het op die bevolking van daardie tyd.

Sedert 1908 het die eienaar van die plaas Armoed, W.G. Olivier, ‘n aanbod aan die kerk gemaak om 5 morg van sy grond asook ‘n kerkgebou van 700 sitplekke te skenk. Hy sou die kerkgebou op sy eie koste laat oprig   volgens die plan wat die kerk

Die handelshuis op Volmoed.

raad sou goedkeur en hy het die wens uitgespreek dat daar ‘n dorp op sy grond gestig moet word. Die kerkraad van Oudtshoorn wou nie hieraan byt nie en vir eers is die aanbod van die hand gewys.

Maar in 1910, seker nadat daar nou lank oor die saak gebid en gemurmureer was, het die kerkraad tog ingegee en is die aanbod aanvaar en twee jaar daarna is die transportakte aan die kerkraad van Oudtshoorn oorgedra. In 1913 is ‘n pastorie langs die kerk gebou (wat later ‘n koshuis sou word) en aansoek om afstigting van Oudtshoorn is gedoen. Maar soos dit nou maar is en nog altyd was draai die kerk se ratte stadig. Eers in 1921 sou hierdie versoek toegestaan word. Gedurende die tydperk 1931-1943 is ‘n tweede pastorie met net langsaan ‘n mooi groot saal, opgerig. Dit is meer sentraal geleë en sou later die enigste pastorie wees van die gemeente. Die pragtige kerkgebou is nou te koop weens die feit dat daar weinig genoeg mense is om ‘n diens die moeite werd te maak.

Post Navigation