johannclaassen

Ek skryf (gewoonlik) soos dit is…

Archive for the category “james”

Die Verbintenis tussen my Kleindogters Allana BRINK en Guenevere Olivia CLAASSEN met EVA (KROTOA)

Eva, ook genoem Krotoa, is gebore omstreeks 1642 in Kaapstad. Sy was lid van die Goringhaikona stam wat uit ongeveer 50 lede bestaan het. Haar oom Harry die Strandloper, ook genoem Autschamao, was hoof van die stam.

Van ongeveer 11 jarige ouderdom het Eva deel geword van die Van Riebeeck huishouding waar sy gehelp het as oppasser van die Van Riebeeck kinders. Sy het die Hollandse taal gou bemeester en het sy veral as tolk opgetree tussen die Kompanjie amptenare en die Hottentotte. Later het sy ook die Portugese taal bemeester.

Sy is deur Maria Van Riebeeck opgevoed in die christelike geloof en Europese waardes wat tot gevolg gehad het dat haar stamlede haar beskou het as ‘n verraaier. Hoewel sy nog van tyd tot tyd die stam besoek het, was die verhouding tussen haar en haar familie nie meer wat dit was nie.

Eva is op 3 Mei 1662 gedoop in die Fort en was die eerste hottentot wat die christelike geloof aangeneem het. Ds Pieter Sibbelius het die doop waargeneem. Roelof de Mann en Pieter Van Stael was die getuies.

Op 26 April 1664 het sy tydens ‘n private geselligheid in die huwelik getree met Pieter Van Meerhof, ‘n dokter en avonturier. Hulle ontvang 50 riksdaalders van die Kompanjie as bruidskat. Die twee van hulle het baie aandag getrek en Eva was beskryf as “een fraei, nuchter borst van aansien” Op 2 Junie 1664 was die huwelik ook in die Kerk voltrek. Sy word hiermee ook die eerste Hottentot om te trou volgens die Westerse gebruike.

In Mei 1665 word Van Meerhof aangestel as Superintendent/Poshouer van Robbeneiland. Dit was ‘n verantwoordelike pos, maar dit het Eva nie geval nie. Sy was te gewoond aan die besige lewe aan die Kasteel en sy het nie meer kontak met haar vriendinne gehad nie. Die eensaamheid het haar dikwels gedryf na die misbruik van sterk drank.

Aan die begin van 1668 het Van Meerhof vertrek op ‘n ekspedisie na Madagaskar om slawe te werf, maar hy is vermoor deur die inwoners van daardie Eiland op 27 Februarie 1668.

Sy en haar kinders keer op 30 September 1668 terug na Kaapstad, maar verval daar totaal in ‘n toestand van dranksugtigheid en prostitusie. Sy word op 26 Maart 1669 na Robbeneiland verban en haar kinders in pleegsorg geplaas. Sy keer ‘n paar keer terug na die Kaap, maar word telkens weer verban na Robbeneiland. In Mei 1673 word sy nogtans toegelaat om ‘n kind te doop. Haar vyf kinders was:

Jacobus * c. 1661 en oorlede 1685 aan boord van ‘n skip wat oppad was van Mauritius na Kaapstad.

Pieternella * c. 1663

Salamon * c. 1666

Jeronimus ~ 23 November 1670

Anthonij ~ 6 Augustus 1673

Eva sterf op 29 Julie 1674 en word begrawe in die Kerk binne die Kasteel. Sy kan tereg as die stammoeder van baie Afrikaner-families beskou word en in die volgende paragrawe sal ek aantoon op watter wyse sy aan my kleindogters verbind word.

Petronella VAN MEERHOF, ook genoem Pieternella van die Kaap, en haar broer Salamon, is aangeneem deur Barthalomias BORNS en hulle word deur hom en sy vrou in 1677 saamgeneem na Mauritius. Daar trou sy op 13 Oktober 1677 met Daniël ZAAIMAN en word derhalwe die stammoeder van die ZAAIMAN/ZAAYMAN/SAAIMAN/SAAYMAN familie van Suid-Afrika. Petronella sterf aan pokke in 1714 op 50 jarige ouderdom. Daniël ZAAIMAN * c. 1650 te Vlissingen, Nederland, begin met sy vryburger kontrak van 15 jaar vir die VOC op die buitepos Mauritius. Hy werk as skeep navigator, kuiper en timmerman. Hy keer terug na die Kaap en arriveer 26 Januarie 1709. Hy koop die plasie Patrijsen Valleij in 1710. Hy sterf aan pokke in 1714 op 64 jarige ouderdom.

