johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Archive for the category “Uncategorized”

Haarsnyers

Haarkappers. Die manlike soort. Nou kyk, elke dorp het sy eie karakters, hetsy dit dominees, onderwysers, winkeliers of rokmakers is. Maar elke dorp het ook sy kwota haarkappers. Eintlik haarsnyers, want haarkappers is myns insiens daar vir die meisies en ouer dames. Haarsnyers was die ooms wat vanuit ’n vertrekkie, gewoonlik in die hoof straat of in ’n arkade, gewerk het, net groot genoeg vir twee of hoogstens drie ophys-stoele – van daardie soort stoele wat met ’n voetpedaal opgehys is, meestal as jy ’n kind is of dalk kort van postuur is – en so ses of agt gewone panelite stoele. Sodat die oom jou darem behoorlik teen die kop kon kyk. Voor die vertrekkie, lokaal of ‘barber shop’ soos die ou mense dit genoem het, het daar ’n paal gestaan wat in rooi en wit eweredige bane geverf was – so met ’n krulagtige draairoomys vorm.
My eerste kennismaking as kind met die haarsnyers daar op Oudtshoorn, was nie aangenaam nie. Vir ’n hele paar keer nie aangenaam nie. Die eerste keer het ek uitgehardloop. Die ander kere was my pa reg vir my. Maar dit het beter geraak. Hulle was ’n paar haarkappers in die een vertrek, maar ek onthou nog net vir oom Nel en ’n Cooper, een met sulke rooi hare. Engelsman, as jy my nou sou vra. En my pa het net een styl geken: Short back ’n sides.
Om jou hare te laat sny by ’n haarsnyer, was dit nie nodig om ’n afspraak te maak soos in die geval van die dames nie. Jy het bloot daar ingestap, vir almal hoflik gegroet en jou plek op een van die panelite stoele ingeneem. As almal beset was, het jy bloot vir jou ’n gerieflike staanplek gekry en daar gewag tot die eerste stoel vakant raak. En terwyl jy gewag het, het jy geluister na of deelgeneem aan die jongste beskikbare grappe of skindernuus van die dorp. Met laasgenoemde moes jy egter versigtig wees want jy wis nooit wanneer sit die beskinderde se naaste op een van die stoele nie. Selfone was daar nie, so jy kon nie, om die tyd te verwyl, vinnig ’n skelm foto geneem het van Daantjie se shiner wat hy die vorige aand in die kroeg opgetel het nie. Jy het maar daar gestaan en die spulletjie so deurgekyk. Jy sou vanaand of môre weer vir andere vertel van jou gewaarwordinge daar in die barbershop.
Nou is dit ook so dat elke dorp sy eie besonderse haarsnyers het. Manne van formaat, trots op hul handewerk, hul ambag. En jy het almal geken want jy het al met die jare almal uitprobeer. En dan jou favourite gekies. En by hom het jy bly sny totdat hy doodgaan of soms by ’n ander as jou regular siek of met vakansie is. Worcester het ook sy besonderse haarsnyers gehad.
Daar was oom Fanie. Dit was nou lank voor die rookwette. Jy kon jou pyp of sigaret net daar in die klein vertrekkie aansteek en die wêreld blou rook. Nou oom Fanie was, benewens vir sy ambag en vrouens, vir nog drie dinge baie lief. Dit was gesels, rook en koffie. As dit jou beurt was om op die stoel te klim, het hy daar met die wit doek gestaan soos wat die ouens in die stiergevegte staan met die rooi doeke. So oopgesprei, eenkant langs sy lyf en dan vir jou beduie om op te klim. Amper soos wat jy vir ’n dame die deur van jou motorkar sou oophou sodat sy gemaklik kan inklim. Dan, as jy jou sit gekry het, het hy die lap om jou bolyf drapeer; styf ingesteek by jou kraag sodat die knipsels nie onder jou hemp beland nie. Dan sou oom Fanie jou uitvra oor die een en ander. Hy het geweet waar jy werk en sou jou dan spesifiek iets uitvra oor jou werk en dis gewoonlik so ’n akkurate en aktuele vraag, jy sou sweer hy het die heeldag saam met jou gewerk! Terwyl jy dan nou vertel of nie vertel nie, sou hy doodluiters sy pyp opsteek en daaraan begin suig en blaas. Binne-in jou gesig, sonder dat hy ’n oog knip en jy, soekende na vars lug! Na hy so vier of vyf trekke geneem het, sal hy die masjientjie opneem en begin sny. Hy sal nie vreeslik vêr kom nie, dan skakel hy die masjientjie af en sit dit op sy werktafel neer. Dan, terwyl hy eenstryk deur gesels, sal hy sy beker neem, dit uitspoel en vir hom koffie skink uit sy Thermos. Suiker ingooi, melk inskink uit ’n plastiekbottel wat in ’n karavaan yskassie gebêre word en dan teen sy werktafel aanleun en heerlik aan sy beker koffie staan en teug. En gesels. Daarmee klaar, sou hy die teelepel en die beker onder die hande wasbak se kraan afspoel en dit een kant, onderstebo op ’n geruite OK Bazaars vadoek neersit. Nou is dit knip-tyd. Hierdie geknippery met die skêr was nie jou gewone knip nie. Dit was ’n ritueel op sy eie. Voordat die skêr jou hare begin vat, sou hy eers ’n paar vinnige knip bewegings daar in die lug bokant jou kop maak en dan die ding in jou hare begin steek. Heel behendig, sonder om ’n knip te mis of jou hoof te beskadig. Maar dis nie waar dit stop nie. As hy nou so ’n strook deur jou hare geknip het – die eenkant in en die anderkant uit – sou hy hierdie in-die-lug-knippery voortsit aan die einde van die strook. So al asof daar ’n paar denkbeeldige hare daar iewers ’n ent van jou kop af is. En hy gesels. As die knippery nou tot ’n einde kom, sal hy eers weer ’n pypie brandmaak. Maar jy wonder nie meer soos die heel eerste keer nie. Jy weet: hy sál vandag nog klaarmaak met jou kop. Uiteindelik is hy klaar gerook, jy ook, en hy sal dan die semi-final touches met die masjientjie aan jou haar-ente aanbring. Nou het hy so ’n snaakse lem, amper soos ’n flick-knife uit die laai gehaal, in sulke wit gedettolde water gedoop en nader gestaan het soos ’n tandarts met ’n spuitnaald. Hierdie lem word dan met groot behendigheid oor ’n stuk leer, wat hier neffens die stoel vasgebind is, geslyp. Hy sou dan so nou en dan oor die lem vryf met sy duim. As hy dan tevrede is, sal hy ’n klein stukkie watte neem, dit in dieselfde gedettolde water druk en dit dan al langs jou haarlyn in jou nek en agter jou ore smeer. Die gebruikte stukkie watte word dan met ’n geoefende hand doer in die snippermandjie in die hoek gegooi. Dis eers dan dat jy besef wat die stukkies watte daar op die vloer maak wat jy vroeër die middag daar gesien het. Jou kop word dan eers dié kant en dáárdie kant gedruk sodat hy met vinnige en presiese hale die onnodige haartjies kan afskraap met die onooglike lem. Dan sou hy vra of jy brylcream aan jou hare gesmeer wil hê, jy sou nee sê en dan het hy in elk geval so ’n tipe van ’n lekkerruik waterstof oor jou kop gespuit uit so ’n bolvormige vlekvrye staal houer. Die meganiek van die kontrepsie was so ’n rubber pompballetjie wat met ’n rubberpypie aan die houer verbind was. Dit was so ’n funny gevoel wat deur jou gegaan het as hy die goed gespuit het. Dan is die lap weer afgehaal, uitgeskud en jou nek afgevee met die lap wat vol hare is. Jy sou dan afklim, hom hartlik bedank, betaal, sy hand skud, die ander mense groet en die vertrek verlaat. Maar net voordat jy die vertrek verlaat, sou jy probeer om die hare in jou nek en orals af te skud en af te vee met jou sakdoek. Dan eers, was jy reg vir die buite wêreld. Soos ’n nuwe sikspens!
Alles het min of meer ook so verloop by oom Skip van Dyk, die ander haarsnyer. Hy was ’n visserman en dit kon jy geraai het as jy sy plek binnegestap het. Aan die mure het groot oopbek haai koppe met die allervreeslikste saagtande gepryk. As jy self ’n visserman was, sou jy en oom Skip dwarsdeur die haarsny sessie gesels het maar as jy net ’n gewone ou soos ek was, het hy nie veel gepraat nie. Rokery was daar nie van sy kant af nie, maar koffie drink wel. Hy het vinniger as oom Fanie gesny maar die vrae aan die einde was dieselfde. Brylcream? En dan nou die spuitery. Die dag toe oom Skip sy prys lig na een rand per kop, wou van die manne by hom weet of hy nou gierig begin raak het, ander wou weet of sy katrolle opgepak het.
Daar was ook ’n Brink kêrel wat daar in Porter straat hare gesny het, maar vir die een of ander rede het ek nooit die voorreg gehad om daar te gaan sny nie.