Uit hierdie huwelik word agt kinders gebore onder wie Magdalena ZAAYMAN * c. 1680. Sy trou in 1697 met Johannes BOCKELENBERG *1668 seun van Daniël BOCKELENBERG en Elizabeth LORET, beide van Bockelberg, Kolberg, Duitsland.

Johannes en Magdalena se dogter, Susanna BOCKELENBERG *1703 trou op 15 Junie 1721 met Gerrit Victor * c. 1695, seun van Cornelis VICTOR en kleinseun van Gerrit VICTOR, die stamvader van die VICTOR familie in Suid-Afrika en Cornelia Jacoba JUNIUS. Uit hierdie huwelik word 8 kinders gebore onder wie Jacobus Adriaan Victor * c. 1723.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 23 Desember 1759 met Sara Maria KOEKEMOER dogter van Jochem KOEKEMOER en Maria PUTTER. Uit hierdie huwelik word 6 kinders gebore onder wie Jacobus Adriaan VICTOR.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 10 September 1797 met Susanna Magdalena VILJOEN dogter van Albertus VILJOEN en Johann Elizabeth GRIESEL. Uit hierdie huwelik word 10 kinders gebore waaronder Johanna Elizabeth VICTOR @ Frederika Elizabeth VICTOR * c. 1798.

Johanna Elizabeth @ Frederika Elizabeth VICTOR trou op 7 September 1817 met haar neef Zacharias Hendrikus VIKTOR * 1793 en seun van Joachim Jan Hendrik VICTOR en Zacharia Cornelia VAN ASWEGEN. Uit hierdie huwelik word 4 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICKTOR * 23 September 1821.

Jacobus Adriaan VICKTOR trou met Susanna Magdalena KRUGER. Uit hierdie huwelik word 3 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICTOR * Mei 1857.

Jacobus Adriaan VICTOR trou met Aletta Hendrina BOTHMA en sewe kinders word uit hierdie huwelik gebore waaronder Jacob VICTOR * 7 Augustus 1888.

Jacob VICTOR trou met Anna Susanna Maria BOTES * c. 29 Januarie 1887, dogter van Frederik Hendrik BOTES en Anna Susanna Maria SNYDERS. Uit hierdie huwelik word 5 kinders gebore waaronder Jacobus Adriaan VICTOR * 24 Augustus 1923.

Jacobus Adriaan VICTOR trou op 30 November 1949 te Kaapstad met Olive Grace JAMES * 9 Desember 1925. Uit hierdie huwelik word 4 kinders gebore waaronder Estelle VICTOR * 11 Augustus 1956 te Parow.

Estelle VICTOR trou op 12 Augustus 1978 met Johannes Henry CLAASSEN * 15 September 1954 te Oudtshoorn en seun van Petrus Johannes CLAASSEN en Mona Marjorie WATERSON. Uit hierdie huwelik word drie kinders gebore.

Olive Margorie CLAASSEN * 14 September 1981 te Worcester

Petrus Johannes CLAASSEN * 19 AUGUSTUS 1983 te Worcester

Loreen CLAASSEN * 27 November 1987 te Worcester

Die dogter van Olive CLAASSEN en Robert BRINK *20 Julie 1975, seun van Cornelis Mattheus BRINK en Etrecia Doulina BIANCO is Allana BRINK * 6 September 2007.

Die dogter van Petrus Johannes CLAASSEN en Johanna Catharina Louisa McHALE *13 April 1980 dogter van Keith McHALE en Johanna Catharina OBERHOLZER is Guenevere Olivia CLAASSEN * 6 Januarie 2010.

Hierdie genealogiese uiteensetting is gedoen deur Johannes Henry CLAASSEN op 11 September 2010 te Paarl.

Verdere kennis oor Petronella Zaaiman(née van Meerhof) kan opgedoen word deur die boeke van Dr. Dan Sleigh en Dalene Matthee onderskeidelik met die titels, Eilande en Pieternella van die Kaap, te lees.

* = gebore

~ = gedoop

Post Navigation