Die ander haarsnyer van Worcester wat ’n indruk op my gelaat het, was oom Cassie Carstens. Nou kyk, híér was vir jou nou ’n trotse haarsnyer. Hy het ’n swart bos hare gehad, mind you, net soos myne destyds, en dan het hy altyd met die opklim slag en die doek aansit episode te vertelle gehad dat hulle in die haarsnyskool altyd op swart koppe hul praktiese eksamen afgelê het. Jy kon die foute dan makliker sien, het hy gesê. Hy het nooit gesê wie die proefkonyne nou was nie. Maar hierdie storie van die swart koppe moes ek elke keer hoor, al was ek die vorige maand ook daar.
Oom Cassie se gewoontes was min of meer dieselfde as die ander snyers s’n behalwe dat syne ook ’n geurtjie by gehad het. Want sien, oom Cassie het sy koffie afgewissel met ’n drankie óf hy het dalk die drankie by die koffie gegooi – polisiekoffie! So, terwyl hy nou die lap om jou bolyf draai en begin vertel van die swart koppe, dan kon jy so ligweg ruik dat hy so ’n ietsie in het. En jy kon dit ook hoor. Praat sonder ophou, kliphard en so nou en dan het daar ’n geaborteerde woordjie uitgeglip. Afhangende van die tyd van die dag, ook soms ’n hik. Ekskuusj! Maar wag, laat ek vertel van dié dag. Die dag toe oom WAF daar aangekom het, ook om te sny.
Toe ek nou klaar was, vra oom WAF (sy voorletters) vir my of ek nie daar wil vertoef terwyl oom Cassie met hom besig is nie, dan kan ons sommer nog oor so ’n paar goed gesels wat ons nou nie deur die week kon klaar gesels het nie. Ek sê dis goed en neem sommer plaas in sy stoel, reg agter hom waar hy nou op die groot stoel sit. Terwyl oom Cassie nou die lap om oom WAF se bolyf draai, vra hy wat oom Cassie is aan oom WAF wie die lelike hap in sy kop gesny het. Oom WAF was nie ’n man wat jy moes skrik gemaak het met allerhande nonsens nie en met hierdie hangende vraag in die lug, vlie hy wat oom WAF is, skuins om in sy stoel sodat hy vir oom Cassie meer direk in die gesig kan kyk en nie deur middel van die groot spieël daar voor hom nie. Hy vra vir oom Cassie: “Meneer Carstens, wat praat jy nou van ’n hap in my kop?” “Nee,” sê oom Cassie. “ Ek sien jy het ’n yslike hap in jou kop, waar het jy jou so laat verongeluk…?” Oom WAF was ook ’n deeglike man en hy rek sy nek om my beter in die spieël te sien en wou by my weet of ek die hap kan sien. Ek het die probleem lank sien kom maar ek moes toe maar gelyk gee. “Ja, oom WAF, daar ís ’n hap aan jou kop,” sê ek. Oom WAF kyk vir oom Cassie in die spieël en sê op sy kenmerkende afgemete styl: “Nou luister jy mooi vir my, meneer Carstens, ek koop my groceries by Pick ’n Pay, ek gooi my petrol in by Frank Vos garage en my donnerse hare laat ek net by een man sny en dis by jou!” Oom Cassie vat ’n haastige sluk uit sy koffiebeker en wou nog iets sê, maar oom WAF is te vinnig vir hom. “So, meneer Carstens, as daar ’n hap aan my kop is, het jy dit daar gesny!” Oom Cassie het nie onmiddellik woorde, vra om verskoning en sê dat hy die foutjie sal regmaak. Hy sê dat hulle eintlik geleer het op gryskoppe tydens sy praktiese eksamens aan die haarsnyer skool. Oom WAF laat hom mooi verstaan dat hy nie omgee waar hy wat geleer het nie, hy soek sy hare reg! Oom Cassie vat weer ’n lang sluk uit die beker en begin om sy fout van passeerde keer, reg te maak. Of liewer, hy probeer, want ek sien so met die tyd saam dat hierdie foutjie nie vandag reggemaak sal kan word nie. Voor my oë sien ek hoe die swartkop-snyer die gryskop se hare vêrder verwoes. Hy sny vir oom WAF, ’n man wat nie hou van square-cuts nie, ’n square-cut. Maar nie een wat square is nie. Nee, hierdie een se lyn loop van links na regs – soos ek nou sit – met so effense helling. Opdraend of afdraend, afhangende van hoe jy daarna kyk. En ek weet…hier kom vandag groot mirakels. Intussen gesels oom Cassie land en sand oor alles en nog wat terwyl hy kort-kort ’n sip vat aan die beker wat, so lyk dit vir my, nie sommer leeg raak nie. En hy knip en sny.
Toe hy uiteindelik klaar is en net voor oom WAF afklim, vra hy wat oom WAF is, vir my: “Is die hap nou reg?” Wat kon ek sê? Hy het my nie gevra hóé sy hare nou na dese lyk nie. En ek se: “Die hap is weg oom WAF.”
Met my aankoms in die Paarl en vir jare daarna, was daar net een manlike haarsnyer wat die mans se hare gesny het, die ander was dameshaarkappers wat ook die mans se hare gesny het. Ek het nooit by die dames laat sny nie, want alhoewel ek hulle geselskap bo die van oom Smittie Nel verkies het, was ek te verslaaf aan die komieklike skerp lem en die sproei oor my kop. Die vrouens het nie hierdie apparate gehad nie. En ’n vrou met ’n lem in haar hand en boonop baie naby jou keel, was ook nie vir my nie, dankie.
Oom Smittie was stadig, het nie baie gepraat nie, het nie gerook in die vertrek nie en het ook nie buitenstyd koffie gedrink nie. Jy kon sien dat hy die vorige nag ietsie geneem het, dit partymaal ook geruik het, maar hy was deeglik. Hy sou my elke keer vra waar ek werk – maand na maand. Al het ek vir amper dertig jaar vir dieselfde werkgewer gewerk. Soms sou hy my sommer ’n ander werk gee. “Jy werk mos by die hawe nè…?” of “Doen jy nog karweiwerk?” Toe ek later die kafee gehad het, sou hy een keer sê-vra: “Jy werk mos nog by Checkers?” Dit het ook anders daar uitgesien by oom Smittie. Sy vrou, Nora, was elke dag aan sy sy. Dit was haar taak om jou te verwelkom en jou naam op die swartbord met ’n stuk wit kryt af te tiek. Want sien, by oom Smittie moes jy ’n afspraak gemaak het vir hare sny. As jy jou beurt afgewag het soos by die dokter, al het jy ’n afspraak, sou tannie Nora met jou ’n geselsie aanknoop. Praat sommer so oor haar kinders, die klein kinders en jou kinders. Sy sou ook die vloer skoon vee na elke klant klaar was en sommer vinnig vir oom Smittie ’n bietjie tee aangebied het. Maar dit het nie ingemeng met die snyery nie, o nee! Terwyl jy dan nou daar sit op die hoë stoel het jy na die prentjie hier voor jou gekyk. Daar was altyd advertensies van allerlei aard teen die spieëls en langs die kante opgeplak: Iemand wat veiligheids hekke vervaardig, ’n ander een wat ’n tweedehandse grasmasjien te koop aanbied, iemand wat werk soek, ’n parkiet wat kan praat, ’n saamrygeleentheid na die Kaap, ensovoorts. Dan was daar ook die fisiese goed wat te koop aangebied word: ’n Kis met gereedskap, tennis rakette, ’n swingball, Creepy Crawly, rugby stewels, handdoeke, grimeermiddels en dan die gewone goed wat omtrent in elke mans haarsny plek te koop aangebied word. Staalkamme (maar ek reken daarvoor moet jy lang kouse by ’n kortbroek safaripak dra), brylcream, skeerseep, goedkoop lemmetjies en speelkaarte. Soms ook goed wat jou kwansuis kon aanhelp in die bed.
En dan, net voor oom Smittie begin sny, sou hy vra: “Square..?” Sy hande het vreeslik gebewe maar hy sou nie ’n skêr of masjien verkeerd sit nie. Ek dink hy was ook versiende want sy kop was so naby aan jou hare dat jy sy warm asem in jou nek gevoel het. En hy het ook die skêr die lug laat inklim en iewers daarbo ’n paar denkbeeldige hare geknip-knip-knip. En elke keer aan die einde van die snyery sou hy vra: “Snor…?” Nou kyk, die enigste mense wat aan my snor vat, is ekself en miskien my vrou, so my antwoord was altyd negatief. Nie dat ek nou ’n welige weglê-snor het nie, maar ’n man het darem sy trots! So het die ritueel met oom Smittie dan verloop, maand na maand en jaar na jaar. Tot jy een oggend daar kom en daar is niemand om jou te verwelkom nie. Of om jou naam af te tiek op die swartbord nie. Nora is een nag weg. Kanker. En jy kan sien oom Smittie is nie meer dieselfde nie. Hy praat nie baie nie…sy haarsny-lus is weg. Net voor jou volgende haarsny, lees jy een môre vroeg in die Paarl Post van die “alombekende oom Smit Nel” wat die vorige naweek net skielik dood is. “So kort na sy vrou se afsterwe,” lui die berig onder andere.
Al die haarsnyers wat ek geken en my hare by laat sny het, is al oorlede. En dit lyk nie of daar nuwes bygekom het nie. Die swartkoppe het ook intussen bleskoppe geraak en hulle sny nou self hul hare.
© Johann H Claassen 2011

Advertisements

Post Navigation